SuperSport Schools Plus

Pretorius, Jansen van Rensburg leer Heidelberg Volkies ‘n krieketles

By Franco Oberholzer , in Cricket | Featured Cricket | News , at 2025-02-03 Tags: , , , , ,

Dr. Malan se Luka Pretorius in aksie. FOTO: Kamryn Ashwin

Hoërskool Dr. Malan se Luca Pretorius en Heinrich Jansen van Rensburg het die span van Meyerton gehelp om vir Heidelberg Volkskool ‘n loesing toe te dien in hul stryd in die D-afdeling van die Finsbury-reeks.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

Pretorius, straks Dokkies se beste kolwer, het sy reputasie gestand gedoen met ‘n skitterbeurt van 122. Hy het gekapitaliseer op die fondasie wat aanvangskolwer, Jacques Nel, gelê het met 52 in sy vennootskap van 89 lopies met Pretorius.

Laasgenoemde was in ‘n liga van sy eie in die 127 balle wat hy trotseer het. Hy het 16 grenshoue, waarvan sewe anderkant die tou geland het, gemoker, voordat Jaco Botha (2/46) uiteindelik daarin kon slaag om van hom ontslae te raak.

Die Volkies se aanvangsbouler en kaptein, Dave Pelzer, het uitgeblink met die bal om sy toegelate 10 beurte met syfers van 3/32 af te sluit.

Jansen van Rensburg, wat self ‘n skaflike 23 met die kolf aangeteken het, het daarna die kollig gesteel met sy boulvertoning. Die veelsydige naatbouler het die Volkie-kolflys verwoes. Dit het hom slegs ses beurte geneem om ses paaltjies te laat spat, terwyl hy slegs 25 lopies afgestaan het.

Dandré Louw was die enigste Volkies-kolwer wat die 20-merk kon verbysteek. Hy het dit in styl vermag deur 53 lopies van 40 balle te moker. Ongelukkig kon die res van die kolwers gesamentlik net 46 lopies byvoeg, wat ‘n reuse nederlaag met 183 lopies tot gevolg gehad het.

Die kragmeting tussen Hoërskool Ben Vorster en HTS Middelburg in Tzaneen het ‘n behoorlike naelbytstryd afgegee.

Die Black Caps se kaptein, Njabulo Maseko, was sy ou self met die kolf om die Tzaneeners se kolfbeurt te lei met ‘n beurt van 81 lopies. Hy is goed bygestaan deur jongeling, Wilhelm Brummer (42), om die tuisspan tot ‘n totaal van 201 aan te help.

Die Black Caps se boulers, insluitende Maseko (2/34,) het gespook om die telling te verdedig, maar Armand Kotze en Jaden Knoessen het ander idees gehad. Kotze het besit geneem van die kolfkampie om die jaagtog te lei met ‘n onoorwonne 79 lopies. Knoessen se bydrae van 45 was uiteindelik die deurslagewende faktor vir die besoekers van Middelburg, om ‘n naelskraapse sege met twee paaltjies te beklink.

Beknopte telkaarte:

Dr. Malan 282/8 (Luka Pretorius 122, Jacques Nel 52, Qihan Swanepoel 24, Heinrich Jansen van Rensburg 23; Dave Pelzer 3/32, Jaco Botha 2/46); Heidelberg Volkskool 99 (Dandre Louw 53; Heinrich Jansen van Rensburg 6/25). Dr. Malan wen met 183 lopies.

Ben Vorster 201 (Njabulo Maseko 81, Wilhelm Brummer 42, Ekstras 38; Henco Britz 2/28); HTS Middelburg 203/8 (Armand Kotze 79*, Jaden Knoessen 45, Altus van Heerden 30*, Ekstras 24; Njabulo Maseko 2/34, Kulani Mnisi 2/37). HTS Middelburg wen met twee paaltjies.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.