Merensky tops in E-afdeling, Wessies bespreek promosie-stryd

Merensky Landbou Akademie het sy Finsbury-veldtog op ‘n hoë noot afgesluit met twee agtereenvolgende seges in twee dae om as die voorste eerste span in die E-afdeling te eindig.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die skool van Tzaneen staan egter nie ‘n kans om na die D-afdeling op te skuif nie, aangesien die eerste en o. 15-spanne se gesamentlike puntestand tel. Dit is nietemin steeds ‘n veertjie in Merensky se hoed dat sy eerste span die reeks eerste, en boonop onoorwonne, afgesluit het.
Hoërskool Wesvalia het algeheel eerste in die E-afdeling geëindig en kom dus aanstaande week teen HTS Middelburg te staan om te bepaal wie volgende jaar in die sterker afdeling meeding.
Die Plasies moes ‘n wedstryd inhaal nadat hulle ‘n ronde gemis het weens deelname aan die Schools SA20 se streek-uitspele in Benoni vroeër die maand en het derhalwe Vrydag, 14 Februarie, weg teen Hoërskool Linden gespeel.
Rinaldo Bornman is witwarm met die wilgerlat vanjaar en het weer met ‘n indrukwekkende 64 nie uit nie gepronk om sy span tot ‘n ses-paaltjie oorwinning te lei. Kaptein, Luka Heinlein, het aanvanklik die Linden-kolwers gekasty met sy giftige swaaiboulwerk, met die nuwe bal, en vyf paaltjies vir net 18 lopies in nege beurte laat spat.
Die volgende dag, moes Merensky na Klerksdorp reis om Hoërskool Klerksdorp aan te durf. Hierdie slag was dit die beurt van die hotklou-draaier, Timothy Baker, om ‘n vyf-paaltjie vertoning op te dis en die Klerksdorpers te roer. Baker het slegs 7.5 beurte benodig om die vyf paaltjies vir net 14 lopies te neem.
Die jong Waldo Mouton (4/13) het hom bygestaan met vier paaltjies in sy toegelate 10 beurte om die tuisspan vir net 76 uit te boender. Die Plasie-kolwers het die lewe self nie maklik gevind nie, met Jordan van der Schyff wat die Klerksdorpers se hoop laat opvlam het met sy 4/24, maar die Plasies het uiteindelik die pyp gerook, met vier paaltjies staande.
Wesvalia se Eduard Dreyer het Linden laat les opsê met boulsyfers van 3/35 om die span van Johannesburg tot ‘n “Nelson” (111) te beperk. Daarna het hy oudergewoonte ook sy kolf laat praat met ‘n pragbeurt van 49 lopies, gevolg deur Janré Greyling (28) en Quewen Fourie (21), om die teiken in ‘n japtrap te bereik.
Hoërskool Secunda se afgeronde spanvertoning het aan hulle ‘n sege met 11 lopies oor Hoërskool DR EG Jansen besorg. Luan Swart (44) en CJ Bakker (25*) het die span van Secunda tot 154 gedryf, ondanks die venynige boulwerk van die Jansies se Jaco Engelbrecht (4/41).
Brenton Francis (27) en Liam Green (22) het moedig probeer om die Jansies oor die wenstreep te kry, maar ekonomiese boulwerk deur Nathan Erasmus (2/14) en Kie het ‘n stokkie daarvoor gesteek.
Beknopte telkaarte:
Saterdag:
Linden 111 (Ruben Cruickshank 36, Thomas Muller 22; Eduard Dreyer 3/35, Ethan Walker 2/6, Janre Greyling 2/20); Wesvalia 114/2 (Eduard Dreyer 49, Janre Greyling 28*, Quewen Fourie 21*; Wynand van Zyl 1/28). Wesvalia wen met agt paaltjies.
Hoërskool Klerksdorp 76 (Jordan van der Schyff 33*; Timothy Baker 5/14, Waldo Mouton 4/13); Merensky Landbou Akademie 78/6 (Schalk Rossouw 19*; Jordan van der Schyff 4/24). Merensky wen met vier paaltjies.
Hoërskool Secunda 154 (Luan Swart 44, CJ Bakker 25*, Ceejay Web 24; Jaco Engelbrecht 4/41); Hoërskool Dr EG Jansen 143 (Brenton Francis 27, Liam Green 22, Juan Ungerer 21; Nathan Erasmus 2/14, Jean Loock 2/18, Jayden Scholtz 2/27). Hoërskool Secunda wen met 11 lopies.
Vrydag:
Linden 143 (Thomas Muller 40, Ekstras 39; Luka Heinlein 5/18, Cashan Jacobz 2/13, Rinaldo Bornman 2/17); Merensky Landbou Akademie 145/4 (Rinaldo Bornman 64*, Ekstras 34, Logan Jansen van Rensburg 24; Thomas Muller 3/33). Merensky wen met ses paaltjies.
- Free State finish with a flourish - 2025-07-11
- Viljoen fires Lions to third straight title - 2025-07-11
- Results – FNB u18 Academy Week – Day 3 - 2025-07-11