SuperSport Schools Plus

Kempies glip by die agterdeur in tot die halfeindronde van die Plaat-kompetisie

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2022-08-16 Tags:

Die Hoërskool Kempton Park het by die agterdeur van Noordvaaltrofee se Plaat-kompetisie by die uitspeelrondes ingeglip.

Die Kempies het op sy tuisveld ‘n bonuspunt-oorwinning van 32-17 oor die Hoërskool Rustenburg behaal.

Dié nederlaag het boonop ook die Rusties se sake deurmekaar gekrap. Hulle sal nou na Middelburg moet reis waar die Hoërskool Middelburg hul sal inwag.

Die Hoërskool Nelspruit moes hard werk in Vanderbijlpark om vir Transvalia met 29-17 die loef af te steek. Die Rhinos het in die moeilike omstandighede weens ‘n sterk wind sy lynstane en dryfmale tot groot sukses ingespan.

Die Rhinos sal in die ander halfeindstryd van die reeks op sy tuisveld in Mbombela teen Kempton Park te staan kom.

Transvalia se plaasvervanger-voorryman Heinrich Marnitz moes in die plek van Zuan van Niekerk op die bank sy plek inneem. Hy het sy geleentheid aangegryp en ‘n goeie vertoning opgedis.

Die verloorspan se agtsteman, Ruben Olivier, het ‘n reuse wedstryd beleef. Hy het op die aanval sowel as die verdediging sy span in die wedstryd gehou. Hy is goed voorlangs deur die flank Heinrich Bisschoff bygestaan.

Agterlangs het die Valke se Cravenweek-senter Kean Rossouw ‘n rotsvaste vertoning op verdediging beleef. Die heelagter, Juandré Nel, het ook elke keer gevaarlik gelyk wanneer hy in besit gestel is.

Montana het sy seisoen met ‘n sege van 44-34 oor Ben Vorster van Tzaneen afgesluit. Die besoekers van Tzaneen het teen rustyd nog hoop gehad om vir hul hoof van rugby, Reinhard Gerber, ‘n afskeidsgeskenk te gee met die telling op 17-15 in hul guns.

Gerber het intussen na Duitsland vertrek waar hy sy afrigtingsloopbaan sal voortsit. Montana se buitesenter, Jahnno Lehmann, het twee keer die doellyn oorgesteek.

Puntemakers: 

Kempton Park 32 – Drieë: Henco Potgieter, André du Plessis, Brendon Gerber, Divan Bouwer. Doelskoppe: Potgieter (3). Stafdoele: Potgieter (2). Hoërskool Rustenburg 17 – Drieë: Carlo van Wijk (2), Hugo van Niekerk. Doelskop: Adriaan Liebenberg.

Hoërskool Middelburg 42 – Drieë: Zulu van Niekerk (2), Fumani Chauke (2), Grant de Jager, Ben Janse van Vuuren. Doelskoppe: Divan van der Westhuizen (6). Zwartkop 31 – Drieë: Henlu Roos, Owen Schroder, Devon Stelling, Xavier Boikanyo. Doelskoppe: Juandré Venter (4). Strafdoel: Venter.

Hoërskool Nelspruit 29 – Drieë: Brent de Villiers, Ricardo Correira, Bernard van Esch, Danny van Staden, Andeon Pringle. Doelskoppe: Van Staden (2). Transvalia 17 – Drieë: Duan du Toit, Kéan Rossouw, Keaton Ehlers. Doelskop: Du Toit.

Montana 44 (15) – Drieë: Jahnno Lehmann (2), Estian Gouws, Divan Steyn, Vian Kelly, Marco Groenewald, Jannie Kruger. Doelskoppe: Rigard van Rensburg (3). Strafdoel: Van Rensburg. Ben Vorster 34 (17) – Drieë: Hlulani Mbhalati, Liam O’ Reilly, Jan Dippernaar, Joy Ngobeni, Mias Koen. Doelskoppe: Ngobeni (3). Strafdoel: Ngobeni.

Ander spanne: 

o.16: Middelburg 15, Zwartkop 11; Nelspruit 12, Transvalia 3; Rustenburg 19, Kempton Park 14; Montana 43, Ben Vorster 7.

o.15: Middelburg 28, Zwartkop 12; Transvalia 17, Nelspruit 7; Rustenburg 20, Kempton Park 0; Montana 38, Ben Vorster 7.

o.14: Zwartkop 26, Middelburg 7; Transvalia 31, Nelspruit 5; Rustenburg 21, Kempton Park 8; Montana 15, Ben Vorster 12.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.