Oranje behoort vierde agtereenvolgende Vrystaatbeker in te palm

Oranje Meisieskool van Bloemfontein se eerste netbalspan sal nie sommer Saterdag gestuit word in opmars na hul vierde agtereenvolgende Vrystaatbeker-titel nie.
Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com).
Die Motheo-kampioen het nog elke jaar sedert 2007 met die titel as kampioen van die Vrystaatbeker weggestap. Die Hoërskool Sentraal was van 2007 tot en met 2018 die kampioen, terwyl Oranje in 2019, 2022 en 2023 die kroon gedra het.
Die Tralies het vanjaar vir die eerste keer in dekades nie tot die eindstryd van die Motheo-liga deurgedring nie. Oranje het vir Jim Fouché in die Motheo-eindstryd met 32-23 redelik gemaklik verslaan.
Die voorste vier spanne in die Vrystaat sal ook later vanjaar in Roodepoort in die nasionale DStv Schools Challenge in aksie wees. Die nasionale toernooi vind van 11 tot 13 Julie op die bane van die Hoërskool Florida plaas.
Oranje is saam met Wilgerivier van Frankfort, Landboudal van Jacobsdal, Monwabisi, Teto en Witteberg van Bethlehem in Groep I geloot. Wilgerivier was die laaste span van buite die Rosestad wat die Vrystaatbeker omhoog kon hou. Die span het in 2006 die kroon gedra.
Wilgerivier het ook tussen 1993 en 1998 vir ses jaar sake in die kompetisie oorheers.
In Groep II behoort Jim Fouché die vroeë gunsteling te wees, hoewel die Tralies alles in die stryd sal werp om die bordjies teen sy aartsvyand te verhang. JF was redelik gemaklik baas met 38-21 in die FNB Classic Clash tussen die twee skole. Dié kragmeting was ook deel van die Wesgrow-reeks.
Die Tralies het egter twee dae later veel beter gevaar en slegs met 25-29 die knie teen Jim Fouché in die halfeindronde van die Motheo-liga gebuig.
Voortrekker van Bethlehem sal ook in sy kanse om tot die uitspeelrondes deur te dring glo. Die Trekkers het vir Witteberg in hul jaarlikse FNB Classic Clash met 52-34 die loef afgesteek.
Buiten dié drie spanne sal Hoërskool Trio van Kroonstad en Welkom Gimnasium ook in aksie in Groep II wees.
Die bepalings
Groep I | Batho
Baan I – 08:30 – Wilgerivier vs Witteberg; 09:50 – Oranje vs Monwabisi; 11:10 – Landboudal vs Oranje; 12:30 – Teto vs Landboudal; 13:50 – Witteberg vs Teto.
Baan II – 08:30 – Teto vs Oranje; 09:50 – Witteberg vs Landboudal; 11:10 – Wilgerivier vs Teto; 12:30 – Oranje vs Witteberg; 13:50 – Landoudal vs Wilgerivier.
Groep II | Batho
Baan III – 08:30 – Hoërskool Trio vs Voortrekker; 09:50 – Jim Fouché vs Hoërskool Trio; 11:10 – Sentraal vs Jim Fouché; 12:30 – Welkom Gimnasium vs Sentraal; 13:50 – Voortrekker vs Welkom Gimnasium.
Baan IV – 08:30 – Welkom Gimnasium vs Jim Fouché; 09:50 – Voortrekker vs Sentraal; 11:10 – Hoërskool Trio vs Welkom Gimnasium; 12:30 – Jim Fouché vs Voortrekker; 13:50 – Sentraal vs Hoërskool Trio.