SuperSport Schools News

Monument weer kampioen van Tuks-reeks

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2017-05-07

NewsGMonnasKampTuksDaar was geen Wildeklawer-babelas te bespeur by Monument van Krugersdorp in die eindstryd van die jaarlikse Tuks-reeks in die LC de Villiers-stadion in Pretoria nie.

Monnas het sy titel as kampioen behou deur EG Jansen van Boksburg met 50-13 kaf te draf. Die Wit Bulle was klinies en dié vertoning was sonder twyfel hul beste tot dusver die seisoen. 

Die ander Makroskole wat vanjaar aan die Virsekerbeker sal deelneem sal gewis kennis van die vertoning deur Monnas geneem het. Monnas het teen die omdraaislag reeds ‘n voorsprong van 29-8 opgebou. 

Monnas het met twee drieë in dié drie minute voor rustyd, een elk deur sy senters, Luke Rossouw en Juandré Breytenbach, die wedstryd van die Jansies weggeneem.

Monnas het veral by die afbreekpunte fisiek oorheers wat die agterlyn instaat gestel het om agterlangs te baljaar. Die haker, Morné Brandon, het soos gewoontlik voorlangs ingeklim. In die agterhoede het die kampioen se losskakel, Jonathan Viljoen, senter Luke Rossouw en die heelagter, Dandré Prinsloo, blink vertonings gelewer. Viljoen het 18 van sy span se punte in die oorwinning aangeteken. 

EG Jansen se flank, Jonathan O’Neill, verdien ook vermelding vir sy kanniedood houding tydens die eindstryd. Die Jansies se sleutelspeler en losskakel, Ruben Beytell, kon die hele week voor die eindstryd nie saam met sy span weens ‘n besering oefen nie. Daar kan verwag word dat die span van Boksburg met ‘n sterk aanslag in die Virsekerbeker vorendag sal kom. 

Garsfontein se Bere het die Hoërskool Nelspruit se Rhinos met 32-20 om die derde plek uitgestof. Die Bere het die oorwinning meestal te danke aan die inklimspel van sy twee flanke, Johandré Buitendach en Ruben Roodt. Hoewel die Garsies nog nie op alle silinders gevuur het nie, was die vertoning veel beter as die wat hulle verlede week tydens die Wildeklawer-toernooi in Kimberley opgedis het. 

Buitendach is vir sy uitmuntende spel met twee drieë beloon. Daar is nie baie losskakels op skolevlak in Suid-Afrika wat oor dieselfde skopvermoë as Nelspruit se Stephan van der Bank beskik nie. Hy het weer Sarterdag gewys dat hy sy span met sy geleerde skopstewel in ‘n wedstryd kan hou. Die Rhinos het as span ook hope durf getoon. 

Menlopark het danksy die skopskoen van sy skrumskakel, Bernard van der Linde, vir Eldoraigne met 14-10 getroef. Eldoraigne het goed begin en vinnig ‘n voorsprong van 10-0 opgebou. Die span se buitesenter, Riaan Burger, kon egter nie een van die twee drieë verdoel nie. 

HTS Middelburg se Rooi Bulle het Kemptonpark met 28-26 geklop na hulle teen rustyd reeds ‘n voorsprong van 21-7 geniet het. Kempies se terugveg-poging is deur sy plaasvervanger-flank, Zandré van Rooyen, aangevuur. Die plaasvervanger-skrumskakel, Chris Booysen, het ook twee keer die doellyn oorgesteek. Die skrumskakel, Quinton Fincham, het ook ‘n goeie wedstryd vir die verloorspan beleef. 

Florida se heelagter, Tino Swanepoel, het 24 punte in ‘n opwindende wedstryd teen die Hoërskool Pietersburg aangeteken. Florida het die wedstryd uiteindelik met 57-36 gewen. Swanepoel het twee keer ‘n draai agter die doellyn gaan maak en ook met sewe doelskoppe geslaag. 

Puntemakers:

Monument 50 (29) – Drieë: Luke Rossouw (2), Jonathan Viljoen, Eben Brand, Juandré Breytenbach, Dandré Prinsloo, Strafdrie. Doelskoppe: Viljoen (5). Strafdoel: Viljoen. EG Jansen 13 (8) – Drieë: Keenan Oleofse, Hugo Claassen. Strafdoel: Dylan Schwartz. 

Hoërskool Garsfontein 32 (12) – Drieë: Johandré Buitendach (2), Wesley Thompson, Ruben Roodt, JJ van Zyl. Doelskoppe: Thompson (2). Strafdoel: Thompson. Hoërskool Nelspruit 20 (6) – Drieë: Stefan Smit, SP Muller. Doelskoppe: Stephan van der Bank (2). Strafdoele: Van der Bank (2). 

Menlopark 14 (0) – Drieë: Alex van Rooyen, Divan Venter. Doelskoppe: Bernard van der Linde (2). Eldoraigne 10 (10) – Drieë: Stefan Marais, Charl Bester. 

HTS Middelburg 28 (21) – Drieë: Ruvaan Muller, Uys du Preez, Joubert Willers, Michael van der Walt. Doelskoppe: Riekert Barnard (4). Kemptonpark 26 (7) – Drieë: Chris Booysen (2), Zandré van Rooyen, Dillon Butler. Doelskoppe: Mikhail Blake (3).

Transvalia 22 – Drieë: Reinardt Marx, Reinardt Jordaan, Franco van Wyk. Doelskoppe: Zian de Jager (2). Strafdoel: De Jager. Hoërskool Rustenburg 7.

Florida 57 (28) – Drieë: Tino Swanepoel (2), Maxwill van Louw (2), Timothy Allies, Ruan Oosthuizen, Damian Calitz, Caine Stadler, Brandon Benningfield. Doelskoppe: Swanepoel (7). Hoërskool Pietersburg 36 (17) – Drieë: Heinrich Schoeman (2), Tiaan Janse van Rensburg (2), Sias Willemse. Doelskoppe: Martin Austen (4). Strafdoel: Austen.  

Ander spanne: 

o.16: Menlopark 28, Monument 20; Transvalia 25, Klerksdorp 17; Garsfontein 22, EG Jansen 15; Pietersburg 36, HTS Middelburg 22; Kemptonpark 26, Rustenburg 12; Florida 52, Eldoraigne 21.

o.15: Transvalia 35, Monument 14; EG Jansen 50, Eldoraigne 15; Menlopark 19, Rustenburg 10; Nelspruit 40, Florida 5; Kemptonpark 7, Garsfontein 3; Klerksdorp 13, HTS Middelburg 5.

o.14: Menlopark 10, Monument 5; Rustenburg 29, Pietersburg 12; Transvalia 28, EG Jansen 0; Nelspruit 12, Florida 3; HTS Middelburg 24, Garsfontein 10; Kemptonpark 60, Klerksdorp 0. 

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.