Kalahari veel meer as bloot buiteperd
Hoërskool Kalahari is veel meer as net ‘n buiteperd nadat hy op Dag 2 vir die Kovsie Smash se tweede groot opskudding gesorg het.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die span van Kuruman se Liam Laing het ‘n taamlike aandeel gehad daarin dat een van die groot kanonne by vanjaar se kompetisie, Hoërskool Transvalia, gesneuwel het.
Laing het op sy vertoning van vroeër die dag verbeter deur dié keer vier paaltjies te laat kantel. Sewe paaltjies in een dag het hom na derde op die algehele lys vir paaltjievrate geneem en beteken voorts dat Kalahari nou die boonste posisie in Groep C beklee.
Charl Thole (3/16) en Leander Smit (2/10) het die druk op Transvalia behou om die span van Vanderbijlpark tot 54 lopies te beperk. Strauss van Heerden het met 29 die jaagtog versnel sodat sy span gemaklik met sewe paaltjies oor die wenstreep kon vlieg.
Nie eens ‘n 50-tal deur Jim Fouché se Joden Vorster was genoeg om ‘n begeesterde Despatch te stuit nie. Vorster moes spook vir sy 52, terwyl Cobus Wilken se 36 die totaal tot 124/5 in die toegelate 20 beurte aangejaag het.
CJ Palfarman (27) en Wian van Rooyen (26) van Despatch het egter saamgespan vir ‘n belangrike vennootskap, nadat Duan Bastone die kat in die duiwehok losgelaat het met boulsyfers van 4/23. Palfarman en Van Rooyen se heldedade het die finale spyker in die doodskis geslaan en Despatch tot ‘n naelbytsege met een paaltjie, sy tweede oorwinning vir die dag, gevoer.
Armand Kotze se uitstaande vertoning het ‘n tweede sege vir HTS Middelburg by vanjaar se kompetisie beklink. Hy het eers met die kolf ‘n aanskoulike 44 lopies gemoker om sy span te help tot ‘n telling van 127/8, en dit opgevolg met ‘n uitstekende boulvertoning van 3/11. Dit het Goudveld Hoërskool beperk tot 106/8 en gelei tot ‘n belangrike sege vir HTS, met 21 lopies, in terme van die uitspeelrondes.
Hoërskool Upington se boulers sal vanaand heel rustig slaap na ‘n merkwaardige uitstappie om Witteberg met 66 kaf te draf. Weilin Lombaard (57) het die grondslag gelê met sy eerste 50-tal van die week om die span van die Noord-Kaap tot 113/6 te help. CJ Botha (3/1), Aiden Lukumbi (3/14) en Ruann Esterhuizen (3/19) het daarna behoorlik die wind uit Witteberg se seile geboul.
Bekopte telkaarte:
Transvalia 54 (Jeanre Barnard 13; Liam Laing 4/20, Charl Thole 3/16, Leander Smit 2/10); Kalahari 55/3 (Strauss van Heerden 29; Eduann Raubenheimer 1/5). Kalahari wen met sewe paaltjies.
Jim Fouché 124/5 (Joden Vorster 52, Cobus Wilken 36; Kegan Meyer 2/32); Despatch 125/9 (CJ Palframan 27, Wian van Rooyen 26; Duan Bastone 4/23, Andre Kleyn 2/33). Despatch wen met een paaltjie.
HTS Middelburg 127/8 (Armand Kotze 44, Anthoni Smuts 23; Louw Fouche 2/20); Goudveld 106/8 (Jendre Ferreira 37*, Kayden Pienaar 29; Armand Kotze 3/11, Henco Britz 2/11). HTS Middelburg wen met 21 lopies.
Hoërskool Upington 113/6 (Weilin Lombaard 57; Kyle Nel 2/14, Anru Erasmus 2/16); Witteberg 47 (Pieter Wessels 19; CJ Botha 3/1, Aiden Lukumbi 3/14, Ruann Esterhuizen 3/19). Hoërskool Upington wen met 66 lopies.