SuperSport Schools Plus

Kempies, Pieters slaggereed vir Gimmies in Potch

By Franco Oberholzer , in Cricket | Featured Cricket | News , at 2025-01-23 Tags: , , , , , ,

Foto: Hoërskool Kempton Park op Facebook.

Nadat die eerste naweek van aksie in die B-afdeling van die Finsbury-reeks basies in ‘n swemgala ontaard het, kan die ses deelnemende skole se ondersteuners hierdie slag uitsien na ‘n aksiebelaaide Saterdag .

Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

In só ‘n talentbesaaide afdeling is dit bitter moeilik om te voorspel wat die drie kragmetings gaan oplewer. .

Hoërskool Kempton Park durf die N12 na Potchefstroom aan, om met ‘n giftige Potchefstroom Gimnasium kragte te meet. Die Gimmies het die vorige week gewys wat in hulle steek om die streek-uitspele van die Schools SA20 in Potchefstroom te haal en het vroeër in die kompetisie ook met die uiteindelike kampioen, St Andrew’s School van Bloemfontein, afgereken.

Alhoewel T20-krieket ‘n perd van ‘n ander kleur is, het die tuisspan reeds in sy wedstryd teen Hans Moore vroeër in die week ook kookwater-krieket gelewer in die 50-beurt formaat. Hulle het in dié kragmeting met 36 lopies koning gekraai, met staatmaker, Caiden Seleka, wat die waarskuwingskote met ‘n pragbeurt van 67 lopies, van net 60 aflewerings, laat klap het.

Die Kempies onder leiding van kaptein, Marko Richter, beskik self oor heelwat grofgeskut, met die span van die Oos-Rand wat ‘n gros spelers behou wat deel uitgemaak het van verlede jaar se suksesvolle seisoen. Wian Pieters sal waarskynlik die sleutel, met sy veelsydigheid, met sowel die bal as kolf, wat van sy span sterk aanspraakmakers op die titel maak.

In Alberton wag daar ‘n liplekker-stryd op die ondersteuners van Hoërskool Marais Viljoen en die besoekers van Benoni, Hoërskool Hans Moore. Die Moories, wat hulself verlede jaar as die Fain Noordvaal-kampioen en een van die krieketkragte Noord van die Vaalrivier gevestig het, is ongetwyfeld ‘n span om dop te hou.

Daar is geen tekort aan talent die kolfdepartement nie, met voorslagkolwers soos Xavier Coetzee en Kenan en Aiden Shaw in hul midde. Marais Viljoen is self nie te versmaai met die wilgerlat nie. Sy kaptein, Jaden Govender, wat onlangs deel van die SA o.19-groep teen Engeland uitgemaak het, sal heelwat waarde met die kolf en ook handskoene agter die paaltjies toevoeg.

Die nuwelinge, Hoërskool Centurion, wat van die A-afdeling moes afskuif, ontvang vir Hoërskool Montana in Centurion. Die Monties, een van die minder bekende krieketskole in Pretoria, het oor die laaste paar jaar, stil-stil hul pad na bo oopgespeel met ‘n sterk en goed georganiseerde krieketprogram. Derhalwe moet die Woeries op hul hoede wees vir Luca Bairos en die res van die Monties.

Bepalings:

Week Twee:
Potchefstroom Gimnasium t. Hoërskool Kempton Park
Marais Viljoen t. Hans Moore
Hoërskool Centurion t. Montana

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.