Midstream beëindig Marais Viljoen se segetog
Midstream College het, teen alle verwagtinge in, daarin geslaag om Hoërskool Marais Viljoen se onoorwonne segetog te beëindig.
Die Pretorianers se indrukwekkende kolflys het weer sterk na vore getreë om almal waardevolle bydraes te lewer.
Janco van Heerden het met sy 46 lopies die toon aangegee, en is goed ondersteun deur Maarten Nortje (37) en Dian de Villiers (34). Dit het die span van Midrand se totaal op 222 te staan gebring.
Declan Botes was vir die soveelste keer Marais Viljoen span se voorste bouler en het aan die einde van sy tien beurte met syfers van drie paaltjies vir 49 lopies gespog.
Botes was ook sy span se top-lopiemaker, met ‘n pragbeurt van 89 lopies van 95 aflewerings. Aldre Huyzers (50, 58b), het ook met mening die kolf ingelê om nóg ‘n welverdiende vyftigtal te behaal.
Midstream se Janco van Heerden en Rikus Cilliers was egter die Marais Viljoen-kolwers oor. Van Heerden het nie mnder nie as vyf kolwers terug paviljoen toe gestuur, met Cilliers (4/44) kort op sy hakke. Met nege paaltjies tussen hulle, het die tweetal boulers vir Marais Viljoen tot 210 beperk, 12 lopies kort van ‘n oorwinning.
Hoërskool Pietersburg het op ‘n drafstap met tradisionele vyande, Hoërskool Ben Vorster, afgereken. Die Pieties se Cilliers van der Merwe was vernietigend met die bal om van vyf Vossie-kolwers terug ontslae te raak in ‘n skof wat slegs 16 lopies gekos het. Die ou staatmaker, Hanno van Zyl (2/13), het sy reeks ook op ‘n bevredigende noot afgesluit.
Phillip Weterman het die voortou met die kolf geneem, en sy onoorwonne 34 lopies was genoeg om die teiken van 61 met gemak verby te steek.
Slegs die Vossies se kaptein, Njabulo Maseko, kon enigsins hond haar-af maak en het sy span se hoogste telling van 19 lopies aangeteken. Maseko was ook die Tzaneeners se suksesvolste bouler met een paaltjie vir 23 lopies.
Hoërskool Zwartkop het ‘n lae kolftotaal, te danke aan ‘n uitstekende vertoning deur Zandre van Staden, suksesvol teen Hoërskool Lichtenburg verdedig.
Van Staden was in ‘n verwoestende bui en het hy met vier paaltjies vir net 20 lopies verwoesting gesaai onder die opposisie-kolwers. Rowan Mclaren het hom bygestaan met twee paaltjies vir 25 lopies, om ‘n totaal van slegs 120 suksesvol te verdedig.
Vincent Matraiotti het in moeilike toestande uitgeblink, en 26 lopies van 52 aflewerings behaal. Wynand Frylinck (25) en Wihan Gelderblom (22) se latere bydraes was deurslaggewend in die Zwarries se sege.
Luan Snyman was die Liggies se uitblinker met syfers van vier paaltjies vir 31 lopies, en grotendeels verantwoordelik vir die Zwarries se lae totaal. Raiyaan Khan het ook met twee paaltjies van sy eie bestendig vertoon.
Snyman het daarna hard met die kolf geswoeg om welverdiend 33 lopies aan te teken. Ongelukkig kon slegs Nelius van Rensburg (22) nog enigiets waardevol bydra en het die laaste Liggie-paaltjie met die span se telling op slegs 104 gekantel.
Beknopte telkaarte:
Midstream College: 222 (Janco van Heerden 46, Maarten Nortje 37, Dian de Villiers 34, Juan Holtzhauzen 27, Ryan Strauss 22; Declan Botes 3/49). Hoërskool Marais Viljoen: 210 (Declan Botes 89, Aldre Huyzers 50, Tiaan Kuhn 28; Janco van Heerden 5/26, Rikus Cilliers 4/44). Midstream College wen met 12 lopies.
Hoërskool Ben Vorster: 61 (Njabulo Maseko 19; Cilliers van der Merwe 5/16, Hanno van Zyl 2/13). Hoërskool Pietersburg: 65/2 (Phillip Weterman 34*; Njabulo Maseko 1/23). Pietersburg wen met agt paaltjies.
Hoërskool Zwartkop: 120 (Vincent Matraiotti 26, Wynand Frylinck 25, Wihan Gelderblom 22; Luan Snyman 4/31, Raiyaan Khan 2/18). Hoërskool Lichtenburg: 104 (Luan Snyman 33, Nelius van Rensburg 22; Zandre van Staden 4/20, Rowan McLaren 2/25). Zwartkop wen met 16 lopies.
- Free State finish with a flourish - 2025-07-11
- Viljoen fires Lions to third straight title - 2025-07-11
- Results – FNB u18 Academy Week – Day 3 - 2025-07-11