Eldos maak opgang in A-afdeling, Parkies ploeg met Klofies

Hoërskool Eldoraigne se eerste krieketspan het sy teenwoordigheid in die A-afdeling van vanjaar se Finsbury-reeks behoorlik bekendgemaak deur vir Potchefstroom Volkskool met sewe lopies af te stof.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die Eldos het, sedert hulle opgeskuif het van die B-afdeling, nog slegs eenkeer in vanjaar se A-afdeling vasgeval – teen die verdedigende kampioen, Hoërskool Waterkloof.
Saterdag in Potchefstroom was dit ‘n goed afgeronde Volkies-span se beurt om onder die nuwelinge vanuit Centurion deur te loop. Soos in hul vorige twee wedstryde, het die Eldo-kolwers weer hul staal gewys.
Ruan Steyn, die span van Centurion se uitblinker die week vantevore, het dié slag vir Potch op horings geneem met die wilgerlat. Die middelorde-kolwer het, ná ‘n stewige platform deur sy aanvangskolwers, Vince Lotz (48) en Kyle de Bruin (22), die Volkies gekasty met die kolf. In sy beurt van 98 aflewerings het Steyn teen ‘n lopie per bal gekolf om uiteindelik nét twee kort van wat ‘n welverdiende honderdtal sou wees, op 98, sy paaltjie te verloor. Sy pragbeurt het 12 viere en een ses ingesluit.
Matthew Sampson het hom goed bygestaan om ‘n vennootskap van 109 lopies aanmekaar te slaan. Sampson se onoorwonne 46 het die Eldos in ‘n uiters gunstige posisie geplaas en verseker dat die besoekers ‘n puik totaal van 272/8 in hul toegelate 50 beurte kon bymekaarslaan.
Volkies se Herman Hesse het die meeste skade met die bal aangerig, deur drie Eldo-paaltjies vir slegs 39 lopies in sy nege beurte te laat kantel. Aanvangsboulers, Schalk Pienaar (2/25) en Handre de Beer (2/58), het hom netjies bygestaan.
Volkies se beurt het soos ‘n nagmerrie begin, met hul voorslagkolwer en kaptein, Louis van Wyk, wat deur Sampson met die eerste bal van die beurt terug kleedkamer toe gestuur is. Sampson het sy kolfbeurt skitterend opgevolg het met syfers van 3/53.
Die tuisspan moes inderhaas hergroepeer, met Sihle Duma watt die kolfkampie sy eie gemaak en met 72 lopies hoop weer hoop laat opvlam het in die Volkie-kamp. Eduan van der Merwe (47) en Theunis Nel (57) het die tuisspan byna oor die wenstreep gekry, maar Cornell Cousins (3/54) en Ruan Boshoff (2/41) het ‘n ‘n “paaltjie of vyf” daarvoor gesteek vir die wegsege met sewe paaltjies.
Vroeër in die week het twee van Pretoria se grotes, Hoërskool Menlopark en Hoërskool Waterkloof, mekaar die stryd aangesê. Die Parkies se kaptein, Dian van Zyl, het besluit om eerste te kolf en summier die voortou met die kolf geneem. In een van die beter beurte op skolevlak die afgelope paar jaar, het Van Zyl die Klofies pak gegee met 31 grenshoue, waarvan 14 viere en 16 sesse, om in ‘n oogwink ‘n reuse 183 op te stapel.
Die Parkies se belowende jong Jan-Willem Pienaar het self 50 lopies gemoker en, tesame met ‘n paar ander waardevolle bydraes, vir die besoekers tot ‘n reuse totaal van 366/6 in die 50 beurte gehelp.
Die Klofies, met Franco Schmidt (73) aan die spits en waardevolle bydraes deur Luan Ferreira (44*) en Darius Maritz (38), het hardnekkig teruggeveg, maar die boulwerk van Johan Bosch (3/54) en draaier, Murray Hofmeyr (2/54), het hul aanslag in die kiem gesmoor. Die Parkies het uiteindelik, in ‘n wedstryd waarin ‘n totaal van 676 lopies aangeteken is, met 56 lopies op die André van der Walt-ovaal koning gekraai.
Beknopte telkaarte:
Eldoraigne 272/8 (Ruan Steyn 98, Vince Lotz 48, Matthew Sampson 46, Kyle de Bruin 22, Ekstras 21; Herman Hesse 3/39, Schalk Pienaar 2/25, Handre de Beer 2/58); Potchefstroom Volkskool 265 (Sihle Duma 72, Theunis Nel 57, Eduan van der Merwe 47, Ekstras 33; Matthew Sampson 3/53, Cornell Cousins 3/54, Ruan Boshoff 2/41). Eldoraigne wen met sewe lopies.
Menlopark 366/6 (Dian van Zyl 183*, Jan-Willem Piennaar 50, Owen Louwies 37, Morne Koekemoer 26*, James Bronkhorst 24, Matt van der Westhuizen 22; Christiaan Smit 3/55); Waterkloof 310 (Franco Schmidt 73, Luan Ferreira 44*, Darius Maritz 38, Riley Miller 31, Rico van der Walt 23; Johan Bosch 3/54, Murray Hofmeyr 2/54). Menlopark wen met 56 lopies.