Kuhn, Venter skitter in Wessies-sprokie
Om as ‘n nuweling in een van die Noordvaal-afdelings die eindstryd te haal sit nie in enige span se broek nie.
Herleef al die Noordvaal Skild-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Dit is presies wat Hoërskool Wesvalia, in sy eerste jaar in die SDC Noordvaal Cup se Skild-afdeling, vermag het. Die span van Klerksdorp het die verdedigende kampioen, Hoërskool Secunda, Saterdag met 33-21 geklop om ‘n plek in die eindstryd te bespreek.
Die Wessies kom volgende week in Klerksdorp teen Hoërskool Lichtenburg in die finaal te staan.
Secunda was blitsig uit die blokke, danksy twee onderskepdrieë en ‘n afstorm-drie deur onderskeidelik haker, Stefan Bezuidenhout, losskakel, EJ Venter, en regtervleuel, Nathan Burhman. Dit het aan die besoekers ‘n voorsprong van 21-0 binne die eerste 10 minute besorg.
Dié terugslag het die tuisspan, wat reeds vanjaar in ‘n eindstryd gespeel het, egter nie ondergekry nie. Afrigter, Willem van der Sandt, het die terugvegpoging aan die kalmte van sy span toegeskryf.
“Die seuns het rustig gebly en by ons strukture gehou,” het Van der Sandt gesê.
Haker, Junior Kuhn, en agsteman, Hanre Venter, was aan die spits van die terugvegpoging met ál vyf die Klerksdorpers se drieë. Kuhn is vir sy uitstaande seisoen tot dusver uiteindelik met ‘n driekuns beloon, terwyl Venter self twee keer oorgebars het vir drieë.
Hoërskool Lichtenburg het tuisveldvoordeel weer optimaal benut om vir Hoërskool Die Anker te troef in die halfeind en hul onoorwonne status in Lichtenburg te behou. Die Liggies het in die derde kragmeting tussen dié twee spanne vanjaar met 32-29 as oorwinnaars uit die stryd getree, danksy ‘n drie in die doodsnikke deur slot en kaptein, John Kleynhans.
Dit was ‘n yslike vertoning deur albei agttalle. JJ Jonker, Lichtenburg se vaskopstut, het vir die soveelste keer vanjaar ‘n uiters fisieke vertoning gelewer, terwyl Die Anker se agsteman en invloedryke kaptein, Ruben Herbst, oudergewoonte van voor gelei en ‘n tweekuns bygedra het.
Regtervleuel, Ruan Smith, het vyf strafdoele en twee doelskoppe oorgeklits vir ‘n persoonlike bydrae van 19 punte.
Puntemakers:
Wesvalia 33 (21) – Drieë: Junior Kuhn (3), Hanre Venter (2). Doelskoppe: Rickardt van Heerden (4). Hoërskool Secunda 21 (21) – Driee: Stefan Bezuidenhout, EJ Venter, Nathan Burhman. Doelskoppe: Damian de Beer (3).
Hoërskool Lichtenburg 32 (15) – Drieë: JJ Jonker, John Kleynhans, Dundre Dempers, Rea Motsusi. Doelskoppe: Luan Snyman (2). Strafdoel: Snyman (2). Die Anker 29 (12) – Driee: Ruben Herbst (2). Doelskoppe: Ruan Smith (2). Strafdoele: Smith (5).
Ander spanne:
o.16: Hoërskool Pietersburg 22, Wesvalia 10; Heidelberg Volkskool 42, Ben Vorster 12.
o.15: Ben Vorster 16, Heidelberg Volkskool 12; Hoërskool Pietersburg 12, Wesvalia 12 (Wesvalia dring deur na hul eerste drie druk).
o.14: Ben Vorster 14, Hoërskool Pietersburg 13; Wesvalia 60, Lichtenburg 5.
- Brandmuller’s bat the difference in Middelburg’s win over Secunda - 2024-09-10
- Big win for Wesvalia in nail-biter - 2024-09-09
- Swanepoel and Van Zyl, Merensky’s nightmare - 2024-09-09