Noordvaal bestuur besin oor die struktuur van hul reeks

Die Noordvaal Skolerugby-vereniging (NVSRV) sal vanaand tydens ‘n vergadering so bietjie poets aan die SDC Noordvaal Cup se struktuur.
“Die struktuur van dié reeks moet dinamies bly. Krag teen krag bly vir ons ongelooflik belangrik. Ons het wel versoeke ontvang en daar is ‘n paar opsies op die tafel. So ons moet maar die politoer uithaal en so bietjie poets aan die struktuur,” het Tinus Diedericks, voorsitter van die NVSRV gesê.
Die huidige struktuur van die kompetisie is sedert 2018 in plek. Dié struktuur is destyds bymekaar gesit om te verseker dat krag teen krag teen mekaar in die onderskeie afdeling sake sal uitspook.
Die twee jaar wat die reeks weens die Covid-pandemie in 2020 en 2021 nie kon plaasvind nie, het sonder twyfel in ‘n impak gehad dat die reeks se model homself regskud.
Boonop het die Hoërskool Waterkloof van Pretoria in 2019 weer tot die reeks toegetree na hy in 2017 daaraan onttrek het. Dit het veroorsaak dat die Beker-afdeling tot nege skole gegroei het.
Daarna was daar ook ‘n twis aan die einde van 2023 waarna daar besluit is dat die Hoërskool Menlopark nie sou afskuif na die Plaat-afdeling nie. Hoërskool Rustenburg het wel opgeskuif wat die Beker-afdeling tot tien spanne vergroot het.
“Ons het versoeke ontvang om die struktuur van die reeks te hersien. Daar is skole wat ‘n magdom kilometers aflê in die reeks, maar ons kan ook nie wegbeweeg van krag teen krag nie. Nie alle skole is dieselfde nie en beskikbare begrotings verskil,” het Diedericks gesê.
Daar is ‘n hele paar opsies op die tafel wat onder andere ‘n opsie insluit waar skole soos voor 2018 eers in hul onderskeie unies sake uitspook asook waar daar in van die afdelings eers in streke meegeding word. Die huidige struktuur is ook steeds op dié tafel.
Die bestuur het terugvoer vanuit al die provinsies ontvang en behoort vanaand ‘n finale besluit te neem. Skole betree binnekort hul begrotingstydperk en die reeks se bepalings van 2025 sal voor dan uiteengesit moet word.
Indien die status quo vir 2025 behou word sal Transvalia van Vanderbijlpark volgende jaar tussen die groot honde van die Beker-afdeling grom. Marais Viljoen van Alberton sal afskuif na die Plaat-afdeling.
In die Plaat-afdeling sal Wesvalia van Klerksdorp die nuweling wees. Wesvalia was in 2022 nog in die Bowl-afdeling in aksie. Montana van Pretoria sal afskuif na die Skild-afdeling.
Piet Retief het ook die afgelope twee jaar gesorg dat hy elke jaar die voorste skool in sy afdeling is. Hy sal dus die nuweling in die Skild-afdeling wees na hy nog in 2022 in Groep II gespeel het.
In die Bowl-afdeling sal daar drie nuwelinge in Dinamika van Alberton, Hoërskool Ermelo en Bergsig Akademie wees. Die drie skole wat sal afskuif na Groep II is Hoërskool Alberton, Dr. Malan van Meyerton en Wagpos van Brits.
- School Rugby Results – 17 May 2025 - 2025-05-17
- SDC Noordvaal Cup Results – 17 Mei 2025 - 2025-05-17
- Affies soek eerste sege in tien jaar teen gewonde Grey Kollege - 2025-05-16