Eerste sege wink vir Marais Viljoen in Nelspruit
Kan Nelspruit die keerpunt vir Hoërskool Marais Viljoen beteken?
Geniet al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Dit is die vraag wat Saterdagmiddag in Nelspruit beantwoord sal word wanneer die besoekers van Alberton teen Hoërskool Nelspruit te staan kom in die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling.
Die span van Alberton het, ongeag die uitslae, in hul laaste twee kragmetings in dié afdeling uiters belowende rugby opgedis. Dit was verál hul vertoning in die eerste helfte teen Hoërskool Garsfontein wat die span se ondersteuners laat moed skep het.
Dit het egter nóg nie die resultate gelewer waarvoor breier, Ryno Luus, en die res van sy afrigtingspan gehoop het nie.
“Dit is moeilik,” het Luus vroeër die week gesê.
“Ons was nog elke keer, in die eerste helfte, in die wedloop, maar sowel EG Jansen as Garsfontein het sterk teruggekom in die tweede skof. Ons is egter vasbeslote om op daardie goeie vertonings van ons, voor halftyd, voort te bou en vir die volle 70 minute ons beste te lewer.”
Slot Bjorn Pieterse het ‘n vername rol om te vervul in Nelspruit .
“Bjorn is tot dusver uitstekend op dreef en is ‘n yster in ons verdedigende lynstane,” het Luus bygevoeg.
Pieterse is ewe indrukwekkend met bal in hand en behoort, saam met flank en onderkaptein, Dian Scheepers, die Rhinos se verdediging deeglik op die proef te stel. Scheepers is gekies vir die Leeus se o. 18-span wat volgende maand aan die Akademieweek by Jeppe High School deelneem.
Die Nellies beleef self ‘n strawwe Noordvaal-seisoen tot op hede. Daar was nietemin positiewe tekens in verlede week se kragmeting met Hoërskool Rustenburg, alhoewel die Rhinos die knie met 19-22 moes buig.
Buitesenter, Ian Wood, wat deel uitmaak van die Pumas se Cravenweekspan, is netjies op dreef in die middeveld, terwyl daar uitgesien word na wat haker, Regardt Vermaak, en agtsteman, Vaughn van Zyl, voorlangs kan vermag in wat beloof om ‘n uiters fisieke stryd tussen die twee pakke af te gee. Van Zyl se tweestryd met die besoekers se woelige agtsteman, Rio Tshimbalanga, is beslis een om dop te hou.
In Rustenburg wag daar ‘n reuse uitdaging op Pedrie Human en die res van Hoërskool Rustenburg se span wanneer hulle vir Hoërskool Waterkloof verwelkom.
Die Klofies is steeds onoorwonne in vanjaar se reeks en praat vanjaar met die groot kanonne saam. Die Rusties het, op hul beurt, bo verwagting presteer tot dusver in vanjaar se reeks en nog nét teen Hoërskool Noordheuwel met 34-40 vasgeval in Krugersdorp.
“Waterkloof is een van die top spanne in die land vanjaar,” het Naas Olivier, Rusties se hoofafrigter, gesê.
“Hulle speel puik rugby en vermorsel almal in hul pad. Ons besef dit gaan taai wees, maar ons het volle vertroue in ons sisteme, asook die tuisveldvoordeel.
“Ons doelwit is eenvoudig; ons wil wen. Ons het 70 minute om die plan uit te voer en in die boskgeveg te bly.”
Die Klofies verwelkom hul hardwerkende steelkantflank, Lendrey Janse van Vuuren, en haker, Ruan Jacobs, terug vir Saterdag se stryd. Albei het verlede naweek teen Hoërskool Menlopark ‘n welverdiende blaaskans geniet.
Die spanne:
Hoërskool Nelspruit t. Hoërskool Marais Viljoen om 12:30 in Nelspruit:
Hoërskool Nelspruit: 15 Jean Erasmus, 14 Jordan Pretorius, 13 Ian Wood, 12 Theuns Meyer, 11 Tinyiko Silubane, 10 John Duncan, 9 Liam Pringle, 8 Vaughn van Zyl, 7 Marco Smith, 6 Banele Ngwenya, 5 Ronaldo van Rensburg, 4 Ethan Esterhuien, 3 Gert Cloete, 2 Regardt Vermaak, 1 Lindani Ndlela.
Marais Viljoen: 15 Tyron Bouw, 14 Devin Raubenheimer, 13 Tiaan Joubert, 12 Brandon Els, 11 Ethan Weideman, 10 Recce Gerber, 9 Weon van der Vyver, 8 Rio Tshimbalanga, 7 Dian Scheepers, 6 Lloyd Shoko-Schenck, 5 JD Labuschagne, 4 Bjorn Pieterse, 3 Sifiso Shongwe, 2 Liam Catlow, 1 Clayton Gagiano.
Hoërskool Rustenburg t. Hoërskool Waterkloof om 13:30 in Rustenburg
Hoërskool Rustenburg: 15 Lorenzo Snyers, 14 Christiaan van der Bergh, 13 Hendré Robinson, 12 Awie Alberts, 11 Zulu Khumalo, 10 Jayden Meyer, 9 Adriano George, 8 Coenraad Coetzer, 7 Dirk Huisamen, 6 Wickus Jaobs, 5 Pedri Human, 4 Edrich Potgieter, 3 Ockert Grobler, 2 Xavier Steenkamp, 1 Divan Welgemoed.
Waterkloof: 15 Ronan Bastiaanse, 14 Malcolm George, 13 Riwan van Aswegen, 12 Happy Makate, 11 Jaiden Badenhorst, 10 Dennis Obi, 9 Migael Prinsloo, 8 Marko Kok, 7 Lendrey Janse van Vuuren, 6 Divan Botha, 5 Alrich Uys, 4 Stephan de Beer, 3 Jedri Swart, 2 Ruan Jacobs, 1 Juan Gouws.