SuperSport Schools Plus

Nories kraai weer koning, máár Wesvalia beïndruk


FOTO: Marius Nortje

Hoërskool Noordheuwel is vir die tweede agtereenvolgende jaar as die NWU Prestige-reeks se kampioen gekroon.

Herleef al die aksie op Supersport Schools. (www.supersportschools.com).

Die span van Krugersdorp moes egter hard spook om uiteindelik, met 15-11, die knoop deur te hak in die eindstryd teen ‘n begeesterde Wesvalia-span.

Die twee pakke voorspelers het mekaar behoorlik opgekeil, met die Nories wat uiteindelik net-net genoeg van ‘n oorhand kon verkry. Die ligbloues het, namate die stryd gevorder het, verál in die skrums hulself laat geld.

Hul kragtige dryfmale het op die ou end ook hul tol geëis, en dit was hoe hulle vir ‘n tweede keer, deur middel van haker, Brendan Naudé, die Wessies se doellyn kon oorsteek.

Noordheuwel se eerste vyfpunter is deur hul drieëvraat op linkervleuel, Lindsay Jansen, gedruk. Jansen moes hoog strek om ‘n steekskoppie deur losskakel, Jeandre Uithaler, uit die lug te pluk. Uithaler het een drie verdoel en ook met ‘n kritieke doelskop geslaag vir sy span om teen rustyd met 15-8 voor te loop.

Die Nories moes egter vir ‘n vale verdedig in die tweede helfte, met die Wessies wat die een aanval na die ander geloods het. Die enigste punte na die omdraaislag was ‘n tweede strafdoel deur die Klerksdorpers se binnesenter, Rickardt van Heerden, wat in die eerste helfte misluk het met die doelskop van oopkantflank, Francois Dumond, se drie.

Hoërskool Marais Viljoen het hul reeks met ‘n puik oorwinning van 37-9 oor Hoërskool Pietersburg afgesluit. Die span van Alberton se agsteman, Rio Tshimbalanga, het die span van Limpopo deurgaans met sy kragtige barslopies geteister, en dit het aan hom ‘n driekuns besorg.

Hoërskool Rustenburg se staatmakers, Christiaan van der Bergh en Lorenzo Snyers, het uitgeblink in die Rusties se sege van 36-10 oor Hoërskool Hugenote (Springs). Albei was uitstekend op die aanval en is met twee drieë elk beloon, terwyl Snyers ook met ‘n strafdoel geslaag het. Dié duo het gesamentlik 23 punte aangeteken.

Hoërskool Lichtenburg het aangedui dat hulle gevaarlik kan wees in die Skild-afdeling van vanjaar se SDC Noordvaal Cup. Die Liggies het hul eweknie in dié afdeling, Hoerskool Jeugland, met ‘n telling van 22-5 verslaan, met vaskopstut, JJ Jonker, en die ervare agtsteman, Abrie Coetzee, wat die Liggies se aanslag gelei en elkeen ‘n drie gedruk het.

Puntemakers: 

Noordheuwel 15 (15) – Drieë: Lindsay Jansen, Brendan Naudé. Doelskop: Jeandre Uithaler. Strafdoel: Uithaler. Wesvalia 11 (8) – Drie: Francois Dumond. Strafdoele: Rickardt van Heerden (2).

Marais Viljoen 37 (17) – Drieë: Rio Tshimbalanga (3), Stefan Basson, Dian Scheepers, Tiaan Joubert. Doelskoppe: Rekkie Gerber (2). Skepskop: Gerber. Pietersburg 9 (6) – Strafdoele: Divan Brown (3).

Rustenburg 36 (24) – Drieë: Christiaan van der Bergh (2), Lorenzo Snyers (2), Jonre Jefthas. Doelskoppe: Jayden Meyer (4). Strafdoel: Snyers. Hugenote (Springs) – 10 (10) – Drie: Luhan Pretorius. Doelskop: Corné Pretorius. Strafdoel: Corné Pretorius.

Lichtenburg 22 – Drieë: JJ Jonker, John Kleynhans, Abrie Coetzee, Willem van Niekerk. Doelskop: Albert Joubert. Jeugland 5.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.