SuperSport Schools Plus

Hoërskool Pietersburg honger vir sukses in Pretoria

By Franco Oberholzer , in Cricket | News , at 2024-02-02 Tags: , , , , , ,

Hoërskool Pietersburg sal Saterdag met groot ywer en selfvertroue na Pretoria opruk vir hul kragmeting met Hoërskool Zwartkop. Die Pieties is nog wenloos in vanjaar se reeks.

Hulle het bitter naby aan ‘n sege gekom teen ‘n kookwater Midstream College in verlede naweek se tweederonde-kragmeting.

Die Pieties se aanvangsbouler, Hanno Coetzee, sal opnuut wind in sy seile hê na ‘n puik vertoning teen die Pretorianers. Hy sal egter hierdie naweek poog om die kolf ook die praatwerk te laat doen.

Sy kollega en voorslagkolwer, AJ Galloway, sal ook uitsien daarna om homself weer tuis te maak voor die penne, na sy belowende beurt in die vorige ronde en behoort uiters gevaarlik te wees met die wilgerlat.

Philip Weterman sal sy posisie as aanvangskolwer inneem en is tot dusver lekker op dreef. Hy sal op sy vorige vertonings wil voortbou om ‘n marathonbeurt te probeer bydra.

Wynand Frylinck sal die Pietie-kolwers op hul tone hou. Frylinck is tot dusver die Zwarries se gevaarman met die bal, en sal noukeurig dopgehou moet word, vernaam op sy tuisveld.

Die Zwarries se voorste kolwer, Nicholas Conradie, spog tans met 139 lopies in die Finsbury-reeks, wat hy in slegs twee beurte teen ‘n kolfgemiddeld van 69,5 behaal het. Hy en Frylinck sal die Zwarries terug op die wenpad wil kry nadat ‘n teleurstellende vertoning met die kolf gelei het tot hul nederlaag teen Marais Viljoen in ronde twee.

Die sukkelende Ben Vorster sal ook die tog na die Jakarandastad aandurf, waar hulle teen die onoorwonne Midstream College te staan kom.

Die Tzaneeners het nie ‘n maklike taak wat voorlê na hewige nederlae in die eerste twee rondes nie.

Midstream College se Janco van Heerden sal sy lippe aflek vir nog ‘n kans om te beïndruk met die bal en die kolf. Die alsydige speler se bydraes in die oorwinning teen die Pieties sou hom hope selfvertroue gegee het.

Saam met Van Heerden sal die voorslagkolwer, Dian de Villiers, ook ‘n vername rol speel in sy span se toporde, na sy spogbeurt van 64 wat grotendeels verantwoordelik was vir Midstream se naelskraapse oorwinning in Pietersburg.

Marais Viljoen durf die vlaktes van Noordwes aan wanneer hulle Saterdag met Hoërskool Lichtenburg kragte meet. Albei spanne betree die week met goeie oorwinnings onder die belt.

Dit sal nietemin interessant wees om te sien hoe die Liggies die gevaarlike draai-aanval van Marais Viljoen hanteer. Nathan Coleske, Marais Viljoen se keurkolwer tot dusver, sal op sy spelpeil wil voortbou om sy boulers by te staan.

Coleske sal egter eers verby die Liggies se talentvolle naatbouler, Ona Senokwane, moet kom. Senokwane is ‘n vername pyl in die Liggies se koker en beskik oor die vermoë om in ‘n oogwink momentum in die guns van die Lichtenburgers te swaai.

 

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.