Keulder klink Jansies se doppie, Slabbert en Janse van Rensburg boelie Trekkers
Afrikaanse Hoër Seunskool se Hanro Keulder het gemaai onder Hoërskool Dr. EG Jansen se kolwers om Affies se tweede span tot ‘n 26-lopie-sege op die derde dag van die Izintaba Gimmies-Krieketfees te lei.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Dit was spoedig duidelik, nadat Keulder die nuwe bal geneem het, dat hy die Jansies heelwat hoofbrekens sou besorg. Die aanvangsbouler het vyf paaltjies laat spat, terwyl hy slegs 34 lopies in sy toegelate 10 beurte afgestaan het.
Hy het met slegs 16 van sy totale 60 balle lopies afgestaan en 44 leë aflewerings afgevuur.
Die Jansies se Jaco Engelbrecht, wat eers op nege gekolf het, het weer uitgeblink om 54 lopies in te ryg. Juan Ungerer het ook sy staal gewys met ‘n blitsige 52 lopies, terwyl die Jansies se kaptein, Adrian Ristow, teen ‘n lopie per bal gekolf het vir sy 46. Ristow het ook met die bal bygedra en drie paaltjies geëis.
Die Affie-kolwers was egter nét ‘n rapsie beter en Iwan van der Lith en SF Vermeulen het die beurt netjies afgeskop met ‘n vennootskap van 106. Van der Linth was ook die Pretorianers se voorste kolwer met 63 lopies, terwyl Vermeulen sy deel bygedra het met 33.
Blake Curtain het weer hand opgsteek met ‘n waardevolle 45 lopies, met Dylan Koegelenberg (44) kort op sy hakke. Dit was ook danksy hierdie bydraes dat Affies uiteindelik koning gekraai het.
Hoërskool Klerksdorp se Danre Slabbert en Stephan Janse van Rensburg het Hoërskool Voortrekker van Bethlehem ‘n behoorlike krieketles geleer.
Slabbert het nie op hom laat wag met die nuwe bal nie en sonder veel moeite die hart uit Voortrekker se kolflys geruk met syfers van 5/30. Sy vennoot, Brendan Matthyse, het verdere sout in die wonde gesmeer met twee paaltjies om die span van Bethlehem tot slegs 111, die sogenaamde Nelson, te beperk.
Daarna was dit Janse van Rensburg se beurt om die kollig te steel en die aanvangskolwer het die jaagtog bykans manalleen afgehandel. Hy het ‘n blitsige 96 nie uit nie, van slegs 35, gemoker, Sy beurt, wat agt viere en sewe sesse ingesluit het, het die Klerksdorpers in staat gestel om die teiken, sonder die verlies van ‘n paaltjie, in die agtste beurt te kon bereik en met 10 paaltjies te wen.
Wian Munnik se beurt van 80 lopies het vir Paarl Gimnasium tot nóg ‘n puik oorwinning van 38 lopies gehelp, dié keer oor Hoërskool Kempton Park. Adriaan Louw (33) het goeie ondersteuning gebied om die span van die Paarl tot ‘n totaal van 205 te neem. Die Kempies se Kaden Posthumus was die grootste gevaar met die bal en het twee paaltjies vir slegs 18 lopies laat kantel.
Die Kempies se kolwers kon nie heeltemal kers vashou by dié van Gimnasium nie. JJ Havenga het goed gevaar om 34 aan te teken maar was kort daarna een van Charles King se drie slagoffers.
Matt Dippenaar het die meeste skade aangerig met sy vyf paaltjies wat die Kempies se kolflys in duie laat stort het. Wat sy vertoning des te meer indrukwekkend gemaak het is dat hy slegs nege lopies afgestaan het in die 5.4 beurte wat hy afgestuur het.
Beknopte telkaarte:
Affies 2de XI 263/9 (Iwan van der Lith 63, Blake Curtain 45, Dylan Koegelenberg 44, SF Vermeulen 33; Jayden Barnes 3/35, Adrian Ristow 3/50, Andre Pretorius 2/27); Dr. EG Jansen 238 (Jaco Engelbrecht 54, Juan Ungerer 52, Adrian Ristow 46, Egan Pretorius 36; Hanro Keulder 5/34). Affies 2de XI wen met 26 lopies.
Voortrekker 111 (Henry Janse van Rensburg 44, Joel Coetzee 21; Danre Slabbert 5/30, Brendan Matthyse 2/15); Hoërskool Klerksdorp 115/0 (Stephan Janse van Rensburg 96*). Hoërskool Klerskdorp wen met tien paaltjies.
Paarl Gimnasium 205 (Wian Munnik 80, Adriaan Louw 33; Kaeden Posthumus 2/18, Warren Pretorius 2/33, Martin Williams 2/49); Hoërskool Kempton Park 167 (JJ Havenga 34, Marko Richter 25, Wian Pieters 23, Floors Mynhardt 20, Sheldon Kruger 20; Matt Dippenaar 5/9, Charles King 3/39). Paarl Gimnasium wen met 38 lopies.
- Free State finish with a flourish - 2025-07-11
- Viljoen fires Lions to third straight title - 2025-07-11
- Results – FNB u18 Academy Week – Day 3 - 2025-07-11