Nuwe seisoen, nuwe Monnas

Monnas sien vanjaar uit na ‘n splinternuwe hoofstuk in dié rugbyskool se trotse geskiedenis.
‘n Leë doek en nuwe bestuurspan voorspel groot opwinding vir die Wit Bulle van Hoërskool Monument in 2025.
Volg al die Monument-aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die Wit Bulle het einde verlede jaar taamlike opslae in die media gemaak met hul herstrukturering en, meer spesifiek, die aanstellings van oud-Wit Bul, Reinhard Gerber, en die voormalige Springbok-stut, dr. Jannie du Plessis, as die eerste span se afrigters, met die oog daarop om Monnas weer na die kruin van die golf te neem.
Monument het kort daarna ook ‘n vennootskap met die Franse klubspan, Stade Français, gesluit, om sy rugbyprogram verder te ontwikkel en meer geleenthede te skep vir spelers in die toekoms.
Die 2024-seisoen was ‘n moeilike een vir die Wit Bulle en hul getroue ondersteuners, wat onder andere hul grootste nederlaag nóg op die rugbyveld ingesluit het. Die situasie kan vanjaar heel anders daar uitsien met bogenoemde twee rugbybreine wat hulle by die trotse rugbyskool in Krugersdorp aangesluit het.
Du Plessis neem die leisels oor as hoofafriger, terwyl Gerber sy ondersteuning as hulpafrigter bied. Riaan de Jager word ingespan om die Wit Bulle wedstrydfiks te kry in sy hoedanigheid kondisioneringsafrigter, met Morné Venter wat sake agter die skerms behartig as spanbestuurder en dr. Jano de Beer wat as spandokter dien.
Die Wit Bulle kry reeds vroeg vanjaar ‘n kans om dáái reuse nederlaag van verlede seisoen teen Grey Kollege reg te stel. Monnas verwelkom die rugbyreus uit Bloemfontein die 21ste Maart op hul tuisveld, die Ras van Rooyen. Hul seisoen skop egter reeds ‘n week vroeër af met ‘n strawwe wegwedstryd teen Welkom Gimnasium.
Daarna volg die jaarlikse NMI Toyota Noord/Suid-toernooi en Kearnsey Easter Festival. By die Noord/Suid-toernooi, wat vanjaar by Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch aangebied word, kom hulle teen nóg een van die land se groot honde, Paarl Gimnasium, te staan, wat uitstekende voorbereiding sal te bied vir nogmaals ‘n klipharde seisoen wat wag in die Beker-afdeling van die SDC Noordvaal Cup.
Die Wit Bulle het laas in 2022 met die loure as Noordvaal-kampioen weggestap.
Du Plessis en Gerber het vanjaar heelwat talent om mee te werk. Die Wit Bulle beskik steeds oor 11 spelers wat reeds in 2024 vir die eerste span uitgedraf het. Dit sluit Viandré van Loggerenberg en Dean Hartman, wat onderskeidelik vyfde- en derde-generasie Wit Bulle is, in. Vooryman, Juandré Marais, en die blitsige skrumskakel, Evan Berhardi, is ook weer terug in die kraal.
Vir die nuwe afrigtingskorps gaan dit egter oor veel meer as net rugby.
“Ons doelwitte is om alle Monumentare, huidiglik en ‘Old Boys’, trots te maak, en die seuns soveel as moontlik te ontwikkel vir hul pad voorentoe,” het Gerber gesê.
Die nuwe seisoen beloof om alles behalwe vervelig te wees by een van Suid-Afrika se grootste skolerugbykragte.
Bepalings vir 2025:
# | nt_header_1 | nt_header_2 | nt_header_3 | nt_header_4 | nt_header_5 | nt_header_6 |
---|---|---|---|---|---|---|
1 | 15/03/2025 | Monument | Welkom Gimnasium | Welkom | ||
2 | 22/03/2025 | Monument | Grey College | Ras van Rooyen | ||
3 | 28/03/2025 | Monument | Durbanville | Noord/Suid | ||
4 | 31/03/2025 | Monument | Paarl Gimnasium | Noord/Suid | ||
5 | 12/04/2025 | Monument | Jeppe High School for Boys | Johannesburg | ||
6 | 17/04/2025 | Monument | Glenwood | Kearsney Easter Festival | ||
7 | 19/04/2025 | Monument | Durban High School | Kearsney Easter Festival | ||
8 | 21/04/2025 | Monument | Milnerton | Kearsney Easter Festival | ||
9 | 01/05/2025 | Monument | Outeniqua | Wildeklawer | ||
10 | 03/05/2025 | Monument | Paarl Boys' High | Wildeklawer | ||
11 | 10/05/2025 | Monument | EG Jansen | Ras van Rooyen | ||
12 | 24/05/2025 | Monument | Noordheuwel | Krugersdorp | ||
13 | 31/05/2025 | Monument | Helpmekaar | Ras van Rooyen | ||
14 | 07/06/2025 | Monument | Transvalia | Ras van Rooyen | ||
15 | 14/06/2025 | Monument | Hoërskool Nelspruit | Ras van Rooyen | ||
16 | 26/07/2025 | Monument | Garsfontein | Bere Park | ||
17 | 02/08/2025 | Monument | Menlopark | Pretoria | ||
18 | 09/08/2025 | Monument | Hoërskool Rustenburg | Rustenburg | ||
19 | 16/08/2025 | Monument | Waterkloof | Pretoria |
- Five to watch – The centre of attention at the Noord/Suid - 2025-03-27
- 11th North/South Tournament features a Western Cape flavour - 2025-03-27
- Shitlhangu double helps Jeppe win at KES - 2025-03-22