Kovsie Smash-titel staan weer in Klerksdorp
Die Kovsie Smash-kroon is terug in Klerksdorp nadat Hoërskool Wesvalia sy titel suksesvol verdedig het.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die Wessies is vir die tweede agtereenvolgende jaar as kampioen gekroon nadat hy Hoërskool Kalahari naelskraaps met agt lopies in die eindstryd van die tweede aanbieding van die Kovsie Smash-toernooi verslaan het.
Geen ander span se naam verskyn dus nog op die trofee sedert die ontstaan van die toernooi nie.
Die span van Klerksdorp moes nietemin spook om die manne van Kuruman te troef, met vernaam Kalahari se Janko Noeth wat uitstekend was met die bal.
Die draaier het die voorlaaste beurt afgestuur waarin hy twee paaltjies laat kantel het vir geen lopies nie. Dit het die druk vierkantig op die Klerksdorpers geplaas, wat met net 106/6 in die toegelate 20 beurte tevrede moes wees.
Dundre Hales (22*) en Marneau Dreyer (22) was Wesvalia se beste kolwers. Eduard Dreyer, die toernooi se voorste lopiemaker, is vroeg terug pawiljoen toe gestuur vir slegs 19 lopies, maar daarmee het hy sy totaal vir die week opgestoot na 301, 19 lopies meer as sy totaal in verlede jaar se toernooi.
Kalahari se Liam Laing (29) het die bal suiwer geslaan en saam met Shane Corner (29) vir Kalahari hoop gegee. Zaindre Stopford het het dié hoop egter verydel met twee kritieke paaltjies in die 15de beurt. Sy deurslaggewende beurt het ook slegs drie lopies gekos, wat die keerpunt in die wedstryd was.
Kalahari kon uiteindelik net 98/8 in hul toegelate 20 beurte aanteken, agt lopies kort van ‘n geskiedkundige oorwinning.
Hoërskool Pietersburg se Cilliers van der Merwe het gesorg dat die span van Limpopo sy week op ‘n hoë noot afsluit. Die Pieties het die gasheerspan, Hoërskool Fichardtpark, met drie paaltjies geklop met Van der Merwe wat weereens die Pieties se uitblinker was met bal en kolf.
Sy boulskof van 4/18 het die Fichies se kolflys geknak en tot net 99 beperk. Daarna het hy kopgehou onder druk, nadat Davyd Oosthuizen (3/16) vroeë skade aangerig het, vir 28 belangrike lopies, wat met Dian Gouws se 23 genoeg was om die sege te verseker.
Transvalia se Kriegler Botha het die toernooi as die voorste paaltjievraat, met ‘n totaal van 19 slagoffers, afgesluit ná nog ‘n uitstaande vertoning om ‘n oorwinning met 44 lopies oor Despatch te verseker. Botha het vier paaltjies vir net 14 lopies laat spat. Mjee Roets (3/13) het uitmuntende bystand gebied om te verseker dat Despatch vir ‘n skamele 64 uitgeboender word.
Overvaal se Christiaan Schoeman en Janco de Lange het Duineveld behoorlik stert tussen die bene huistoe gestuur. Schoeman het leiding met die kolf geneem vir ‘n aantreklike 51, terwyl De Lange in ‘n oogwink vyf paaltjies laat kantel het, vir net agt lopies, om Duineveld vir 52 almal uit te haal en oorwinning met 66 lopies te verseker.
Die laaste dag het ook heelwat plesier aan Hoërskool Trio se Dylan Young besorg, wat witwarm was met die kolf en ‘n onoorwonne 67 lopies, van slegs 49 aflewerings, gemoker het.
Trio het ook die hoogste telling vir die toernooi aangeteken met 190/6 in hul toegelate beurt. WJ van Niekerk (4/10) het het uitgeblink met die bal om die Driehoek-kolwers te terroriseer, en met Young, ‘n reuse aandeel gehad in die span van Kroonstad se wegholoorwinning met 126 lopies.
Beknopte telkaarte:
Eindstryd:
Wesvalia 106/6 (Marneau Dreyer 22, Dundre Hales 22*; Janko Noeth 2/18, Louhan Noeth 2/26); Kalahari 98/8 (Liam Liang 29, Shane Corner 29; Marneau Dreyer 3/20, Zaindre Stopford 2/12). Wesvalia wen met agt lopies.
3de/4de plek:
Fichardtpark 99 (Duan Viviers 18*; Celliers van der Merwe 4/18, Ignus Ferreira 2/14); Hoërskool Pietersburg 100/7 (Celliers van der Merwe 28, Dian Gouws 23, AJ Galloway 21; Davyd Oosthuizen 3/16). Hoërskool Pietersburg wen met drie paaltjies.
5de/6de plek:
Transvalia 113 (Waldo McLean 41; CJ Palfarmna 3/26, Niekie Joubert 2/28); Despatch 69 (Josh Bishop 48; Kriegler Botha 4/14, Mjee Roets 3/13). Transvalia wen met 44 lopies.
7de/8ste plek:
Bethlehem Voortrekker 107 (Jordan Buitendag 41*; Augie Behrens 3/31, Henry Kemp 3/34, Thian Labuschagne 2/10); Hoërskool Rustenburg 108/7 (Tristan van der Linde 28, Hendre Robinson 21; Joel Coetzee 4/13). Hoërskool Rustenburg wen met drie paaltjies.
9de/10de plek:
Oos-Moot 112 (Danie Corbett 29, Liam du Preez 28; Ian Meyer 3/4, Bernard Wandrag 3/16, Luka Heinlein 2/18); Merensky 113/5 (JP Botha 47*; Liam du Preez 2/17, Luke Venter 2/34). Merensky wen met vyf paaltjies.
11de/12de plek:
HTS Middelburg 132 (WJ Enslin 24, Marinus Enslin 24, Dawid van Rooyen 24; Duan Bastone 3/26, Wihan Paulsen 2/5, Cobus Wilken 2/16); Jim Fouché 133/5 (Joden Voster 42, Benco Olivier 29, Franco de Necker 22*; Anthoni Smuts 3/13). Jim Fouché wen met vyf paaltjies.
13de/14de plek:
Overvaal 118/8 (Christiaan Schoeman 51, MJ van Wyngaard 26; Joshua Visagie 3/33, Xander O’Connell 2/10, Wilmar Myburgh 2/18); Duineveld 52 (Kian Naude 14; Janco de Lange 5/8, Roche Le Roux 3/13, MJ van Wyngaard 2/6). Overvaal wen met 66 lopies.
15de/16de plek:
Hoërskool Upington 108/8 (Weilin Lombaard 31; Jeandre Ferreira 4/19, Louw Fouché 2/14); Goudveld 111/5 (Ruan Dreyer 34*, Jeandre Ferreira 20*; CJ Botha 2/16, Ruann Esterhuizen 2/31). Goudveld wen met vyf paaltjies.
17de/18de plek:
Witteberg 101 (Pieter Wessels 17; Aldo Bezuidenhout 3/18, Juandre Weideman 3/21, Reshe Wales 2/14); Sentraal 102/6 (Janre Bornman 57*; Mila Oerson 2/20). Sentraal wen met vier paaltjies.
19de/20ste plek:
Trio 190/6 (Dylan Young 67*, WJ van Niekerk 33, Gabriel Mocjabela 22; Chris Saayman 2/25, Jaden Heckler 2/37); Driehoek 64 (Duan Taljaard 22; WJ van Niekerk 4/10, Myburg Jacobs 2/14, Jeandre Vosloo 2/27). Trio wen met 126 lopies.