Helpies betree onbekende grond in Rustenburg

Helpmekaar Kollege sal die druk toenemend voel namate die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling besigheidskant toe staan.
Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.superpsportschools.com)
Die Helpies reis na Rustenburg waar hulle die onvoorspelbare Hoërskool Rustenburg aandurf. Dit is onbekende grond vir die manne van Johannesburg aangesien die huidige groep spelers nog nooit teen die Rusties in Rustenburg te staan gekom het nie.
Om die druk so ietwat te verhoog is dit ‘n móét-wen vir die Johannesburgers indien hulle hoop om in die wedloop vir ‘n plek in die uitspeelrondes te bly. Die Helpies se paadjie het moeiliker geraak na ‘n naelskraapse nederlaag van 29-31 teen Hoërskool Waterkloof in Pretoria verlede naweek.
Dit verander wel nie aan die feit dat hulle uitstaande rugby gespeel het nie.
Hul Cravenweek-slot en kaptein, JP Lombard, het stem dik gemaak met ‘n dominante vertoning en die Helpie-ondersteuners sal hoop dat hy daarop voortbou. Dit was verál sy kragtige lopies met die bal wat die besoekers van Johannesburg deurentyd op die voorvoet kan hou.
Lombard se Cravenweek-kollega, Tiaan le Roux, se spelpeil het ook dramaties gelig en sy behendigheid om aansluiting by die agterlyn te vind is ‘n kenmerk wat die Rusties vir die volle 70 minute op hul tone sal hou.
Die tuisspan sien uit daarna om hul eerste wedstryd na die skoolvakansie tuis af te skop.
“Dis ons eerste jaar in die Beker-afdeling, so daar is heelwat lesse wat ons geleer het,” het Naas Olivier, Rusties se hoofafrigter gesê.
“Die aanpassing van die Plaat na die Beker is groot, maar tot dusver het ons redelik goed meegeding. Die groot uitdaging is om vir die hele wedstryd in die geveg te bly.”
Olivier het egter nog ‘n aanvalswapen verloor, met vleuel, Zulu Khumalo, wat ‘n besering by die Cravenweek opgedoen het wat hom vir die res van die seisoen op die krukkelys geplaas het. Wesley van Loggerenberg kry sy’n geleentheid om te wys wat in hom steek.
Die planmaker op heelagter, Lorenzo Snyers, het ongedeerd van die Cravenweek teruggekeer en is, nes Le Roux, uitstekend met die bal in hand. Dit gaan beslis ‘n armdruk tussen dié twee afgee.
Hoërskool Noordheuwel bevind homself in dieselfde posisie as Helpmekaar. Die span van Krugersdorp móét wen wanneer hulle Saterdag teen Hoërskool Garsfontein op Bere-park te staan kom.
Die Norie Blues gaan steeds gebuk onder die beserings, maar sal verlig wees dat dit lyk of hul SA Skole-ster, Cheswill Jooste, sy terugkeer op vleuel teen die Bere kan maak. Jooste moes die aksie van die kantlyn aanskou weens harsingskudding wat hy op die Cravenweek opgedoen het.
Die hardwerkende Andrew Lambert, en vaskopstut, Martin Nel, keer ook terug om die Blues effens meer oemf te gee. Daar hang steeds ‘n vraagteken oor agtsteman, Brad Brown, wat las van sy knie ondervind.
Vir die gewonde Bere kan die slot, James Schnetler, moontlik sy terugkeer maak. Schnetler het ook deurgeloop onder die harsingskudding-pandemie die afgelope paar weke, maar dit klink of hy betyds die groenlig sal ontvang om die Blues se agttal te terroriseer.
Die Bere sou moes opskerp na hul nederlaag van 29-30 teen die Rhinos verlede naweek, maar het steeds ‘n goeie kans om ‘n plek in die uitspeelrondes los te speel.
Die spanne:
Hoërskool Rustenburg t. Helpmekaar Kollege om 13:30 in Rustenburg
Hoërskool Rustenburg: 15 Lorenzo Snyers, 14 Christiaan van der Berg, 13 John-Re Jefthas, 12 Hendre Robinson, 11 Wesley van Loggerenberg, 10 Awie Engelbrecht, 9 Adriano George, 8 Coenraad Koetzer, 7 Dirk Huisamen, 6 Wickus Jacobs, 5 Pedrie Human, 4 Erich Potgieter, 3 Ockert Grobler, 2 Xavier Steenkamp, 1 Divan Welgemoed.
Helpmekaar Kollege: 15 Tiaan le Roux, 14 Delano Maritz, 13 Ty Ax, 12 Clinton Cloete, 11 Pieter Moller, 10 Michael Benzien, 9 Tristan van Niekerk, 8 Motlatsi Moloi, 7 Darius Haasbroek, 6 Zaiden Krige, 5 JP Lombaard, 4 Christiaan Tonkin, 3 Dylan Engelbrecht, 2 Gustav Grotius, 1 Liam Devenier.
Hoërskool Garsfontein t. Hoërskool Noordheuwel om 13:20 in Pretoria
Garsfontein (moontlik): 15 Handre Maree, 14 Xian Erasmus, 13 Ruan Enslin, 12 Luann Olivier, 11 Junaide Stuart, 10 Junade Pasensie, 9 Luan Ferreira, 8 Aiden King, 7 Thinus Oosthuizen, 6 Stephan Pretorius, 5 Jacques Swarts, 4 James Schnetler, 3 Luan van der Berg, 2 Justin Blom, 1 Ethan van Wyk.
Noordheuwel (moontlik): 15 Francois Venter, 14 Cheswill Jooste, 13 Ethan Smith, 12 Jared Coetzee, 11 Lindsey Jansen, 10 Andy Maarman, 9 Ignatius Jantjies, 8 Juandre de Villiers, 7 Donovan Breedt, 6 Meyer Opperman, 5 Roehan Hoogendyk, 4 Alex Greeff, 3 Martin Nel, 2 Clinton Agu, 1 Ruben Botes.