Jansies oorgehaal om onoorwonne status te behou
Dit behoort te gons in Middelburg Saterdag wanneer HTS Middelburg en Hoërskool Dr EG Jansen mekaar die stryd aansê.
Die Rooibulle sal natuurlik daarop uit wees om die Jansies se onoorwonne segetog vanjaar te probeer beëindig.
Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools. Skakel na die wedstryde.
Die Jansies het vroeg reeds aangedui dat hulle een van die spanne is om te klop vanjaar. Die span van Boksburg het juis onlangs teruggekeer van ‘n vrugtevolle toer na KwaZulu-Natal, waar hulle al hul wedstryde op die Kearsney Easter Rugby Festival gewen het.
Dr EG Jansen se indrukwekkendste vertoning was hul laaste een, waartydens hulle die gasheerskool, Kearsney College, oortuigend met 36-11 verslaan het.
Soos reeds gesien vanjaar, beskik die Jansies oor ‘n giftige agterlyn. Matthew Bergman, die span se losskakel, verpersoonlik die begrip “generaal” en slaag gereeld daarin om die gevaarmanne aan sy buitekant los te laat. Buitesenter, Jeandre Jacobs, was reeds ‘n paar keer vanjaar in ‘n verwoestende bui en die Rooibulle sal hom fyn moet dophou.
Voorlangs wag losskopstut, Zian Marais, en haker, Danre Pike, op die Rooibulle se voorhoede. Pike, verál, is met mening op dreef en het al ‘n hele paar keer agter die doellyn gaan kuier, danksy die Jansies se kragtige rolmaalbewegings .
Die Jansies kan egter allermins bekostig om op hul louere rus. Die Rooibulle is vanjaar duidelik honger om ‘n paar groot honde in die stof te laat byt en spog reeds met ‘n naelskraapse oorwinning van 20-19 oor Hoërskool Transvalia in die vroeë rondes van die NWU Sportreeks.
Kaptein en oopkantflank, Toy Engelbrecht, sal uitsien na sy tweestryd met een van die Valke se aanspraakmakers op die nr. 6-trui, Zade-Leigh Rippenaar, terwyl agtsteman, Tertuis Bezuidenhout, en steelkantflank, Anthoni Smuts, ook nie sal terugdeins wanneer dit by die fisieke aspek van die stryd kom nie.
Hoërskool Middelburg durf die Moot aan wanneer hulle Saterdag weg teen Oos-Moot te staan kom. Die Oosies sal begeesterd wees nadat hulle vir Hoërskool Nelspruit met met 37-29 getroef het in die laaste ronde voor die vakansie. Die Middies sal verál moet ligloop vir die ervare losskakel, Ruwan Allen, en steelkantflank, Wade Williams.
Wat die besoekers betref, sal heelwat verantwoordelikheid rus op die skouers van losskakel, Matthew Abbey. Abbey se rekord vanaf die skopkegel is tot op hede uitstekend, dus sal Oosies hul beste voetjie wil voorsit wat dissipline betref om Abbey van die kans te ontneem om pale toe aan te lê.
Ander wedstryde:
12:20 – Nelspruit t. Eldoraigne, 12:30 – Waterkloof t. Transvalia.
Die spanne:
HTS Middelburg: 15 Jaque Stassen, 14 Sphesihle Skosana, 13 Luhan Graaff, 12 Johnny dos Santos, 11 CJ Muller, 10 Darius Breytenbach, 9 Reece Botha, 8 Tertius Bezuidenhout, 7 Anthoni Smuts, 6 Toy Engelbrecht, 5 Sam Ndwandwe, 4 Janco Aucamp, 3 Kagiso Gumbi, 2 Hanro Terblanche, 1 Dirk du Plooy.
Hoërskool Dr EG Jansen (moontlik): 15 R-Jay Williams, 14 Jean-dre Claasen, 13 Jeandre Jacobs, 12 Steven Williams, 11 Keanu van Loggerenberg, 10 Matthew Bergman, 9 Riekus van der Merwe, 8 Storm Labuschagne, 7 Divan Francis, 6 Zade-Leigh Rippenaar, 5 Zandre naude, 4 Gerhard van Aswegewen, 3 Duwan Potgieter, 2 Danre Pike, 1 Zian Marais.
Hoërskool Oos-Moot: 15 Naylan Albertus, 14 Jayden Pretorius, 13 Drew Williams, 12 Dewron Aford, 11 Nick Venter, 10 Ruwan Allen, 9 Franco O’Neale, 8 Deon Badenhorst, 7 Wade Williams, 6 Bertus van Dyk, 5 Jaydon Botha, 4 Connor de Jager, 3 Christian Smith, 2 Clayton de Bruyn, 1 Jandre de Beer.
Hoërskool Middelburg: 15 Crawford Joubert, 14 Sihle Mkhatshwa, 13 Eckard Marx, 12 Lungelo Maseko, 11 Jacque Greyling, 10 Matthew Abbey, 9 Keabetswe Nkgadema, 8 Jabu Mathebula, 7 Khensani Buthelezi, 6 CW Hanekom, 5 Enrico Thompson, 4 Rogan van der Walt, 3 Wandisa Mthombeni, 2 Roux Grobler, 1 Wian Olwagen.