Kalahari bespreek halfeind met een paaltjie, Isaacs trek ses plat vir Fichies

Dit was so hittete. Een paaltjie was egter ál wat Hoërskool Kalahari nodig gehad het om sy plek in die halfeindronde van die tweede Kovsie Smash-toernooi te bespreek.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die span van Kuruman, wat die vorige dag sy eerste nederlaag by vanjaar se toernooi gely het, het behoorlik gesweet om die halfeindronde te haal.
Aanvangsbouler, Kopano Mosienyane (4/17), en Louhan Noeth (3/11) het hul span in ‘n belowende posisie geplaas, maar Bethlehem Voortrekker se JD van Dyk het egter vasgeskop met ‘n voortreflike beurt van 33 lopies en Joel Coetzee (20) het goeie bystand verleen om ‘n totaal van 118 daar te stel – ‘n uitdagende teiken onder moeilike toestande.
Rodney Turner (4/13) het sommer vroeg toegeslaan om Kalahari in die moeilikheid te dompel, maar SW van Heerden het tot die Noord-Kapenaars se redding te kom. Van Heerden, deurlopend een van sy span se voorslagkolwers, het 37 lopies aangeteken, terwyl Shane Corner ook 25 bygedra het om hul span, met slegs ‘n enkele paaltjie staande, tot in die halfeindronde te dra.
Die gasheerspan, Hoërskool Fichardtpark, se Aaron Isaacs het vir Despatch se kolwers talle kopsere besorg. Die Fichies het oudergewoonte gekies om eerste te boul en Isaacs het dadelik hand opgesteek met ses paaltjies vir slegs agt lopies, in die 3.4 beurte wat hy afgestuur het – die beste syfers tot dusver by vanjaar se toernooi.
Marno Smith het daarna die langsteel ingelê vir ‘n blitsige 36, van 30 balle, om die tuisspan gemaklik met vyf paaltjies oor die wenstreep te kry.
Hoërskool Pietersburg, wat regdeur die week beïndruk het, het vasgebyt om Hoërskool Rustenburg naelskraaps met vier lopies te verslaan. Stephan Swanepoel (2/14) en Willem Viljoen (2/18) het die leiding met die bal geneem om die Rusties se krane toe te draai .
Die sege was die Pieties se vyfde agtereenvolgende oorwinning by vanjaar se toernooi en hulle is die enigste ander span, benewens die Fichies, wat steeds onoorwonne is voor die halfeindronde.
Die verdedigende kampioen, Hoërskool Wesvalia, is steeds sterk op pad om sy titel suksesvol te verdedig, deur teen een van die ander gunstelinge by vanjaar se toernooi, Transvalia, te seëvier.
Dit was geensins ‘n maklike oorwinning nie, met Kriegler Botha, die toernooi se voorste paaltjievraat, wat weer skade aangerig het met syfers van 2/11 om die Wessies tot ‘n lae 98/8 in die toegelate 20 beurte te beperk.
Dundre Hales (3/18) en Quwen Fourie (2/16) was egter nie van voorneme om handdoek in te gooi nie, met hul gesamentlike vyf paaltjies, wat dié van die gevaarlike Jeanre Barnard ingesluit het. Die druk was eenvoudig té veel en die span van Vanderbijlpark moes toekyk hoe die laaste paaltjie op 83 kantel, 15 lopies kort van ‘n plek in die halfeind.
Beknopte telkaarte:
Beker Kwarteindronde:
Bethlehem Voortrekker 118 (JD van Dyk 33, Joel Coetzee 20; Kopano Mosienyane 4/17, Louhan Noeth 3/11, Leander Smit 2/17); Kalahari 119/9 (SW van Heerdern 37, Shane Corner 25; Rodney Turner 4/13, Jordan Buitendag 2/25). Kalahari wen met een paaltjie.
Despatch 83 (Tyron Smit 28; Aaron Isaacs 6/8, Nathan Ackerman 3/11); Fichardtpark 84/5 (Marno Smith 36; CJ Palfarman 3/27). Fichardtpark wen met vyf paaltjies.
Hoërskool Pietersburg 127/5 (Jan Hendrik Boneshance 24, AJ Galloway 22*, Hanru Marais 22; Rejean van der Venter 3/16, Henlo van Rooyen 2/20); Hoërskool Rustenburg 123/6 (Tristan van der Linde 32, Hendre Robinson 26; Stephan Swanepoel 2/14, Willem Viljoen 2/18). Hoërskool Pietersburg wen met vier lopies.
Wesvalia 98/8 (Marneau Dreyer 42; Kriegler Botha 2/11, Mjee Roets 2/18); Transvalia 83 (Kriegler Botha 24; Dundre Hales 3/18, Quwen Fourie 2/16). Wesvalia wen met 15 lopies.
Shield Kwarteindronde:
Goudveld 92 (Bul Rademeyer 19; Cashan Jacobsz 4/15, Rinaldo Bornman 3/21, Xander Schoeman 2/22); Merensky 93/6 (Luka Heinlein 27, JP Botha 21; Ruan Dreyer 3/17, Edrich du Plessis 2/22). Merensky wen met vier paaltjies.
Jim Fouché 114/9 (Joden Vorster 23, Cobus Wilken 23; Joshua Visagie 3/11, Xander O’Connel 3/28, Wilmar Myburgh 2/19); Duinelveld 104/8 (Hanno Brand 38; Adrian Engelbrecht 3/8, Cobus Wilken 2/11). Jim Fouché wen met nege lopies.
HTS Middelburg 132/6 (WJ Enslin 46, Anthoni Smuts 23, Armand Kotze 20; Janco de Lange 2/15, Christiaan Schoeman 2/36); Overvaal 70 (Christiaan Schoeman 25; Anthoni Smuts 3/6, Eddie Harris 2/11, JP Muller 2/16). HTS Middelburg wen met 62 lopies.
Oos-Moot 152/6 (David White 41, Ryno Spies 39, Chrisjan van Staden 23; CJ Botha 2/17); Hoërskool Upington 46 (Jordan Fortuin 20*; Edrich Fulls 4/13, Liam du Preez 2/7, Luke Venter 2/9). Oos-Moot wen met 106 lopies.
16de tot 20ste Kwarteindronde:
Trio 127/5 (Gabriel Mocjabela 44*, Byburg Jacobs 24, Caleb Bitler 23; Dumisani Johnson 2/11, Anru Erasmus 2/22); Witteberg 129/5 (Anru Erasmus 29*, Janco Botha 21; Cheslin Moasi 2/28). Witteberg wen met vyf paaltjies.
Sentraal 140/7 (Erik Prinsloo 55, Janre Bornman 26; Leonardo Visser 2/21, Rico Kruger 2/21); Driehoek 114/9 (Lucius Goosen 25, Duan Taljaard 24; Ruardt Kleynhans 3/21, Danny Botes 2/13, Juandre Weideman 2/20). Sentraal wen met 26 lopies.
Halfeindrondes:
Beker:
Fichardtpark t. Kalahari
Wesvalia t. Pietersburg
Bowl:
Despatch t. Bethlehem Voortrekker
Transvalia vs Rustenburg
Skild:
Jim Fouché t. Merensky
HTS Middelburg t. Oos Moot
Plaat:
Duineveld t. Goudveld
Overvaal t. Upington
16de tot 20:
Trio t. Sentraal
Witteberg t. Driehoek
- Free State finish with a flourish - 2025-07-11
- Viljoen fires Lions to third straight title - 2025-07-11
- Results – FNB u18 Academy Week – Day 3 - 2025-07-11