Kiara droom oor daai Protea-rokkie
Noordheuwel se 18-jarige Kiara van Eeden het reeds merkwaardige prestasies in haar netballoopbaan op skool behaal.
Sy is in haar matriekjaar gekies vir Suid-Afrika se o.21-span (Baba Proteas) en het ook die nasionale o.16-span verteenwoordig wat ‘n goue medalje by die Afrika-spele in 2022 verower het.
Daarbenewens het sy ‘n sleutelrol gespeel in die o.18 Fast Five-span wat ‘n silwermedalje by die Statebond-jeugspele in 2023 ingepalm het.
Die matriekleerder aan Hoërskool Noordheuwel is bekend vir haar veelsydigheid op die baan. Terwyl sy hoofsaaklik as ‘n hulpverdediger diens doen, is sy ook vaardig in die posisies van hulpdoel en senter.
Sy vertel dat haar passie vir netbal as ‘n klein dogtertjie posgevat het, terwyl sy ure langs die baan deurgebring waar haar suster gespeel en geoefen het, en op slegs vyf-jarige ouderdom het sy reeds vir die eerste keer mini-netbal gespeel.
Vir Kiara is netbal meer as bloot ‘n sport; dis haar “gelukkige plek”, waar sy die meeste soos haarself voel.
“Netbal is deel van my DNS,” erken sy.
“Ek kan nie my lewe daarsonder indink nie. Die opgewondenheid wat ek voel wanneer ek die baan betree, kan ek nie beskryf nie.
“Ek geniet elke uitdaging, om op my voete te dink, om die spel te lees en om onderskeppings te probeer maak.”
Laasgenoemde is ‘n gebied waarop sy werklik uitblink.
Haar reis was egter nie sonder uitdagings nie. Kiara het ‘n moeilike tyd beleef toe sy harsingskudding opgedoen het in ‘n vriendskaplike wedstryd twee dae voor die Menlo-netbaltoernooi.
“Noordheuwel speel elke jaar aan die begin van die seisoen in hierdie toernooi, en dit sou my laaste Menlo-toernooi gewees het. Weens my besering kon ek nie speel nie, wat hartverskeurend was. Ek moes van die kantlyn toekyk, maar ek het my span deur die hele toernooi ondersteun.”
Kiara kyk op na die voormalige Protea-netbalspeler Karla Pretorius en droom daarvan om eendag die Protea-netbalrok te dra.
“Netbal is my passie, en ek hoop om ’n loopbaan daarvan te maak,” sê sy.
Sy besef dat haar harde werk alleen nié tot haar sukses sou gelei het nie en vertel dat die ondersteuning van haar afrigters, ouers, suster en vriende ‘n reuse rol gespeel het.
“Hul aanmoediging het ‘n deurslaggewende rol gespeel om my te help om die sleutelmylpale in my hoërskool-netballoopbaan te bereik.”