SuperSport Schools Plus

Hugies vuur vroeë waarskuwingskote in Noordvaal-Skild


Hoërskool Hugenote van Springs het ‘n besliste waarskuwing gerig in hul eerste verskyning vanjaar in die SDC Noordvaal Cup se Skild-afdeling.

Herleef al die aksie van die naweek se wedstryde op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com).

Die span van die Oos-Rand het met verlede jaar se kampioen, Hoërskool Secunda, met ‘n telling van 41-31 in Springs afgereken.

Die tuisspan se pak voorspelers, onder leiding van flank en kaptein, Tyron Hand, lyk asof hulle moeilik gestuit sal word vanjaar. Dit was inderdaad ook voorlangs waar die Hugies, in die eerste helfte reeds, die grondslag vir hul puik sege oor die span van Secunda gelê het.

Benewens Hand, was die tuisspan se slotpaar, Anthony Smit en Xavier Ungerer, ook uitstaande. Die twee het hul stempel afgedruk met die bal in hand, gereeld meters veld gewen en is elk met ‘n drie beloon.

Die Hugies se agterlyn het ook uiters gevaarlik vertoon wanneer hulle die nodige spasie gegun is om die bal lug te gee, en dit het aan regtervleuel, Ruan van Biljon, en buitesenter, Vian van Dyk, elk ‘n drie besorg.

Die besoekers het nietemin begeesterd teruggeveg in die tweede helfte met ‘n sarsie drieë van hul eie. Steelkantflank, Zander Scheepers, was die groot uitblinker op die dag en sy gewoel voorlangs is met ‘n welverdiende driekuns beloon.

Die verdedigende kampioen kan geensins gering geskat word nie. Dit is boonop alombekend dat ‘n gewonde Secunda-span ‘n perd van ‘n ander kleur is.

Hoërskool Die Anker het weereens gewys dat dit geen maklike taak is om hulle in hul agterplaas te troef nie. Die span van Brakpan het danksy ‘n uitmuntende spanvertoning met 57-15 vir Hoërskool Ben Vorster se Buffels oorrompel.

Agtsteman en kaptein, Ruben Herbst, het oudergewoonte van voor gelei en met sy fisieke benadering gesorg dat sy span ‘n stewige grondslag voor kon lê. Hy het waardevolle ondersteuning van vaskopstut, Xavier Boshoff, ontvang.

Agterlangs het die gesoute binnesenter, Branden Crous, sy ervaring laat geld, en met sy bedrewe aanvalslyne en visie vir spasie vir die Buffels keer op keer onkant betrap.

Puntemakers:

Hugenote (Springs) 41 (35) – Drieë: Anthony Smith, Xavier Ungerer, Tyron Hand, Vian van Dyk, Ruan van Biljon. Doelskoppe: Corne Pretorius (5). Strafdoele: Pretorius (2). Hoërskool Secunda 31 (14) – Drieë: Zander Scheepers (3), Brink la Grange, Ryan Erasmus. Doelskoppe: Damian de Beer (3).

Die Anker 57 (33) – Drieë: Ruben Herbst (2), Duvan Booyens (2), Branden Crous, Xavier Erasmus, Paul Schutte, Branden Sauerman, Damion Boshoff. Doelskoppe: Xavier Erasmus (6). Ben Vorster 15 (3) – Drieë: Thabang Nkuna, Absa Moyo. Doelskop: Shelton Primo. Strafdoel: Primo.

Wesvalia 41 (17) – Drieë: Fafa Calitz (2), Justin Adams, Rickardt van Heerden, Chad Hofmeyer. Doelskoppe: Rickardt van Heerden (4), Eduard Meyer. Strafdoel: Van Heerden (2). Hoërskool Pietersburg 10 (3) – Drie: Divan Brown. Doelskop: Vincent Luckhoff. Strafdoel: Brown.

Heidelberg Volkskool 34 – Drieë: Juan de Villiers, Kayle Venter, Kevin Oormeyer, Theuns van der Merwe, Janco Coetzer. Doelskoppe: Kayle Venter (3). Strafdoel: Venter. Jeugland 29.

Ander spanne:

o.16: Pietersburg 30, Wesvalia 25; Heidelberg Volkies 14, Jeugland 13; Hugenote 29, Secunda 13.

o.15: Pietersburg 27, Wesvalia 12; Heidelberg Volkies 24, Jeugland 8; Hugenote 27, Secunda 20.

o.14: Wesvalia 18, Pietersburg 14; Heidelberg Volkies 8, Jeugland 7; Secunda 17, Hugenote 7.

 

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.