Klofies skok Jansies in Boksburg
Hoërskool Waterkloof het, danksy Riwan van Aswegen se drie in die doodsnikke, vir een van die grootste opskuddings van die afgelope naweek se skolerugby gesorg. Die span van Pretoria het op die nippertjie vir Hoërskool Dr EG Jansen met ‘n telling van 45-38 getroef in hul NWU Sportreeks-stryd in Boksburg.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools. (www.supersportschools.com).
Met die telling gelykop met 38-38, en speeltyd bykans verstreke, het Van Aswegen vanuit sy eie halfgebied deurgebreek om tussen die Jansies se pale te druk en die uitklophou vir die Klofies te plant.
Die besoekers het dit van meet af duidelik gemaak dat hulle nie vir die tuisspan sou terugstaan nie. Die Pretorianers se pak voorspelers het floreer op die fisiekheid wat voorlangs aan die orde van die dag was, met agtsteman, Marko Kok, wat oudergewoonte ‘n barshou gespeel het.
Kok het puik ondersteuning ontvang van loskopstut, Juan Gouws, en oopkantflank, Divan Botha, met laasgenoemde wat, na ‘n ywerige stukkie opvolgwerk, met ‘n drie beloon is. Die druk voorlangs het tot ongedwonge foute aan die kant van die Jansies gelei, en teen rustyd het die Klofies reeds ‘n gerieflike voorsprong van 35-14 geniet.
Die tweede helfte was egter ‘n perd van ‘n ander kleur. Die tuisspan het hul ritme begin vind, en die agterstand in slegs ‘n paar minute uitgewis. Buitesenter, Jeandre Jacobs, het weer blink vertoon en twee keer agter Waterkloof se doellyn gaan kuier.
Op die einde van die dag was Franco Cronje, die Klofies se losskakel, se skopskoen die beslissende faktor, aangesien die skerpskutter van Pretoria met ses doelskoppe en ‘n strafdoel geslaag het vir ‘n volmaakte skoprekord op die dag.
Hoër Tegniese Skool Middelburg het weer teruggekeer na die wenpad deur die besoekende Hoërskool Kempton Park met 36-22 te verslaan.
Heelagter, Jaque Stassen, was uitstekend en het, benewens vier doelskoppe en ‘n strafdoel, self ook ‘n drie gedruk om 16 van sy span se punte aan te teken. Tiaan Delport, Kempies se losskakel, was ewe indrukwekkend met sy korrelwerk pale toe en het ook geslaag met vier doelskoppe en ‘n strafdoel.
Puntemakers:
Waterkloof 45 (35) – Driee: Migael Prinsloo (2), Riwan van Aswegen, Happy Makate, Divan Botha, Ronan Bastiaanse. Doelskoppe: Franco Cronje (6). Strafdoel: Cronje. Dr EG Jansen 38 (14) – Driee: Jeandre Jacobs (2), Danre Pike, R-Jay Pietersen, Storm Labuschagne. Doelskoppe: Matthew Bergman (5). Strafdoel: Bergman
HTS Middelburg 36 (26) – Driee: CJ Muller, Hanro Terblanche, Reece Botha, Jaque Stassen, Dirk du Plooy. Doelskoppe: Jaque Stassen (4). Strafdoel: Stassen. Kempton Park 22 (15) – Driee: Deon Mulligan, Joshua Meyer, Wian Rieckert. Doelskoppe: Tiaan Delport (4). Strafdoel: Delport.
Ander spanne:
o. 16: EG Jansen 33, Waterkloof 24; Kempton Park 42, HTS Middelburg 17.
o. 15: Waterkloof 15, EG Jansen 10; Kempton Park 25, HTS Middelburg 0.
o. 14: EG Jansen 12, Waterkloof 7; Kempton Park 24, HTS Middelburg 22.
- Marais Viljoen durf 2025 aan met nuwe rugbyhoof en ywer - 2025-02-12
- Klofies beëindig Yesbere-segetog - 2025-02-12
- Groot honde in Finsbury se B-afdeling pak mekaar - 2025-02-11