Niks te kies tussen Noordvaal-reuse in Boksburg

BOKSBURG – Na ‘n strawwe stryd in Boksburg is daar steeds nie duidelikheid oor wie van Hoërskool Dr. EG Jansen of Hoërskool Waterkloof as voorloper in die wedloop beskou kan word nie.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die wipplankstryd tussen hierdie twee Noordvaal-reuse het vir ‘n volle 70 minute van opwinding gesorg, maar toe die eindfluitjie blaas moes hulle blad skud met die telling op 32-32.
In teenstelling met die vorige ontmoeting tussen die twee spanne, was dit die Jansies se Arende wat vinnigste uit die blokke was met hul indrukwekkende oopkantflank, Zaide-Leigh Rippenaar, wat na skaars drie minute die bal van Divan Francis ontvang het om oor te bars vir die eerste drie. Slot, Gerhard van Aswegen, het kort daarna sy bedrieglike vaart tentoongestel om dieselfde te vermag.
Die Jansies se stormverdediging het heelwat druk op die besoekers geplaas wat, vernaam in die eerste helfte, aanleiding gegee het tot ongedwonge foute en swak besluitneming deur die Klofies. Dit was eers kort voor rustyd dat Waterkloof bresse in die verdediging kon slaan deur linkervleuel, Jayden Badenhorst.
Die twee agttalle het mekaar goed opgedreun, met reuse duikslae en fisieke barslopies wat die toeskouers telkens na hul asem laat snak het. Die Arende se vaskopstut en kaptein, Duwan Potgieter, het van voor gelei in dié opsig, met ‘n paar van sy plettervatte wat die Klofies traag laat opstaan het.
Marko Kok, die Klofies se agsteman, is beslis iemand vir die groot oomblik en dit was die skitterende individuele lopie waarmee hy die doellyn oorgesteek het, wat in die tweede helfte die momentum meer in die besoekers se guns geswaai het.
In die “moet-wen” kragmeting op Krugersdorp was Helpmekaar Kollege met ‘n telling van 33-17 té goed vir die tuisspan, Hoërskool Noordheuwel. Dié kritieke oorwinning hou vir die span van Johannesburg in die wedloop om die uitspeelrondes te haal.
Die Helpies se voorspelers het ‘n goed afgeronde vertoning gelewer, en nie bloot in die vaste fasette gewoeker nie maar soms die bal ook lekker lug gegee en ‘n soliede grondslag vir die agterlyn gelê. Vaskopstut, Ulrich “Baksteen” van der Merwe, was voor in die koor met sy energieke vertoning op sowel die aanval as verdediging.
Agterlangs was Helpies se losskakel, Michael Benzien, uitstaande en het ál 13 die besoekers se punte voor rustyd aangeteken. Dit het ‘n drie, doelskop en twee strafdoele ingesluit. Hy het puik ondersteuning ontvang van buitesenter, Ty Ax, wat se drie die finale spyker in die Nories se kis was.
Die Blues se Andrew Lambert, wat in die plek van die beseerde Brad Brown op agsteman diens gedoen het, het sy hand opgesteek en sy hoë werkverrigting, verál op verdediging, is kort voor rustyd met een van sy span se drie drieë beloon.
Puntemakers:
Dr. EG Jansen 32 (24) – Drieë: Gerhard van Aswegen (2), Zade-Leigh Rippenaar, Ettienne Smit. Doelskoppe: Matthew Bergman (2). Strafdoele: Bergman (2). Waterkloof 32 (15) – Drieë: Jayden Badenhorst, Marko Kok, Dennis Obi. Doelskop: Ronan Bastiaanse. Strafdoele: Bastiaanse (3).
Helpmekaar Kollege 33 (13) – Drieë: Michael Benzien, Delano Maritz, Eugene de Lange, Ty Ax. Doelskoppe: Benzien (2). Strafdoele: Benzien (4). Noordheuwel 17 (0) – Drieë: Andrew Lambert, Ethan Smith, Jared Coetzee. Doelskop: Jade Muller.
Ander spanne:
o.16: Dr. EG Jansen 26, Waterkloof 17; Noordheuwel 33, Helpmekaar 14.
o.15: Dr. EG Jansen 38, Waterkloof 29; Noordheuwel 42, Helpmekaar 14.
o.14: Waterkloof 13, Dr. EG Jansen 3; Helpmekaar 26, Noordheuwel 15.