SuperSport Schools Plus

Merensky wag vir Dinamika van agter die Sitrusgordyn

By Franco Oberholzer , in Cricket | News , at 2024-01-26 Tags: , , , , , ,

Foto: Ankia Botha

Hoërskool Dinamika pak die lang tog na die Laeveld aan wanneer hy Saterdag teen Afdeling-D se nuwelinge, Merensky Landbou Akademie, te staan kom.

Dit sal die Tzaneeners se eerste verskyning in vanjaar se toernooi wees. Hulle wedstryd teen Hoërskool Middelburg is weens gure weer en onspeelbare toestande afgelas.

Dinamika, daarenteen, kom vars van ‘n oortuigende sege oor HTS Middelburg. Die span van Alberton het die Middelburgers gemaklik met nege paaltjies verslaan.

Die Tzaneeners sal verál op hul hoede wees vir Dinamika se naatbouler, Sebastian Le Roux. Le Roux het reeds vyf paaltjies op sy Finsbury-kerfstok.

Hy sal egter nog gevaarliker wees in kondisies waar die blaaie so ‘n rapsie meer vir die boulers inhou.

Dean van Onselen, die span se kaptein, sal ook gretig wees om weer die kolf in die toporde op te neem. Dié voorslagkolwer is mooi op dreef na ‘n onoorwonne vyftigtal in ronde een.

Hoërskool Middelurg verwelkom Uplands College, van Mpumalanga. Die twee spanne het uitgemis op speelkans in ronde een. Dit verhoog die opwinding, met albei skole wat die kans op waardevolle ranglyspunte sal wil aangryp.

Die Middies se voorslagkolwer, Reuben Brandmuller, sal graag sy vaardighede in die toporde wil tentoonstel. Sy kollega, Ivan Deale, sal ook die kans om die Uplands kolwers te kasty wil aangryp.

HTS Middelburg reis na Heidelberg, waar Hoër Volkskool op hulle wag. Die Middelburgers lek nog hul wonde na ‘n teleurstellende nederlaag in Alberton verlede naweek, waarvoor hulle sal wil vergoed. Die kaptein, Toy Engelbrecht was die enigste speler wat gelyk het of hy goed op dreef was en sal van voor wil lei. Sy draaiboulwerk sal ook taamlike druk op die middelste beurt plaas.

Aan Volkies se kant sal Matthew Wentsel die leiding neem. Die aanvangskolwer sal ‘n positiewe begin vir sy span wil help verseker, terwyl Dave Pelzer, die Volkies se draaibouler, nes Wentsel ‘n belangrike wapen in sy span se arsenaal behoort te wees.

 

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.