SuperSport Schools Plus

Klofies-sege verseker eerste trofee van die jaar

By Franco Oberholzer , in Cricket | Featured Cricket | News , at 2024-02-26 Tags: , , ,

Hoërskool Waterkloof het sy eerste trofee van 2024 ingepalm, deur Hoër Volkskool Potchefstroom in die A-Afdeling van die Finsbury-reeks  te verslaan.

Die Klofies het regdeur die reeks dominant vertoon, en daar was ook geen keer aan die span van die Jakarandastad in Saterdag se eindstryd nie.

Die Klofies se aanvangskolwers, Wian Ruthven en Divan Behrens, was oudergewoonte in ‘n aanvallende bui.

Ruthven was verál genadeloos met die kolf en het gereeld gebruik gemaak van sy geliefde trekhou om die Volkie-boulers onder kwaai druk te plaas.

Die vurige aanvangskolwer het inderdaad indrukwekkend gekolf vir sy 83 lopies van net 48 aflewerings. Sy beurt het ses viere en agt sesse ingesluit.

Behrens het hierdie slag goed geroteer vir sy 23 lopies, en hy en Ruthven het die Klofies stewig in die saal geplaas met ‘n 99-lopie vennootskap om die eerste paaltjie. Kaptein, Beukes van den Berg, het sy uitstekende werk met die handskoene agter die paaltjies, opgevolg met ‘n blitsige 23 lopies.

Die Klofie-boulers verdien ook ‘n klop op die skouer. Jaydon Blom het van voor gelei met drie paaltjies vir 33 lopies, terwyl die draai-duo van Marcus Bakker (2/15) en Ruthven (2/24) ook uitstekend vertoon het in hul lang skofte.

Vir die span van Potchefstroom het Louis van Wyk weer uitgeblink. Die Volkie-aanvangskolwer het doelgerig gekolf om sy span se hoogste telling van 59 lopies aan te teken. Diaan van der Merwe het hom  bygestaan met 27 lopies, en so kon hulle die Potchefstromers se beurt met ‘n 57-lopie vennootskap afskop.

Daarna het Volkies egter ‘n teleurstellende ineenstorting beleef en moes hulle tevrede wees met ‘n totaal van slegs 151 lopies. Hulle draaier, Olefa Padi, het hard gespook om sy span terug in die wedloop te plaas, met twee paaltjies vir net 23 lopies. Dit was egter tevergeefs en die besoekers moes die knie met ses paaltjies buig.

Hoërskool Eldoraigne het hul plek in die reeks se A-Afdeling vir 2025 bespreek na ‘n uitmuntende oorwinning met 57 lopies oor Hoërskool Centurion.

Marinus Langerman het die platform vir die Eldos gelê. Die voorslagkolwer het teen ‘n beduidende tempo vir sy 73 lopies van 51 aflewering gekolf. Die bestendige Cameron Welsh (31) en Ryno Redelinghuys (30) het hom mooi ondersteun om die Eldos tot ‘n bevredigende telling van 224 aan te help.

Die Eldo-boulers was ook in ‘n verwoestende bui. Ruhan Oliphant (3/33) en Cameron Welsh (2/38) het die aanslag gelei, terwyl MJ Buitenbach ook twee paaltjies vir 19 lopies laat kantel het.

Die Woeries se twee Prinsloo’s, kaptein, Charl, en Morné, was die span se twee uitblinkers. Eersgenoemde het puik gekolf om 55 op sy kerfstok te plaas.

Hy het ook twee paaltjies vir 35 lopies laat val. Morné Prinsloo was die Woeries se beste bouler. Hy het drie paaltjies vir 47 laat kantel, en was ook lekker op dreef met 27 lopies. Anton Stassen het met 34 lopies ook uitgestaan.

Beknopte telkaarte:

Hoër Volkskool Potchefstroom: 151 (Louis van Wyk 59, Diaan van der Merwe 27; Jaydon Blom 3/33, Marcus Bakker 2/15, Wian Ruthven 2/24, Franco Schmidt 2/36). Hoërskool Waterkloof: 157/4 (Wian Ruthven 83, Divan Behrens 23, Beukes van den Berg 23; Olefa Padi 2/23). Waterkloof wen met ses paaltjies.

Hoërskool Eldoraigne: 224 (Marinus Langerman 73, Cameron Welsh 31, Ryno Redelinghuys 30, Ryno Mulder 24; Morne Prinsloo 3/47, Charl Prinsloo 2/35); Hoërskool Centurion: 167 (Charl Prinsloo 55, Anton Stassen 34, Morné Prinsloo 27; Ruhan Oliphant 3/33, MJ Buitenbach 2/19, Cameron Welsh 2/38). Eldoraigne wen met 57 lopies.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.