Nellies met twee punte, danksy Tinyiko-tweekuns

Die Nellies en Rooibulle het gesorg vir hope opwinding in Centurion.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools. (www.supersportschools.com).
Hoërskool Nelspruit se Rhinos en Hoër Tegniese Skool Middelburg het albei die krane oopgedraai in die laaste ronde van die NWU Sportreeks, met die span van die Laeveld wat uiteindelik die smaak van ‘n naelbyt- dog soet sege van 36-34 oor die Rooibulle kon smaak.
Nellies se linkervleuel, Tinyiko Silubane, het weer bewys dat hy nie ‘n vreemdeling vir die doellyn is nie. Die sneller het nóg twee drieë op sy reeds indrukwekkende kerfstok vanjaar geplaas.
Agtsteman, Vaughn van Zyl, het sy aanspraak op die nr. 8-trui van die Pumas by vanjaar se Cravenweek verder verstewig, en het uitgeblink met verál sy kragtige dryfspel.
Dit was egter ‘n wedstryd van twee helftes. Nadat hulle ‘n agterstand van 15-26 met die omdraaislag in die gesig gestaar het, het die Rooibulle daarin geslaag om in die tweede skof die momentum in hul guns te laat swaai.
Die span van Middelburg het, nes ‘n paar weke gelede teen EG Jansen, die bal agterlangs begin lug gee en 19 punte aangeteken om die Nellies die skrik op die lyf te jaag.
Binnesenter, Johnny dos Santos, losvoorspeler, Toy Engelbrecht en haker, Hanro Terblanche, het uitgeblink. Die trio het die Nellies dikwels met doelgerigte lopies onkant betrap en is elk met ‘n drie beloon.
Hoërskool Transvalia het die gashere van die dag, Hoërskool Eldoraigne, ‘n loesing van 76-7 toegedien. Die span van Vanderbijlpark het nie minder nie as 12 keer die Eldo-Drake se doelgebied geplunder.
Binnesenter, Brandonlee Smit, was aan die spits van die aanslag met ‘n driekuns, terwyl Tumi Moloi (linkervleuel), Wynand Stols (agtsteman) en Dihan Crouse (regtervleuel) elk ook dubbele driedruk-genot geniet het.
Hoërskool Middelburg het ‘n waarskuwing aan toekomstige teenstanders in vanjaar se SDC Noordvaal Cup se Plaat-afdeling gerig, deur met verlede jaar se finaliste van die NWU Sportreeks, Hoërskool Kemptonpark, met 40-12 af te reken.
Puntemakers:
Nelspruit 36 (26) – Drieë: Tinyiko Silubane (2), Divan de Kock, Ian Wood, Theuns Meyer, Vaughn van Zyl. Conversions: Divan de Kock (3). HTS Middelburg 34 (15) – Drieë: WJ Enslin, Hanro Terblanche, Johnny dos Santos, Toy Engelbrecht, Strafdrie. Doelskoppe: Jaque Stassen (3). Strafdoel: Stassen.
Transvalia 76 (43) – Drieë: Brandon Lee Smit (3), Tumi Moloi (2), Wynand Stols (2), Dihan Crause (2), Jayden McPearson, Anro Nagel, Siyabonga Khambule. Doelskoppe: Dylan Steyman (5), Bernardt van Wyk (3). Eldoraigne 7 (0) – Drie: Ian Bosh. Doelskop: JP Meyer.
Hoerskool Middelburg 40 – Drieë: Sihle Mkhatshwa, Lungelo Maseko, Jacques Greyling, CW Hanekom, Jabu Mathebula, Keabetswe Nkgadema. Doelskoppe: Matthew Abbey (5). Kempton Park 12 – Drieë: Deon Mulligan (2). Doelskop: Tiaan Delport.
Ander uitslae:
o.16: Menlopark 17, Kempton Park 16 (eindstryd); EG Jansen 24, Nelspruit 17; Middelburg 16, Transvalia 9; Waterkloof 39, Oos-Moot 25; Eldoraigne 19, HTS Middelburg 15.
o.15: Middelburg 20, EG Jansen 12 (eindstryd); Menlopark 28, Waterkloof 21; Oos-Moot 29, Transvalia 17; Nelspruit 28, Kempton Park 14; Eldoraigne 18, HTS Middelburg 17.
o.14: Kempton Park 17, Middelburg 15 (eindstryd); Transvalia 11, Nelspruit 8; Oos-Moot 16, EG Jansen 10; Waterkloof 17, Menlopark 5; Eldoraigne 10, HTS Middelburg 3.