Jansen, Jooste hol Klofies dronk

Vyf drieë tussen twee van die Nories se uitblinkers het die Klofies se ondergang bewerkstellig in Pretoria.
Herleef die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Hoërskool Noordheuwel het verras met ‘n uitmuntende vertoning om een van die onoorwonne spanne in die Noordvaal Cup se Beker-afdeling, Hoërskool Waterkloof, ‘n les in hardlooprugby te leer. Die Krugersdorpers het ‘n wegholoorwinning van 53-32 in die Jakarandastad behaal.
Die Norie Blues se ster, Cheswill Jooste, het gewys hoekom hy as een van die beste heelagters in Suid-Afrikaanse skolerugby beskou word. Sy skuif van buitesenter na agter het die nodige X-faktor vir die besoekers gebied en hy het elke gaping met oorgawe aangeval om twee keer te gaan druk.
Dit het die Nories se gevaarlike linkervleuel, Lindsey Jansen, duidelik aangesteek en Jansen het die kollig gesteel met ‘n indrukwekkende driekuns aan drieë.
Die tuisspan se haker, Ruan Jacobs, was weer uitstaande en het beslis na hoogste versnelling oorgeskakel na die skoolvakansie om met sy sterk barslopies telkens oor die voordeellyn te kom. Oopkantflank, Divan Botha, het waarskynlik sy beste vertoning van die jaar gelewer. Botha was prominent op die aanval en is, nes Jacobs, met twee drieë beloon.
In Mbombela het Hoërskool Nelpruit se Rhinos dit drie uit drie gemaak deur vir Hoërskool Menlopark met 33-28 te klop. Haker, Regardt Vermaak, was hier ook aan die spits, het ‘n barshou gespeel in die vastelos en ook ‘n tweekuns behaal.
Vermaak het oudergewoonte puik ondersteuning van sy hardwerkende agsteman, Vaughn van Zyl, ontvang. Van Zyl het die Parkies vanuit die staanspoor gelooi met kragtige lopies en rotsvaste verdediging.
Die besoekers se agsteman, Rocco Myburgh, was ewe goed en, ten spyte van ‘n swaar seisoen vir die Pretorianers, ‘n reuse uitblinker. Hy het sy lyf op die spel gesit om Menlopark oor die voordeellyn te kry, terwyl linkervleuel, Divan Nel, oudergewoonte na ‘n praglopie oorgeglip het vir ‘n drie.
Dit was helaas net-net nie genoeg nie en die span van Pretoria moes met die kous oor die kop huiswaarts keer.
Puntemakers:
Noordheuwel 53 (19) – Drieë: Lindsey Jansen (3), Cheswill Jooste (2), Jarred Coetzee (2), Ignatius Jantjies. Doelskoppe: Jeandre Uithaler (5). Strafdoel: Uithaler. Waterkloof 32 (15) – Drieë: Ruan Jacobs (2), Divan Botha (2), Happy Makate. Doelskoppe: Ronan Bastiaanse (2). Strafdoel: Batiaanse.
Hoërskool Nelspruit 33 (12) – Drieë: Regardt Vermaak (2), Vaughn van Zyl, Liam Pringle. Doelskop: Theuns Meyer. Strafdoele: Meyer. Menlopark 28 (7) – Drieë: Divan Nel, Rocco Myburgh, Gustav Schäffner, Nathen du Plessis. Doelskoppe: Phillipus de Bruyn (4).
Ander spanne:
o.16: Noordheuwel 28, Waterkloof 19; Menlopark 24, Nelspruit 0.
o.15: Noordheuwel 46, Waterkloof 10; Menlopark 43, Nelspruit 7.
o.14: Noordheuwel 39, Waterkloof 20; Nelspruit 15, Menlopark.
- Genis, Strydom plaas Middies in stewige posisie vir promosie-stryd - 2025-02-13
- Marais Viljoen durf 2025 aan met nuwe rugbyhoof en ywer - 2025-02-12
- Klofies beëindig Ysbere-segetog - 2025-02-12