Ligbron wil beste voet voorsit teen omgekrapte Jansies
Ligbron Akademie het ‘n taamlike taak op hande wanneer hulle vir Hoërskool Dr EG Jansen Saterdag in Ermelo verwelkom.
Volg die aksie op SuperSport Schools. Skakel na die wedstryd.
Die Liggies het reeds hul strukture teen strawwe kompetisie, soos Hoër Landbouskool Oakdale en Hoërskool Noordheuwel se tweedespanne, getoets.
Die klippe kou in die voorseisoen behoort hulle goed te staan te kom in die SDC Noordvaal Cup se strawwe Plaat-afdeling later vanjaar.
Die span van Ermelo sal grootliks staatmaak op hul twee senter-sterre, Anele Ngwenya en Lethi Ngwenya.
Die hardnekkige Ngwenya’s sal alles uithaal om die gedugte EG Jansen-agterhoede hok te slaan, met vernaam Anele wat heelwat ervaring tafel toe bring siende dat hy verlede seisoen reeds die Pumas op sowel 15-man as sewesvlak verteenwoordig het.
Aan hulle buitekant kan die vuurwerke behoorlik spat wanneer Liggies se ander Puma-sewesspeler en spoedvraat, Bandile Thanjekwayo, op linkervleuel spasie gegun word.
Onder die voorspelers sal die slot, Thamsanga Lamula, wil inklim onder die besoekers, en kan hy, met begeesterde barslopies, die veld aan die brand speel.
Die tuisspan kom egter teen ‘n formidabele Jansie-voory te staan. Zian Marais (loskopstut), Danre Pike (haker), en kaptein en vaskopstut, Duwan Potgieter, sal oudergewoonte die skroewe vasdraai voorlangs.
Daar sal ook so min as moontlik op Marais se kanaal afgehardloop wil word. Die loskop is berug vir sy onverbiddelike verdediging en sal waarskynlik ‘n paar opponente op kenmerkende wyse omdop. Gerhard van Aswegen geniet ‘n blaaskans, met Marco Ventura wat in sy plek op agtsteman uitdraf.
Agterlangs word die kragtige Jeandre Jacobs ook ‘n blaaskans gegee. Dit beteken egter nié dat Liggies se verdedigers op hul louere kan rus nie. Die blitsvinnige Jean-dre Claasen skuif van regtervleuel na buitesenter, met TK Ngobese wat inkom op regtervleuel.
Ligbron t. Dr EG Jansen om 13:00 in Ermelo:
Ligbron Akademie: 15 Ntando Simelane, 14 Siyanda Dennison, 13 Anele Ngwenya, 12 Lethi Ngwenya, 11 Bandile Thanjekwayo, 10 Divan van Jaarsveld, 9 Renier van Staden, 8 Janco Claasen, 7 Lusanda Nkosi, 6 Tiaan Botha, 5 Thamsanga Lamula, 4 Jaco van Wyk, 3 Divan Scheepers, 2 Marnus Marx, 1 Tiaan Groenewald.
Hoërskool Dr EG Jansen: 15 R-Jay Pieterson, 14 TK Ngobese, 13 Jean-dre Claasens. 12 Steven Williams, 11 Deshean Peterson, 10 Matthew Bergman, 9 JP Jooste, 8 Marco Ventura, 7 Divan Francis, 6 Zaide-Leigh Rippenaar, 5 Zandre Naude, 4 Ettiene Smit, 3 Duwan Potgieter, 2 Danre Pike, 1 Zian Marais.