Koel en kalm Reyneke breek Pietie-harte
Dit was ‘n derby soos van ouds tussen twee van Limpopo se groot honde.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Hoërskool Ben Vorster het in Pietersburg die bordjies verhang teen hul tradisionele aartsvyand, Hoërskool Pietersburg, in hul rondomtalie-stryd in die SDC Noordvaal Cup se Skild-afdeling.
Die Buffels het met ‘n strafdoel kort voor die eindfluitjie hul derde agtereenvolgende sege met 25-23 in die kompetisie beklink.
Die man van die oomblik was die Buffels se buitesenter, Tihandre Reyneke, wat koel en kalm die bal tussen die pale deur gestuur het vir die oorwinning. Dit was Reyneke se tweede strafdoel en, tesame met twee suksesvolle doelskoppe en ‘n uitstekende drie, het hy 15 van sy span se 25 punte aangeteken.
Die besoekers het dit egter geensins maklik gehad in Polokwane nie. Die Pieties was aanvanklik in beheer en het rustyd binnegegaan met ‘n gerieflike voorsprong van 12-3. Binnesenter, Siya Mahlangu, het verál beïndruk in die eerste helfte met sy bedrieglike dartellopies .
Die Cravenweek-skrumskakel, Divan Brown, het verseker dat Mahlangu en die res van die agterlyn uitstaande diens ontvang en op die voorvoet kon bly, terwyl agtsteman, Hardus Otto, se gewoel voorlangs die Buffels ook deurgaans aan die raai gehou het.
Die Buffels het eers met sowat 20 minute oor hul ritme begin vind en moes hard werk om ‘n agterstand van 12 punte uit te wis. Met die telling op 20-8 in die guns van die tuisspan, het Reyneke deurgebreek het om tussen die pale oor te duik en oopkantflank, Chifu Banda, het kort daarna dieselfde gedoen om sake gelyk te laat trek.
Met die voorsprong wat nog een keer weerskante toe gewissel het, was dit Reyeneke se stewel wat die Vossies se sege in Polokwane verseker het.
In Springs was daar ook naels gekou onder die ondersteuners en afrigters, totdat Heidelberg Volkskool se Janco Coetzer, nes Reyneke, sy teenstanders se harte in die doodsnikke gebreek het.
Die haker het, met drie minute speeltyd oor, die doellyn oorgesteek om te verseker dat die Volkies vir Hoërskool Hugenote van Springs met 30-29 troef in die eerste “Gatskop Derby” tussen die twee spanne. Dit was ook Coetzer se tweede drie.
Die sege het ook ‘n yslike terugvegpoging geverg, met die Volkies wat ‘n agterstand van 13 punte moes omswaai danksy die akkurate korrelwerk pale toe deur hul Cravenweek-losskakel, Kayle Venter, wat ‘n 100% treftempo gehandhaaf het op die dag.
Die tuisspan se losskakel, Corne Pretorius, was nie net op sy stukke met die stewel nie, om aan sy span die voortou te bied nie, maar het ook sake soos ‘n gesoute losskakel gedikteer om sy agterlyn op die voorvoet te plaas.
Hoërskool Lichtenburg was die enigste tuisspan wat in vandeesweek se rondomtalie-kragmetings as oorwinninaars uit die stryd kon tree, deur die besoekende Hoërskool Die Anker met 37-26 in Lichtenburg te klop.
Die Liggie-voorhoede het behoorlik baljaar, met ál ses die tuisspan se drieë wat deur voorspelers aangeteken is. Haker, Juan van Rhyn, en vaskopstut, JJ Jonker, het, vir die soveelste keer vanjaar die kollig gesteel en elk ‘n tweekuns behaal.
Vir die besoekers was dit agsteman en kaptein, Ruben Herbst, wat weer ‘n besielende vertoning gelewer het. Nie alleen het hy ook twee keer agter die Liggies se doellyn gaan kuier nie, maar hy het ook onophoudelik sy lyf op die spel gesit om die momentum in die guns van sy span te probeer swaai.
Puntemakers:
Ben Vorster 25 (3) – Drieë: Damian Bye, Tihandre Reyneke, Chifu Banda. Doelskoppe: Reyneke (2). Strafdoele: Reyneke (2). Hoërskool Pietersburg 23 (12) – Drieë: Dewald de Beer, Hardus Otto, Vincent Luckhoff. Doelskop: Hanno van Zyl. Strafdoele: Luckhoff (2).
Heidelberg Volkskool 30 (16) – Drieë: Janco Coetzer (2), Kayle Venter. Doelskoppe: Venter (3), Strafdoele: Venter (3). Hugenote (Springs) 29 (22) – Drieë: Luan Pretorius, Ruan van Biljon, Vian van Dyk, Hendrik Eybers. Doelskoppe: Corne Pretorius (3). Strafdoel: Pretorius.
Hoërskool Lichtenburg 37 – Drieë: Juan van Rhyn (2), JJ Jonker (2), KG Legodi, Abrie Coetzee. Doelskoppe: Luan Snyman (2). Strafdoel: Snyman. Die Anker 26 – Drieë: Ruben Herbst (2), Gerhard Oosthuizen, Brandon Crous. Doelskoppe: Ruan Smith (3).
Ander spanne:
o.16: Hoërskool Pieterburg 24, Ben Vorster 8; Die Anker 40, Hoërskool Lichtenburg 0; Heidelberg Volkskool 31, Hugenote (Springs) 14.
o.15: Hoërskool Pietersburg 8, Ben Vorster 7; Die Anker 26, Hoërskool Lichtenburg 8; Heidelberg Volkskool 36, Hugenote (Springs) 12.
o.14: Ben Vorster 25, Hoërskool Pietersburg 20; Die Anker 17, Hoërskool Lichtenburg 10; Heidelberg Volkskool 18, Hugenote (Springs) 5.
- Merensky, Wessies reeds vir tweede keer vanjaar slaags - 2025-01-24
- Middelburg vroeg reeds vanjaar in groen en rooi getooi - 2025-01-24
- Van Staden en Zwarries het Dinamika in hul visier - 2025-01-24