Els het die vinnigste langasem in die geskiedenis van die Pretoria A-Bond

Die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria se middelafstand-atleet Emil Els het twee byeenkomsrekords tydens die jaarlikse Wildeklawer Pretoria A-Bond-byeenkoms in die Pilditch-stadion in Pretoria in die slag laat bly.
Die atleet van Affies is as die Senior Victor Lodorum vir sy vertonings tydens die byeenkoms aangewys.
Els het die 800m vir seuns o.16 in ‘n skitterende tyd van een minuut 51.96 sekondes kaf gedraf. Dit was 973 punte op die APE-stelsel werd. Hy het daarmee dié rekord van Prestige College se Dais Malebana (1:56.07) wat hy in 2015 opgestel het, in die slag laat bly.
Els hou nou drie van die byeenkomsrekords in dié nommer. Die rekords vir o.14 (2:03.04) en o.15 (1:54.76) staan ook agter sy naam.
Sy spanmaat Roal Jansen van Vuuren was kort op sy hakke in ‘n tyd van 1:54.08 oor die eindstreep. Dit was ook vinniger as Malebane se rekord.
Die twee Affies het in die 1500m ook albei weer vinniger as die byeenkomsrekord van Marcel Brits (Montana, 4:03.72) klaargemaak. Els het goud gevat in amper ses sekondes vinniger as Brits se rekord in drie minute en 57.89 sekondes.
Van Rensburg het vir Els tot die einde gedruk en is na 3:59.93 oor die eindstreep.
Els het ook in die 3000m koning gekraai toe hy die nommer in 8:41.66 voltooi het. Hy het dus ‘n maksimum van 48 punte tot sy span se totaal van die dag bygedra.
Zwartkop se JP Delport (o.17) het sy beste vertoning van die dag in die 1500m opgedis toe hy dié nommer met ‘n tyd van 4:01.12 gewen het. In die 800m het hy goud in ‘n tyd van 1:59.67 verdien.
In die 3000m vir seuns o.19 was Affies se Regard Hattingh (8:35.70) en Zwartkop se Rico Coetzer (8:38.29) in ‘n hewige stryd gewikkel. Albei vertonings was meer as 920 punte op die APE-stelsel werd.
Affies se Dandré Brink (o.16) het die rekord in die 400m naelloop tot 47.81 sekondes verbeter. Die rekord het vanaf 2018 agter die naam van die Suid-Afrikaanse Olimpiese atleet Matt Nortjé (48.98) van Garsfontein gestaan. Menlopark se Llewellyn van Heerden (47.99) het ‘n silwermedalje losgenael in ‘n tyd ook vinniger as Nortjé se vorige rekord.
Brink het ook in die 400m-hekkies in ‘n tyd van 53.91 sekondes die septer geswaai.
Die o.17 rekord in die 400m het ook in die slag gebly met Zack Reddy (Midstream College, 47.82) en Francois Boshoff (Affies, 47.83) wat kort op mekaar se hakke oor die eindstreep genael het.
Waterkloof se Alexander Griesel het ook vir heelwat opwinding in die 110m-hekkies vir seuns o.16 gesorg. Sy wentyd van 13.27 sekondes het vir hom 997 punte op die puntetabel besorg.
Xander Schoeman van Garsfontein het die 100m vir seuns o.19 in 10.50 sekondes afgeblits om die byeenkoms as die vinnigste seun in die Jakarandastad af te sluit. Hy het ook goud in die 200m in ‘n tyd van 21.60 sekondes ingepalm.
Schoeman het ook natuurlik die Garsies se aflosspan gehelp om die 4x100m wedloop in 42.01 sekondes te wen. Hy het die span huis toe geneem, terwyl sy ander spanmaats Nicholas Michael, Junaide Stuart en Junade Pasensie die aanvoorwerk gedoen het.
FINALE SPAN-UITSLAE
1. Menlopark 2,637; 2. Zwartkop 2,282; 3. Waterkloof 2,180; 4. Midstream College 1,915; 5. Montana 1,869; 6. Garsfontein 1,794; 7. Eldoraigne 1,434.
SEUNS
1. Affies 1,406; 2. Menlopark 1,223; 3. Zwartkop 1,138; 4. Garsfontein 1,030; 5. Waterkloof 1,010; 6. Midstream College 960; 7. Montana 912; 8. Eldoraigne 690.
DOGTERS
1. Menlopark 1,414; 2. Affies 1,278; 3. Waterkloof 1,170; 4. Zwartkop 1,144; 5. Montana 957; 6. Midstream College 955; 7. Garsfontein 764; 8. Eldoraigne 744.
- School Rugby Results – 17 May 2025 - 2025-05-17
- SDC Noordvaal Cup Results – 17 Mei 2025 - 2025-05-17
- Affies soek eerste sege in tien jaar teen gewonde Grey Kollege - 2025-05-16