Oranje-netbalmeisies – hul eie dryfveer tot sukses
Albei skole is deurgaans onder die top netbalskole in die land, maar Oranje Meisieskool het die voorsprong bo Waterkloof gehad en die naweek hul eerste interskole teen Klofies gewen.
Die 2023-interskole is aan hand en beloof opwindende wedstryde tussen van die land se top sportskole en van die beste netbalbepalings vir die seisoen kan weer verwag word.
Die interskole tussen die twee skole is ‘n nuwe inisiatief wat begin het en nog ‘n geleentheid bied om wedstryde te skep.
Oranje het Waterkloof op hul tuisveld aangedurf nadat die besoekers reeds ‘n voorsmakie van oorwinning teen hul mededingers gehad het toe hul Klofies met 36-18 by die La Rochelle-sportnaweek oor Paasnaweek gewen het.
Oranje was egter weereens die naweek onoorwonne met ‘n telling van 25-22.
“Dit was glad nie ‘n maklike wedstryd nie en albei spanne het hul A-game gebring. Om teen ‘n skool soos Waterkloof te wen beteken baie en bou selfvertroue vir die res van die seisoen,” sê Corne Marais, een van die afrigters van Oranje.
Volgens Marais het hulle nie ’n spesifieke spelpatroon of voorbereiding vir die wedstryde gehad nie, en poog hulle om dieselfde spelpatroon deurlopend te volg.
“Ons het ongelooflike gesonde kompetisie onder ons meisies wat mekaar tot sukses druk. Ons het ‘n span wat baie hard werk en inkoop by ons sportplanne. Hulle is die rede vir ons sukses en mekaar se grootste ondersteuners!”
Marais sê dis moeilik om een spesifieke speler uit te sonder, omdat netbal ‘n spansport is en elke speler dra individueel by tot ‘n wen, maar Mariaan Louw, ‘n graad 10-leerder van die skool en een van die jongste spelers in die span, het net weer bewys hoekom sy haar posisie op die aanvallende vleuel verdien.
Uitslae van die interskole tussen Oranje en Waterkloof:
o.19A – Oranje 25, Waterkloof 22
o.17A – Oranje 19, Waterkloof 16
o.16A – Oranje 28, Waterkloof 10
o.15A – Oranje 20, Waterkloof 13
o.14A – Oranje 13, Waterkloof 11