SuperSport Schools Plus

Netbal neem Luané ‘uit gemaksone’

By Charne van der Merwe , in Netball | Featured Netball | News , at 2024-10-02 Tags: ,

Sy spog met indrukwekkende prestasierekords, insluitende provinsiale kleure vir Gauteng en verteenwoordiging van sowel Suid-Afrika se o.16- as o.18-Fast 5-netbalspan by die Statebond-jeugspele.

Die 18-jarige Luané Smith van Hoërskool Garsfontein was ook die kaptein van haar skool se eerste span, op beide o.17- en o.18-vlakke.

Luané se reis in netbal het reeds op vyf-jarige ouderdom begin toe sy die eerste keer mini-netbal gespeel het. Sy presteer hoofsaaklik as ‘n hulpdoel, maar is ook vaardig om as ‘n doel en verdediger te speel.

Sy het regdeur haar hoërskoolloopbaan merkwaardige mylpale bereik. Sy het onder andere deel uitgemaak van die Gauteng-span wat ‘n goue medalje by die nasionale All Ages-netbaltoernooi verower het, asook die nasionale o.16-span wat goud ingepalm het by die eerste Afrika-spele in 2022.

Sy het onlangs ‘n sleutelrol gespeel vir die nasionale o.18-Fast 5-span wat ‘n silwermedalje by verlede jaar se Statebond-jeugspele in Trinidad en Tobago verwerf het.

As ‘n diabeet staar Luané unieke uitdagings in die gesig, vernaam wat die bestuur van haar bloedsuikervlakke betref. Sy glo egter dat netbal haar dwing om voortdurend te verbeter en haar help om uit haar gemaksone te stap.

“Dit druk my uit my gemaksone uit en juis daarom is ek mal oor netbal. Dit leer vir ‘n mens soveel meer as bloot netbalvaardighede en dit bou lewenslange vriendskappe.”

Een van Luané se rolmodelle is die voormalige Nieu-Seelandse speler, Maria Folau.

“Haar menslikheid op én van die baan af, asook haar absolute toewyding aan die spel, inspireer my.”

Luané droom daarvan om ’n loopbaan uit netbal te maak en hoop om haar land as deel van die Proteas, Suid-Afrika se nasionale netbalspan, in sowel tradisionele netbal as die Fast 5-Wêreldreeks te verteenwoordig.

Die ondersteuning van haar familie speel ‘n belangrike rol in Luané se lewe.

“My ouers en susters is my grootste ondersteuners. Hulle offer baie vir my op om my drome te verwesenlik.”

error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.