Naelbytstryd in Vanderbijl

‘n Strafdrie, met speeltyd reeds verstreke, het gesorg vir Valia-jolyt in die eerste ronde van die SDC Noordvaal Cup se Plaat-afdeling.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools. (www.supersportschools.com).
Hoërskool Transvalia het daarin geslaag om met ‘n strafdrie in die doodsnikke by die agterdeur in te glip en vir Hoërskool Oos-Moot, in dié se eerste Plaat-wedstryd, met 31-27 in Vanderbijlpark te troef.
Met hul begeesterde tweede-helfte vertoning, het Wesvalia ‘n agterstand van 15 punte uitgewis. Die eerste 35 minute het ongetwyfeld aan die besoekers van die Moot behoort, en hulle het teen rustyd ook welverdiend met 20-5 voorgeloop.
Die Oosies se skrumskakel, David Joubert, het die tuisspan se verdedigers deurgaans op hul tone gehou, met sy slinkse breekslae rondom die afbreekpunte. Dit het ook vir Joubert ‘n tweekuns besorg.
Aan sy buitekant was losskakel, Ruwan Allen, ook op sy stukke. Allen, wat ewe tuis is op binnesenter, se skopstewel het vir die besoekers tot die bittereinde in die wedloop gehou.
Siya Khambuhle, Vanderbijlpark se heelagter, was uitstekend op die teenaanval en het ‘n waarskuwing gerig aan toekomstige opponente om liefs nie op hom te skop nie. Khambuhle was, na een só ‘n skitterende lopie, verantwoordelik vir sy span se eerste drie.
Voorlangs was haker, Jaydon McPearson, en agtsteman, Wynand Stolz, Transvalia se uitblinkers. Die duo was dikwels betrokke by die aksie en het met hul fisieke aanslag die platform gelê vir die tuisspan se snellers. Hulle is elk met ‘n drie beloon, wat ‘n reuse bydrae gelewer het tot Wesvalia se terugvegpoging.
Hoërskool Montana het vir ietwat van ‘n opskudding gesorg deur vir Hoërskool Kempton Park in ‘n wipplankstryd met 38-34 te verslaan.
Die Monties se linkervleuel, Sam Schoeman, was die span van Pretoria se groot uitblinker met sy lopies langs die kantlyn af en het twee keer die opposisie met sy spoed geflous om 10 punte tot die sege by te dra.
Dit het ‘n behoorlike boksgeveg afgegee tussen die twee spanne. Teen rustyd was daar nog niks wat hulle geskei het nie en moes albei nóg harder werk in die tweede helfte. Die Kempies het uiteindelik, met slegs drie minute oor, die voortou geneem toe Stian de Villiers ‘n strafdoel oorgeklits het.
Die stryd was steeds egter nog nie gewonne nie. Ryan Nel, Monties se regtervleuel, het, met tyd verstreke en teen alle verwagtinge in, agter die doellyn gaan draai om ‘n naelbytsege vir sy span te beklink.
Hoërskool Zwartkop het beïndruk met hul oorwinning van 44-31 oor Hoërskool Klerksdorp.
Dié sege wat grotendeels te danke aan ‘n uitmuntende vertoning deur regtervleuel, Milton Naudé. Naudé, wat ter elfder ure, na ‘n besering aan Denlison Metcalfe, ingesluit is in die span, het sy kans met albei hande aangegryp om ‘n briljante driekuns te behaal.
Puntemakers:
Transvalia 31 (5) – Drieë: Siya Khambuhle, Tumi Moloi, Jayden McPearson, Wynand Stolz, Strafdrie. Doelskoppe: Dylan Steynman (3). Oos-Moot 27 (20) – Drieë: David Joubert (2), Jeandre Venter. Doelskoppe: Ruwan Allen (3). Strafdoele: Allen (2).
Montana 38 (24) – Drieë: Sam Schoeman (2), JF Venter, Ryan Nel, Devan van der Merwe, Reuben van Hamersveld. Doelskoppe: Ruwald Goosen. Kempton Park 34 (24) – Drieë: Joshua Meyer (2), Rian Aucamp, Deon Mulligan. Doelskoppe: Stian de Villiers (4). Strafdoele: De Villiers (2).
Zwartkop 44 (18) – Drieë: Milton Naude (3), Luan Williams, Kyle Blignaut, Luhardt Booyens. Doelskoppe: Luhardt Booyens (4). Strafdoele: Booyens (2). Klerksdorp 31 (19) – Drieë: Tyran masango, Elardus Bohta, Leonard van Rhyn, Janu de Wet. Doelskop: Brendin Mathyse. Strafdoele: Deacon Loots (4).
Hoërskool Middelburg 41 (22) – Drieë: Rogan van der Walt (2), Jabu Mathebula, Eckard Marx. Doelskoppe: Matthew Abbey (3). Strafdoele: Abbey (5). Ligbron Akademie 5 (0) – Drie: Janco Claasen.
Ander spanne:
o. 16: Transvalia 29, Oos-Moot 10; Kempton Park 68, Montana 5; Zwartkop 108, Klerksdorp 10; Ligbron Akademie 27; Middelburg 25.
o. 15: Transvalia 25, Oos-Moot 12; Montana 23, Kempton Park 17; Klerksdorp 59, Zwartkop 12; Middelburg 26, Ligbron Akademie 0.
o. 14: Transvalia 8; Oos-Moot 0; Kempton Park 24, Montana 7; Zwartkop 17, Klerksdorp 7; Middelburg 34, Ligbron Akademie 5.