SuperSport Schools Plus

Finsbury-reeks se B-afdeling wemel van talent

By Franco Oberholzer , in Cricket | Featured Cricket | News , at 2025-01-17 Tags: , , , , , , ,

Foto: Frans Lombard

Om met die eerste oogopslag die topspan in die B-afdeling van vanjaar se Finsbury-reeks te probeer voorspel is ‘n haas onbegonne taak.

Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

Die afdeling is besaai met kriekettalent, regdeur die ses spanne wat deelneem.

Hoërskool Centurion wat afskuif van die A-afdeling, sal beslis die ander spanne op hul hoede hê. Hoewel die Woeries ‘n aantal maer jare beleef het, sal hulle vasberade wees om weer ‘n regmatige plek in die hoër afdeling te herwin.

Die span van Centurion het ook steeds ‘n Prinsloo in sy midde. Morné Prinsloo, die jonger broer van die uitstaande lopiemaker van 2024, Charl Prinsloo, het reeds gewys dat hy met sowel bal as kolf skade kan aanrig.

Die Woeries se ander veelsydige Morné, Morné Venter, het, saam met Prinsloo, ‘n beduidende rol om te vertolk, terwyl daar van aanvangsbouler, Kyle Fourie, verwag sal word om die pas met die nuwe bal aan te gee.

Die Woeries skop sy veldtog af teen Hoërskool Marais Viljoen in Alberton. Marais Viljoen, een van die kragte in die Noordvaal-krieketkringe die afgelope paar jaar, is self ‘n span om voor uit te kyk. Die kolwer en paaltjiewagter Jaden Govender, wat onlangs in die SA o.19-toerspan na Engeland ingesluit is, sal waarskynlik die span aanvoer.

Voorts wag die kolfvernuf van Abdullah Tadwala ook op Marais Viljoen se teenstanders. Tadwala beskik verder oor die vermoë om spanne vas te draai met sy akkurate draaiboulwerk en skroom nie om die nuwe bal op te neem nie. Aanvangskolwer, Tiaan Hall, sal ook oorgehaal wees om amok met die kolf te saai.

Die verdedigende kampioen van die Fain Noordvaal-kompetisie, Hans Moore, is ook in dié afdeling te siene, en die Moories het ‘n gros spelers van hul suksesvolle span van verlede jaar behou.

Xavier Coetzee, wat beskou word as een van die gevaarlikste kolwers in die Noordvaal, keer terug om nogmaals rillings langs boulers se rûe af te stuur. Adrian Watson neem die leisels as kaptein by Warren Minnaar oor, en sy veelsydigheid en ervaring sal ‘n groot rol in die Moories se strukture speel. Aanvangskolwer, Kenan Shaw, wat reeds waarskuwingskote by die Hoër Jongenskool Paarl se krieketfees in Januarie afgevuur het, sal ongetwyfeld ook ‘n reuse rol vervul vir die span van Benoni, wat eerskomende Woensdag teen Potchefstroom Gimnasium te staan kom.

Gimmies is, nes Hoërskool Kempton Park, een van die spanne met die gevaarlikste kolflyste in die afdeling. Ulrich Botha en Lukas Kotze se paaltjies aan die bopunt van hul kolflys sal hoog op prys gestel word.

Kempies se veelsydige Wian Pieters en hotklou-voorslagkolwer, Stian de Villiers, sal die vuur stook vir hul span. Die span van Kempton Park se eerste hekkie is Hoërskool Montana, waar kaptein, Luca Bairos, en die veelsydige Juan Theunissen op hulle wag.

Bepalings: 

Week 1:
Marais Viljoen t. Centurion
Hans Moore t. Potchefstroom Gimnasium
Montana t. Kempton Park

Week 2:
Potchefstroom Gimnasium t. Kempton Park
Centurion t. Montana
Marais Viljoen t. Hans Moore

Week 3:
Marais Viljoen t. Potchefstroom Gimnasium
Montana t. Hans Moore
Kempton Park t. Centurion

Week 4:
Potchefstroom Gimnasium t. Montana
Kempton Park t. Marais Viljoen
Centurion t. Hans Moore

Week 5:
Potchefstroom Gimnasium t. Centurion
Kempton Park t. Hans Moore
Montana t. Marais Viljoen

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.