Oos-Moot behou onoorwonne status in Skild, terwyl Ligbron baas is van die Liggies
Oos-Moot is na sy sege van 24-17 oor Eldoraigne in die Skild-kompetisie van die Noordvaaltrofee die enigste onoorwonne span in die liga oor.
Die span vanuit die Moot het wel in twee van sy wedstryd gelykop gespeel en dit is ook ‘n teken dat daar nie veel tussen die voorste spanne in die Skild-kompetisie is nie.
Die laaste twee rondes groepwedstryde sal bepaal wie mekaar in die halfeinronde sal pak.
Oos-Moot reis hierdie week na Klerksdorp om die Hoërskool Klerksdorp die stryd aan te se, terwyl die span ook nog teen Jeugland moet kragte meet.
Die span van die Moot se skrumskakel, Jacques Benadie, het die spel goed van agter die oond beheer. Sy skakelmaat, Charl van der Sluys, was met sy skopskoen waarskynlik die verskil tussen die twee spanne op die dag.
Voorlangs het die loskopstut, Braam Bezuidenhout, elke keer oor die voordeellyn gekom wanneer hy die bal onder die arm vasgeknyp het. Die flank Duvan du Plessis het deurgans hard gewerk, terwyl die haker, Ryan Scott, ook goeie werk by die afbreekpunte verrig het.
Scott het ook op verdediging sy hand opgesteek en was vir sy span in hierdie aspek goud werd.
In die Stryd van die Liggies, het die Ligbron Akademie op sy tuisveld in Ermelo vir die Hoërskool Lichtenburg met 20-12 met die kous oor die kop huis toe gestuur.
Ligbron se agttal het hom uitstekend van sy taak gekwyt om die besoekers se groot pak voorspelers in toom te hou. Agterlangs het sy binnesenter, Kyle Alves, uitstekende werk op verdediging uitgerig, terwyl hy ook op die aanval ‘n doring in Lichtenburg se vlees was.
Puntemakers:
Oos-Moot 24 (10) – Drieë: Carlu Janse van Rensburg, Duvan du Plessis, Gert-Hendrik Grobler. Doelskoppe: Charl van der Sluys (3). Strafdoel: Van der Sluys. Eldoraigne 17 (3) – Drieë: Willie Diffenthal, Jarred Prinsloo. Doelskoppe: Shane Olivier (2). Strafdoel: Olivier.
Ligbron Akademie 20 (10) – Drieë: Jean-Dre Goslin, Sithelo Zikhali, Khaya Mahlangu. Doelskop: Ruan Matthee. Strafdoel: Matthee. Lichtenburg 12 (7) – Drieë: Johandre van der Walt, Erich Snyman. Doelskop: Snyman.
Ander spanne:
o.16: Eldoraigne 9, Oos-Moot 0; Ligbron 22, Lichtenburg 22.
o.15: Eldoraigne 33, Oos-Moot 7; Lichtenburg 13, Ligbron 10.
o.14: Eldoraigne 21, Oos-Moot 7; Ligbron 71, Lichtenburg 0.