Genis, Strydom plaas Middies in stewige posisie vir promosie-stryd

Hoërskool Middelburg wag nou net om te sien wie van die C-afdeling in die Finsbury-reeks hy sal moet aandurf om promosie te probeer verwerf.
Herleef en volg al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die Middies het Woensdag reeds hul plek in die promosie-relegasie-stryd bespreek deur vir Heidelberg Volkskool, in Heidelberg, met 52 lopies te verslaan. Die wedstryd is vervroeg vanweë die Middelburgers se deelname aan die interhoër-atletiekkampioenskap eerskomende Saterdag.
Die Middies moes slegs die eerstespan- of o. 15-wedstryd wen om deur te dring, maar het sommer in albei die kitaar geslaan. Hoewel dit ‘n ruk vir Gavin Genis geneem het om aan die gang te kom was die Volkies uiteindelik die slagoffer van die veelsydige Middelburger se kolfvernuf.
Indien dit nie vir sy beurt was nie, sou die besoekers ietwat in die knyp gewees het. Genis het op die kop 100 gemoker om sy span tot ‘n totaal van 198 te neem voor die laaste paaltjie geval het. Hy het slegs 96 aflewerings nodig gehad en die bal nege keer, waarvan vyf anderkant die tou grond gevat het, grens toe gestuur.
Die res van die Middies se kolflys kon gesamentlik slegs 98 lopies aanteken, waarvan 21 van Hendre Nel se kolf gekom het. Volkies se Jaco Botha het die meeste skade aangerig met drie paaltjies vir 34 lopies in sy 6.4 beurte.
Met die wete dat die tuisspan oor ‘n sterk kolflys beskik, het Eduan Strydom sy hand opgesteek met die bal. Die tuisspan se Dave Pelzer (46) en Marco Botha (33) was netjes op dreef totdat die bal vir Strydom gegooi is. Nes Genis met die kolf uitgeblink het, het Strydom kop en skouers bo die res van die boulers uitgetroon.
In die nege beurte wat hy afgestuur het, het hy 47 leë balle (87%) geboul. Die druk het doodeenvoudig te veel geraak vir die tuisspan en Strydom is uiteindelik met vyf paaltjies vir net nege lopies beloon. Dit het die Volkies geknak en tot slegs 146 bereik.
Die ander bepalings in die afdeling vind steeds Saterdag plaas. Die ander Middelburgse span, HTS Middelburg, verwelkom die sukkelende Uplands College in sy agterplaas. Hoërskool Ben Vorster se Black Caps, steeds segeloos en op die rand van relegasie, reis na Meyerton waar hulle teen die gevaarlike Luka Pretorius en die res van Hoërskool Dr Malan te staan kom.
Beknopte telkaart:
Hoërskool Middelburg 198 (Gavin Genis 100; Jaco Botha 3/34, Rico Swart 2/22, Dave Pelzer 2/33); Heidelberg Volkskool 146 (Dave Pelzer 46, Marco Botha 33; Eduan Strydom 5/9). Hoërskool Middelburg wen met 52 lopies.
Ander bepalings
Week 5:
HTS Middelburg t. Uplands College
Dr Malan t. Ben Vorster
- Nories sonder twee staatmakers vir Rustie-stryd - 2025-06-12
- Blaaskans, net wat die dokter voorgeskryf het vir Parkies - 2025-06-12
- Grobler, Gimmies veg terug om suster te soen met Plasies - 2025-06-09