Montana skop Plaat-kompetisie met sege oor Transvalia af
Montana het sy aanslag op vanjaar se Noordvaal-trofee se Plaat-kompetisie met ‘n naelskraapse sege van 20-19 op sy tuisveld teen Transvalia van Vanderbijlpark afgeskop.
Die wenspan se losskakel, Rigard van Rensburg, het sy skopstewels aangehad en vyf strafdoele tussen deur die pale gejaag. Die besoekers is swaar en op gereelde maat gestraf en Van Rensburg het dit in punte omskep.
Transvalia het met so ongeveer 12 minute se spel oor in die kragmeting nog ‘n voorsprong van 19-12 geniet, voordat die tuisspan se linkervleuel, Vian Kelly, het sy span se enigste drie van die wedstryd gedruk.
Valia se linkervleuel, Keaton Ehlers, het self twee keer agter die doellyn gaan kuier, maar sy vertoning is danksy ‘n geelkaart ontsier. Valia het met Ehlers in die koelkas goed op verdediging gevaar.
Vir die verloorspan kan die skrumskakel, Juandré Nel, tevrede met sy vertoning voel. Hy het vir die wedstryd weer terug vanaf heelagter na sy gereelde posisie agter die oond geskuif. Die agtsteman, Heinrich Maritz, verdien ook ‘n klop op die skouer.
Die wedstryd tussen die Hoërskool Middelburg en Hoërskool Nelspruit het nie plaasgevind nie. Middelburg se skool moes sluit weens die getal kinders wat siek was. Dit sal wel interresant wees om te sien om die kinders betyds van dié siekte herstel het om vandag vir die Pumas teen die Valke uit te draf.
Die ander bepaling vir die week tussen die Hoërskool Rustenburg en Ben Vorster van Tzaneen is reeds vroeër vanjaar beslis.
Die Hoërskool Zwartkop wat ook in die Plaat-kompetisie speel het teen die naaswenner van dié kompetisie in 2019, Hoërskool Eldoraigne, in hul jaarlikse Classic Clash te staan gekom.
Eldoraigne neem egter vanjaar in die Skild-kompetisie deel, maar is reeds besig om sy stem behoorlik dik in dié liga te maak. Eldos het die kragmeting teen die Zwarries met 18-12 gewen.
Die wenspan het teen rustyd ‘n voorsprong van 8-0 opgebou. Ondanks ‘n sterk terugvegpoging deur Zwartkop in die tweede helfte kon Eldos steeds die knoop deurhaak.
Vir Eldoraigne was sy flank Johan Coetzee uitstaande. Hy was ook dan aangewys as die Speler van die Wedstryd. Hy is voorlangs goed bygestaan deur die loskopstut, Nicholas de Bruyn. Agterlangs kan die linkervleuel, Gean Slabbert, meer as tevrede met sy vertoning voel.
Puntemakers:
Montana 20 (12) – Drieë: Vian Kelly. Strafdoele: Rigard van Rensburg (5). Transvalia 19 (7) – Drieë: Keaton Ehlers (2), Strafdrie. Doelskop: Duan du Toit.
Eldoraigne 18 (8) – Drieë: Ruan Bezuidenhout, Johan Coetzee. Doelskop: Shane Olivier. Strafdoele: Olivier (2). Zwartkop 12 (0) – Drieë: SJ Bezuidenhout, Ian van der Westhuizen. Doelskop: Dwayne Zeeland.
Ander spanne:
o.16: Montana 27, Transvalia 14; Eldoraigne 30, Zwartkop 0.
o.15: Transvalia 10, Montana 5; Eldoraigne 23, Zwartkop 13.
o.14: Transvalia 30, Montana 17; Zwartkop 28, Eldoraigne 0.
[powr-comments id=”670dcbb7_1653383379958″]