Nelspruit Rhinos stamp Kempies in Beeldtrofee kwarteindstryd
Die eerste rugbyspan van die Hoërskool Nelspruit se senter, Nico van Rooyen, het met ’n drie na aan die einde van sy kwarteindstryd teen Hoërskool Kempton Park sy plek in die halfeindstryd van die reeks bespreek.
Die Rhinos sal nou op sy tuisveld Saterdag teen Hoërskool Monument van Krugersdorp in die halfeindstryd van die kompetisie te staan kom. Pennypinchers en Timbercity is medeborge van dié reeks.
Kempies was met nog enkele minute oor in die wedstryd met 29-18 voor gewees. Die span se slot, Tiaan Venter, is egter met ’n geelkaart koelkas toe gestuur en Nelspruit het dié situasie ten volle benut.
Eers het sy flank, Wynand Visser, gaan druk met die losskakel, Wessel Muller, wat met die doelskop geslaag het om sy span met die telling op 29-25 binne trefafstand te plaas.
Van Rooyen het kort daarna die wendrie vir die Rhinos gaan druk. Die span van die breiers, Chris Mans en Gerhard Holtzhausen, het verlede jaar in die halfeindstryd van die kompetisie teen die uiteindelike kampioen, EG Jansen van Boksburg, vasgeval.
Kempies het wanneer hulle in besit van die bal was hulle kanse behoorlik gebruik. Nelspruit se vleuel, Georg Muller, het eerste gaan druk, maar vanaf die afskop het sy direkte teenstander, Daniël Terblanche ’n skop afgestorm om dié drie uit te kanseleer.
Kempies se heelagter, Marnus Gruber, was uitstaande. Sy skopvoet was soos gewoontlik ’n staatmaker, terwyl hy ook ’n hele paar keer die Rhinos se verdediging met sy teenaanvalle beproef het.
Gruber het 19 punte met sy skopskoen aangeteken. Die enigste fout wat hy begaan het, was toe hy kort voor die einde gegly het na hy die bal in sy kwartgebied opgetel het en die wenspan die omgekeerde besit bewerkstellig het wat op Van Rooyen se drie uitgeloop het.
Monument het HTS Middelburg op laasgenoemde se tuisveld in hulle kwarteindstryd met 25-5 getroef. Die span se kaptein, Gavin Delport, het twee keer gaan druk.
Die Rooi Bulle wat sonder hulle SA Skole-speler, Barend Smit, gespeel het, het boonop hulle staatmaker-slot, Driaan Bester na slegs sewe minute se spel in die kragmeting weens ’n besering verloor. Hy en die vasskopstut van Monnas, Jaco Holtzhausen, het vanaf ’n afskop koppe gestamp en Bester se oogbank moes steke kry.
Monnas se beste speler op die dag was sy vleuel, Odwa Nkunjane.
Beeldtrofee se bepalings vir die halfeindstryde:
Makroskole
Eerste spanne: EG Jansen t. Garsfontein; Nelspruit t. Monnas. o.16: EG Jansen t. Menlopark; Monnas t. Garsfontein. o.15: EG Jansen t. Menlopark; HTS Middelburg t. Monnas. o.14: Garsfontein t. Menlopark; Nelspruit t. Monnas.
Grootskole
Eerste spanne: Tuine t. Transvalia; Hoërskool Klerksdorp t. Standerton. o.16: Hoërskool Pietersburg t. Helpmekaar; Ben Vorster t. Potch Volkies. o.15: Lichtenburg t. Transvalia; Ben Vorster t. Helpmekaar. o.14: Frikkie Meyer t. Helpmekaar; Ben Vorster t. Randburg.
Mediumskole
Eerste spanne: Hans Strijdom t. Wesvalia; Vryburg t. Brandwag. o.16: Ellisras t. Bekker; Ben Viljoen t. Vryburg. o.15: Ben Viljoen t. Midstream-kollege; Wesvalia t. Overvaal. o.14: Ellisras t. Midstream-kollege; Ben Viljoen t. Wesvalia.
Kleinskole
Eerste spanne: Koster t. Morgenzon; Schweizer Reneke t. Heilbron. o.16: Curro Heuwelkruin t. Zeerust. o.15: Curro Heuwelkruin t. Zeerust; Koster t. Komatipoort.
Middelskole
Eerste spanne: Cullinan t. Belvedere; Alberton High t. Parys. o.16: Roodepoort t. Parys; Bergvlam t. Queens. o.15: Queens t. Voortrekker; Lowveld High t. Alberton High. o.14: Alan Glen t. Parys; Bergvlam t. Queens.