Jacobs sorg vir Jansie-jolyt op die Heuwel
KRUGERSDORP – Wie anders as die Arende se Juandre Jacobs om die wa deur die drif te trek?
Herleef al die aksie en opwinding op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die buitesenter van Hoërskool Dr. EG Jansen se drie was genoeg om ‘n sege van 34-30 oor Hoërskool Noordheuwel in die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling, in Krugersdorp, te verseker.
Jacobs het met sowat 10 minute speeltyd oor deurgebars en veld af gepyl vir die beslissende vyfpunter in die wedstryd.
Die kragmeting het aan al die verwagtinge van ‘n uiters fisieke stryd voldoen, met die twee spanne wat mekaar kapoet geduik het, maar daar was ook deurbrake bewerkstellig met kragtige lopies.
Die tweestryd tussen die kapteins, Duwan Potgieter (EG Jansen) en Meyer Opperman (Noordheuwel), het op sigself vir hope opwinding hesorg. Hulle het behoorlik arm gedruk in die skrums, met Potgieter wat hier net-net die oorhand geniet en ‘n stewige platform help skep het vir die Arende se agterlyn om aanvalle te loods.
Die Blues se steelkantflank, Donovan Breedt, het uitgetroon in die lynstane om die lewe moeilik te maak vir die besoekers, terwyl die indrukwekkende Lindsey Jansen sy goeie spelpeil agterlangs voortgesit en twee van die Norie-Blues se vier drieë gedruk het.
Die Jansies se flankpaar, Divan Francis en Zade-Leigh Rippenaar, was oudergewoonte genadeloos op die verdediging en in gebroke spel, met Francis, in besonder, wat een van sy beste vertonings vanjaar opgedis het.
Albei spanne het die bal lekker lug begin gee in die tweede helfte en het dit gesorg vir aanskoulike hardlooprugby. Dit is ook waar die Blues se onvoorspelbare agterlyn kans gekry het om ‘n terugvegpoging te loods en hulle het kort voor die eindfluitjie nog moedig gestoei om by die agterdeur in te glip.
In Rustenburg moes die ander gunstelinge in die afdeling, Hoërskool Waterkloof, hard spook om met 45-35 teen Hoërskool Rustenburg te wen.
Die Klofies se slot, Stephan de Beer, het weer moue opgerol om voorlangs sy stempel af te druk met ‘n uiters fisieke vertoning. De Beer het tot dusver vanjaar in elke wedstryd sy lyf op die spel geplaas, maar hierdie vertoning in Rustenburg was ongetwyfeld sy beste nóg.
Die Klofies se middeveld-duo, Happy Makate en Riwan van Aswegen, het oudergewoonte kopsere vir die Rusties se verdedigers besorg. Dit sal ook ‘n dag wees wat die Pretorianers se loskopstut, Jean Gouws, nie gou sal vergeet nie, aangesien hy oorgebars het vir sy eerste drie vir die eerste span .
Die tuisspan se buitesenter, Hendre Robinson, het op sy beurt ook die Klofies se agterlyn laat bontstaan en met sy skerp aanvalslyne twee keer bresse in die verdediging geslaan. Rusties se slotpaar, Pedri Human en Edrich Potgieter, was ook uitstaande, met hul hoë werkverrigting en fisieke teenwoordigheid wat dikwels die momentum in die tuisspan se guns geswaai het.
Puntemakers:
Dr. EG Jansen 34 (20) – Drieë: Jeandre Jacobs, Keanu van Loggerenberg, Divan Francis, Zaide-Leigh Rippenaar, Zian Marais. Doelskoppe: Matthew Bergman (3). Strafdoel: Bergman. Noordheuwel 30 (11) – Drieë: Lindsey Jansen (2), Juandre de Villiers, Meyer Opperman. Doelskoppe: Jeandre Uithaler (2). Strafdoel: Uithaler. Skepskop: Uithaler.
Waterkloof 45 (24) – Drieë: Happy Makate, Dennis Obi, Marko Kok, Ronan Bastiaanse, Riwan van Aswegen, Ruan Jacobs, Juan Gouws. Doelskoppe: Bastiaanse (5). Hoërskool Rustenburg 35 (18) – Drieë: Hendre Robinson (2), Jayden Meyer, Edrich Potgieter, Xander Bennedetti. Doelskoppe Lorenzo Snyers (2). Strafdoele: Snyers (2).
Ander spanne:
o.16: Noordheuwel 50, EG Jansen 5; Waterkloof 19, Hoerskool Rustenburg 15.
o.15: Noordheuwel 33, EG Jansen 12; Waterkloof 14, Hoerskool Rustenburg 10.
o.14: Noordheuwel 38, EG Jansen 5; Hoerskool Rustenburg 20, Waterkloof 5.
- Batsmen carry Marais Viljoen to win over EG Jansen - 2024-09-12
- It’s T20 time as the Westvaal North/South returns - 2024-09-11
- Brandmuller’s bat the difference in Middelburg’s win over Secunda - 2024-09-10