Garsies, Affies pak mekaar op netbalbaan
Die netbalbane van Hoërskool Garsfontein gaan aan die brand gespeel word op 25 April wanneer Garsies en Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria mekaar die stryd aansê in ‘n reeks spanningsvolle wedstryde.
Beide skole spog met ‘n trotse geskiedenis van prestasie op die netbalbaan, en hierdie kragmetings beloof om kranige kompetisie op te lewer. Met hope talent, stewige strukture en ‘n gevestigde kultuur van mededinging, word ‘n aksiebelaaide middag verwag.
Garsfontein is bekend vir hul vinnige, tegniese spel en rotsvaste verdediging, terwyl Affies dikwels hul teenstanders met strategiese aanvalle en geduldige aanvoorwerk oorrompel.
Die wedstryde in die o.14 A en o.15 A-kategorieë bied ‘n blik op die toekoms, met opkomende sterre wat elke wedstryd as ‘n geleentheid wil aangryp om hul staal te wys. Die o.16 A en o.17 A-spanne bring normaalweg hoë-intensiteit en taktiese vaardigheid na die baan, wat as voorwedstryde dien vir die hoofskouspel later die dag.
Dit is natuurlik die eerstespan-kragmeting om 17:05 wat die meeste aandag gaan trek. Beide skole spog met spelers wat onlangs op provinsiale vlak uitgeblink het en dié kragemting gaan bepaal wie die oorhand geniet in Pretoria se netbal-hiërargie. Hierdie is beslis nie ‘n doodgewone ligawedstryd nie – daar is aansienlik meer tradisie, eer en trots op die spel.
Moet dit nie misloop nie – Garsfontein teen Affies beloof ‘n middag van topgehalte skolenetbal!
WEDSTRYDROOSTER:
o.14A – 14:45
o.15A – 15:20
o.17A – 15:55
o.16A – 16:30
Eerste span – 17:05
- Tshwane dra kroon by Telkom Kampioenskap - 2025-07-15
- Delta maak stem dik by SASN All Ages 2025 - 2025-07-03
- Gabby Smith: Die stem van haar pa, die hart van haar span - 2025-06-20