Klerksdorp slaggereed vir aanslag uit Boksburg
Daar is slegs een wedstryd om na uit te sien in die Finsbury-reeks se Afdeling E eerskomende Saterdag, met Hoërskool Klerksdorp en Hoërskool Dr EG Jansen wat in Klerksdorp kragte meet.
Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die rede hiervoor is dat Merensky Landbou Akademie en Hoërskool Secunda albei betrokke is by die onderskeie streek-uitspele van die Schools SA20 T20-toernooi wat in Benoni en Johannesburg plaasvind. Dit beteken voorts dat Hoërskool Linden en Hoërskool Wesvalia elkeen ‘n loslootjie geniet.
Die Klerskdorpers is steeds op soek na ‘n eerste sege in vanjaar se reeks, nadat hulle verlede naweek met ses paaltjies teen Secunda vasgeval het. Die voorslagkolwer, Jordan van der Schyff, het nietemin sy vernuf met die kolf tentoongestel met 57 lopies wat die hoeksteen gevorm het van sy span se beurt. Hy sal vasberade wees om daarop voort te bou teen die Jansies.
Benewens Van der Schyff, sal daar heelwat verantwoordelikheid rus op die veelsydige Gerrit Koen, wat met sowel die bal as kolf ‘n impak kan maak. Koen se teenwoordigheid in die middelorde versterk die Klerksdorpers se kolflys aansienlik, soos gewys met sy beurt van 36 lopies teen die span van Mpumalanga verlede Saterdag.
Die span van Boksburg is netjies op dreef nadat hy met vier paaltjies oor Hoërskool Linden geseëvier het. Dit was danksy ‘n uitstaande vertoning met die bal deur Jayden van Wyk, wat Saterdag weer ‘n handvol kan wees.
Buiten Van Wyk, beskik die Jansies ook oor die dienste van Jaco Engelbrecht, wat verlede jaar opslae gemaak het by die CSA Nasionale o.16-week toe hy ses paaltjies in sy eerste beurt teen Kei laat spat het. Hy het die Finsbury-reeks stil-stil begin, maar almal is bewus van die gevaar wat sy swaaiboulwerk inhou.
Bepalings:
Week 3:
Hoërskool Klerksdorp t. Dr EG Jansen