NWU Prestige-reeks se uitspeelrondes ‘n goeie toetslopie vir wat in Virseker Noordvaal Cup wag

Hoewel hulle nie meer in die wedloop om met vanjaar se titel van die NWU se Prestige-reeks weg te stap nie, is daar steeds baie op die spel vir Marais Viljoen, Hoërskool Klerksdorp, Wagpos, Hoërskool Pietersburg, Lichtenburg en Potchefstroom Volkskool.
Nie net sal dit gaan oor watter posisie hulle in die NWU Prestige-reeks sal beklee nie, maar dit sal ook as voorbereiding vir die opkomende Virseker Noordvaal Cup dien.
Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Vir Marais Viljoen sal dit belangrik wees om hul strukture sover moontlik in plek te kry. Die span van Alberton draf Saterdag om 14:40 teen ’n gedugte Hoërskool Klerksdorp in Brakpan uit. Klerksdorp het ’n groot kontingent van sy spelskeppers behou, wat van hom een van die topspanne in die Noordvaal-reeks gedurende 2025 gemaak het.
Name soos spoedvraat Tyron Masangu, heelagter Jayden Turner, asook generaal en losskakel Brendin Mathyse, sal al drie weer met ’n valkoog dopgehou moet word.
Mathyse het in 2025 van heelagter na losskakel geskuif, waar hy hom sedertdien tuisgemaak het. In die span van Alberton is hul heelagter, Kabelo Thloaele, weer terug om dié span se aanval te lei. Thloaele het vir homself naam gemaak op vleuel, maar sy skuif na heelagter is ’n taktiese nagmerrie vir teenstanders aangesien sy teenaanvalle van enige plek op die veld geloods kan word.
In hul pak voorspelers sal Dean Scheepers die vuur aansteek. Scheepers, wat op slot uitdraf, is woelig en dien gereeld as ’n ekstra losvoorspeler.
Die span van Klerksdorp het egter nóg ’n Koen wat vanjaar teenstanders sal terroriseer. Gerrit Koen neem ouboet, Tiaan Koen se plek op agtsteman in. Tiaan het in 2025 die span van Noordwes aangevoer en, nes die moontlikheid vir Gerrit bestaan, twee jaar vir dié span uitgedraf.
Hoërskool Pietersburg se naelskraapse nederlaag van 10-12 teen die Heidelberg Volkies beteken dat hy vir Hoërskool Wagpos van Brits moet aanpak. Wagpos het met 29-17 die aftog teen Wesvalia geblaas, maar blyk onder die vlerk van nuwe rugbybaas, Christo van Niekerk, ’n span te wees wat nie sonder handskoene aangepak moet word nie.
Boonop sit die span van Polokwane sonder die dienste van staatmaker agtsteman, Henco Venter.
Venter sal vir nog ’n hele ruk, weens ’n ernstige kniebesering, op die krukkelys wees. Hy word deur Liam van der Bank agter die skrum vervang. Die boodskap aan albei spanne se pakke sal wees om die oorhand te bewerkstellig, aangesien die tweestryd tussen dié se losskakels waarskynlik die pas van die stryd sal aangee.
Raymond Language se kanonvoet en taktiese skopwerk, in antwoord op die Pieties se gesoute Juan Randall en sy hoogstaande besluitneming, sal ’n fees vir die oog wees.
Die Bowl-kampioen van 2025 in die Noordvaal-reeks, Potchefstroom Volkskool, sal vir Hoërskool Lichtenburg se Rea Motsusi en sy fyn aanvoeling en vernuf om 14:50 in Springs moet trotseer. Motsusi, ook deel van die Luiperds se Cravenweek-span verlede jaar, draf agter ’n gedugte pak uit. Hy het onder meer vir vaskopstut, David Passetti, en slot George Bingudza, wat ook vir ’n tweede jaar vir die Liggies uitdraf, wat die vuur voorlangs sal aansteek.
Volkies beskik egter oor hul eie gevare. Hul senterpaar, River Samual en Lethabo Riet, was twee van die hoekstene van die span se Noordvaal-sukses. Dié se vernuf op die aanval sal ongetwyfeld hoofbrekens vir die Lichtenburgers besorg.
Die spanne is:
Marais Viljoen t. Hoërskool Klerksdorp om 14:40 in Brakpan:
Marais Viljoen: 15 Kabelo Thloaele, 14 Eldrique Adams, 13 Cayden Scheepers, 12 Danté Crous, 11 Nqoba Mathe, 10 Jared Mentz, 9 Peter Chihobo, 8 Joshua O’Brein, 7 Kiano Theron, 6 Thato Mapuru, 5 Ukona Mahlehlo, 4 Dean Scheepers, 3 Ondi Njili, 2 Frikkie Horn, 1 Caden Sheasby.
Klerksdorp: 15 Jayden Turner, 14 Tyran Masango, 13 Simphiwe Nero, 12 Marco Symmington, 11 Elzeno van Schalkwyk, 10 Brendin Mathyse, 9 Jonathan Ingram, 8 Gerrit Koen, 7 Daniel Schoeman, 6 Karabelo Maseka, 5 Jayden Hills, 4 SG de Klerk, 3 De Waal Coetzer, 2 De Wyk Pretorius, 1 Ricko le Roux.
Hoërskool Pietersburg t. Wagpos om 13:20:
Pietersburg: 15 Ryno Mienie, 14 Armand Venter, 13 Juan Dreyer, 12 Hanru Marais, 11 Basson Wolmarans, 10 Juan Randall, 9 Curtis Cloete, 8 Liam van der Bank, 7 Ignus Ferreira, 6 Andru de Beer, 5 Ludke Pienaar, 4 Brent Vorster, 3 Stephan Janse van Rensburg, 2 Ziahn Lombaard, 1 Dewan Windell.
Wagpos: 15 Franco van Molendorff, 14 Pieter Steenekamp, 13 Ivan du Preez, 12 Divan Theron, 11 Dathan Truter, 10 Raymond Language, 9 Myburgh Henning, 8 Hendrik de Jager, 7 Dilan Strauss, 6 Wian Botha, 5 Anthony Steyn, 4 Divan Vosloo, 3 Kobus Coetzee, 2 Adriaan Venter, 1 MG Hattingh.
Hoërskool Lichtenburg t. Potchefstroom Volkskool om 14:50 in Springs:
Lichtenburg: 15 Karabelo Kgamanyana, 14 Thatu Seabo, 13 WJ Liebenberg, 12 Hanjo Nieuwoudt, 11 Sonwabile Tshonjane, 10 Waylon Savage, 9 Rea Motsusi, 8 Tydaine Williams, 7 Jaco Lotter, 6 Phillip Jacobs, 5 George Bingudza, 4 Muguek Goncalves, 3 David Passetti, 2 Johan Deyzel, 1 Ruben Pretorius.
Potchefstroom Volkskool: 15 Carlo van der Merwe, 14 Luke Davey, 13 Lethabo Riet, 12 River Samual, 11 Christiaan Gouws, 10 Kyle Hattingh, 9 Raynard de Klerk, 8 Johannes Lombard, 7 AJ du Plessis, 6 Wian Victor, 5 Jannie de Wet, 4 Nolan Roets, 3 Michael Rochart, 2 Peet Fourie, 1 Albert Odendaal.





