Duineveld mik vir top-10 by DStv Challenge
Nadat Hoërskool Duineveld, ook bekend as die Chillies, vir die tweede agtereenvolgende jaar as die beste netbalspan in die Noord-Kaap aangewys is, was hul plek in die DStv Schools Netball Challenge verseker.
Dit is die vyfde agtereenvolgende jaar, sedert die ontstaan van die kompetisie, dat Duineveld deelneem.
Die Upington-span, gelei deur kaptein, Carmi Liebenberg, het gedurende die afgelope netbalseisoen ‘n rits indrukwekkende oorwinnings behaal.
Vanjaar beoog die Chillies om hul posisie by die DStv Challenge te verbeter, nadat hulle verlede jaar 13de geëindig het. Die gesogte kompetisie vind van 12 tot 13 Junie by Hoërskool Florida plaas.
Madré Steyn, afrigter van die Chillies, sê hulle sien die meeste daarna uit om ná die vakansie weer as ‘n volledige span te funksioneer, ná talle beserings in die span.
“Om mededingend deel te neem is altyd ‘n voorreg,” sê sy.
Duineveld sal Vrydag om 07:30 in hul eerste wedstryd teen hul gedugste mededinger, Hoërskool Menlopark, te staan kom. Later in die toernooi sal hulle ook met Joe Slovo, Mamadibo en Kwavusumuzi meeding.
Die Chillies: Abriëlle de Witt, Clarise Barnard, Carmi Liebenberg, Carla Kuhn, Tersian Oberholzer Zandri Brink, Zanelle Brink.
Reserwes: Jeanne Coetzer, Stephanie Kruger, Yolanda de Kock.