JF en Witteberg pak mekaar op netbalbaan
Hoërskool Jim Fouche (JF) en Hoërskool Witteberg sê mekaar môre die stryd aan op die netbalbaan, as deel van die Wesgrow Sentrale Sportbyeenkoms.
Die wedstryd vind Dinsdag 12 Maart om 12:30 by JF se sportterrein in Bloemfontein plaas.
Volgens Roechelle van der Merwe, kaptein van JF, is haar span vasberade om vanjaar uiters mededingend te wees, en verál oorgehaal om moremiddag alles in die stryd te werp.
Dit beloof nietemin om ‘n titaniese netbalwedstryd af te gee.
Witteberg se afrigters, Carin Ackerman en Olga du Toit, het ‘n absolute passie vir sowel netbal as kinders, en hul vernaamste doel is om terug ploeg na die jonger generasie toe.
Volgens Ackerman is Witteberg vreeslik opgewonde oor alles wat die span vanjaar wil bereik, en kan hulle nie wag vir die seisoen om te begin nie.
“Juis daarom sien ons geweldig uit na more se kragmeting,” voeg Du Toit by.
“Ons besef dat dit ‘n taai stryd sal wees, teen sterk opposisie soos JF, maar ons sal ons bes gee tot die einde. Ons sien uit na die uitdaging.”
Hoërskool Witteberg se span: Ina-Marie Pierce, Jane de Villiers, Jaylene Douglas, Leoze Lottering, Sharmell Nkomo, Jade Adams, Kathelo Mokhina, Lesedi Motaung, Tharina O’Connor en Kaylin Stoffberg.