Midstream meesterlik op tuisbodem, Zwartkop steeds op die wenpad

Midstream College het sy eerste sege in vanjaar se Finsbury-reeks behaal danksy ‘n uiters afgeronde spanpoging op tuisbodem.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Dit was inderdaad ‘n vertoning waarmee Midstream se breier, Johan Cloete, in sy noppies sou wees. Die span van Centurion het, met die veelsydige Tehan Mare en kolwer Jean Holtzhauzen wat die aanslag gelei het, met 131 lopies teen Hoërskool Pietersburg geseëvier.
Holtzhauzen het verrigtinge van stapel gestuur deur sy span se hoogste telling met die kolf aan te teken. Hy het uitstekend gekolf, en hoewel hy eers op nommer sewe die kolfkampie betree het, het hy soos ‘n wafferse toporde-kolwer daar uitgesien om 61 lopies van slegs 69 aflewerings te moker. Maarten Nortjie het die kolfbeurt geanker met ‘n waardevolle 56 lopies.
Die besoekers se kaptein, Dian Gouws, was sy span se groot uitblinker met die bal en het in sy 10 beurte slegs 46 lopies afgestaan om drie paaltjies te laat kantel. AJ Golloway (2/4) en Stephan Swanepoel (2/34) het met hul draaiboulwerk netjiese bystand gebied, maar dit kon nie die tuisspan verhoed om ‘n totaal van 258 op die bord te sit nie.
Mare het sy vertoning met die kolf (28) puik opgevolg met die bal. Dit het hom slegs 3.5 beurte geneem om vier Pietie-paaltjies op te raap, vir slegs agt lopies, terwyl Christiaan Olwagen (3/20) en Ruben Howatt (3/22) die res van die skade aangerig het om die besoekers vir net 127 uit te boender.
Hoërskool Zwartkop het sy tweede agtereenvolgende sege in twee weke behaal, dié keer teen Hoërskool Dinamika. Nes die wedstryd in Centurion, was dit het die Zwarries se kolwers wat uitstekend saamgespan het om hul span op die voorvoet teen die tuispan van Alberton te plaas.
Vandeesweek was dit die beurt van WJ Esterhuizen om die kollig te steel. Esterhuizen het die kolfbeurt met ‘n uitstaande 85 lopies gelei, met Nicholas Conradie (56) en Ewan Erasmus (48) wat ook elk ‘n sny van die lopiekoek ontvang het om die besoekers tot ‘n onaantasbare 273/7 geneem.
Rowan McLaren (3/12) en verlede week se held met die kolf, Zandre van Staden (3/19), het voortgebou op die kolfvertoning om ‘n wegholsege te beklink. Vir die tuisspan kon slegs Jadin Schlebusch (47) ‘n noemenswaardige bydrae lewer en moes hy toekyk hoe die res van sy span vir 111 uitgeboender word.
Monument se Zian Maritz (53) en Logan Weetman (44) het die span van Krugersdorp se kolfbeurt gelei om uiteindelik met ‘n totaal van 221 af te sluit. Monnas se boulers, met Ruben Claassen (2/14) aan die spits, het dit uitstekend opgevolg om vir Hoërskool Lichtenburg uiteindelik met 64 lopies kaf te draf.
Beknopte telkaarte:
Midstream College 258 (Jean Holtzhauzen 61, Maarten Nortje 56, Ekstras 37, Eckhardt du Toit 28, Tehan Mare 28; Dian Gouws 3/46, AJ Galloway 2/4, Stephan Swanepoel 2/34, Willem Viljoen 2/50); Hoërskool Pietersburg 127 (Dian Gouws 37, Stephan Swanepoel 28, Cilliers van der Merwe 21, Hanru Marais 21; Tehan Mare 4/8, Christiaan Olwagen 3/20, Ruben Howatt 3/22). Midstream College wen met 131 lopies.
Zwartkop 273/7 (WJ Esterhuizen 85, Nicholas Conradie 56, Ewan Erasmus 48, Zandre van Staden 33, Ekstras 26, Vince Matraotti 24; Branko Steenberg 3/50, Sebastian Le Roux 2/41). Dinamika 111 (Jadin Schlebusch 47*; Rowan McLaren 3/12, Zandre van Staden 3/19, Dawid Hanekom 2/11, Liam van Wyk 2/21). Zwartkop wen met 162 lopies.
Monument 221 (Zian Maritz 53, Logan Weetman 44, Ruben Durrheim 39, Antonie van Niekerk 34; Johan Coetzee 2/21, Xander Blom 2/36, Raiyaan Pathan 2/51, Luan Snyman 2/58); Hoërskool Lichtenburg 157 (Douw Jacobs 54, Ekstras 30; Ruben Claassen 2/14, Byron Viljoen 2/27, Ibrahim Haffajee 2/27, Daniel Boatard 2/29). Monument wen met 64 lopies.