SuperSport Schools Plus

Dit gaan keer kos om die Valke op die LSOB-week te stuit

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2018-06-25 Tags:

SA Lsen LogoDit gaan keer kos om die gasheer van die LSOB-week (vir leerlinge met spesiale onderwyshoeftes), die Valke, uit die hoofwedstryd van vanjaar se toernooi in die Isak Steyl-stadion in Vanderbijlpark te hou. Die Valke, wat verlede jaar as nie-amptelike kampioen gekroon is, het in die hoofwedstryd van die eerste dag die Luiperds met 69-10 afgeransel.

Die Luiperds het verlede jaar se toernooi ook onoorwonne afgesluit. Die Valke kom more op die tweede dag teen die Blou Bulle te staan. Die Ligbloues sal ‘n veel meer gedugter taak vir die Valke wees, maar die gasheer behoort steeds as die gunstelinge op die veld te draf. 

Dit was veral die Valke se flank, Tiaan Botha, wat met sy spel beïndruk het. Hy het die veld vol gespeel en elke keer wat hy die bal onder die arm vasgeknyp het meters veld gewen. Die span se kaptein en losskakel, Chezlin Oosthuizen, was ook op sy stukke. Hy het sommer vroeg in die wedstryd die Luiperds mooi laat verstaan waarvoor hulle in is. Hy het sy span se eerste drie in die eerste minuut van die wedstryd gedruk. 

Oosthuizen het 22 punte tot sy span se sege bygedra. Hy het twee keer gaan druk en ook ses van sy span se drieë verdoel. 

Die Boland, wat verlede jaar teen die Valke in die hoofwedstryd die knie gebuig het, het in die tweede helfte vlam gevat om die Suidwestelike Distrikte met 42-7 gemaklik te bere. Die Wynboere kon teen rustyd slegs ‘n voorsprong van 14-0 opbou. 

Hulle kom more op die tweede dag van die toernooi teen die Westelike Provinsie in die hoofwedstryd van die dag te staan. Die Streeptruie kon nie ‘n sege op die eerste dag behaal nie. Die span moes die louere met 7-elk met die Oostelike Provinsie deel. 

Die Vrystaat se agterhoede is dalk nie van die grootste spelers nie, maar dit wat hulle dalk tekort kom in grootte maak hulle dubbel en dwars op met hul vaart. Die Blikore het sy kragmeting teen die Goue Leeus gemaklik met 38-14 gewen. Die wenspan het teen rustyd ‘n voorsprong van 19-7 opgebou. 

Dit was veral die buitesenter, Sam Goodman, en vleuel, Fabian van Staden, wat te veel vrae aan die Leeus se verdediging gevra het. Die wenspan se agtsteman, Simangaliso Ngozo, was egter sy span se beste speler in die wedstryd. 

Die Blou Bulle moes aan die einde van hulle wedstryd vasklou aan sy voorsprong om die Pumas met 27-19 die loef af te steek. Die Ligbloues het teen rustyd ‘n stewige voorsprong van 15-5 opgebou. Dit was duidelik indien die Ligbloues teen die trant sou voortspeel of tot nog ‘n hoër rat sou oorskakel dat die Pumas diep in die moeilikheid sou wees. 

Die Pumas het egter hope durf gewys en terug geveg om slegs met 20-19 agter te loop. Die Ligbloues het egter genoeg gedoen om op die ou einde as oorwinnaars van die veld te stap. Die span se agtsteman, Jared Kleynhans, het met twee van sy kraglopies oor die doellyn gebars. Die kantman Juandré Kleynhans is egter na afloop van die wedstryd vir sy vertoning as Speler van die Wedstryd aangewys. 

Die bepalings vir Dag 2 is (26 Junie): 

A-veld

09:00 – Griffons vs Sharks
10:20 – Suidwestelike Distrikte vs Goue Leeus BO
11:40 – Vrystaat vs Valke XV
13:00 – Valke vs Blou Bulle 
14:20 – Boland vs Westelike Provinsie

B-veld

09:00 – Goue Leeus vs Luiperds
10:20 – Oostelike Provinsie vs Pumas

Puntemakers: 

Valke 69 (41) – Drieë: Kevin Ngwenya (3), Chezlin Oosthuizen (2), Branden Tutubala (2), Lincoln Doman, Shelden Human, Theuns Botha, Lorenzo Thompson. Doelskoppe: Oosthuizen (6), Michael Dicks. Luiperds 10 (10) – Drieë: Lucky Tjalentjane, Amogelang Gorekwang.

Boland 42 (14) – Drieë: William Khoba (2), Jascy-Lee Prins, Hendrik Johnson, Shadley Gertze, Marlon Thabo. Doelskoppe: Gertze (6). Suidwestelike Distrikte 7 (0) – Drie: Breyton Raubenheimer. Doelskop: Keanan Johnson. 

Vrystaat 38 (19) – Drieë: Simangaliso Ngozo, Katlego Molete, Kitso Molefe, Luciano du Preez, Sam Goodman, Fabian van Staden. Doelskoppe: Katlego Molete (4). Goue Leeus 14 (7) – Drieë: Dylan Dowie, Medes Vangu. Doelskoppe: Dowie (2).


Blou Bulle 27 (17) –
Drieë: Jared Kleynhans (2), Juandré Kleynhans, Morné Ludeke. Doelskoppe: Luan Gouws, Ludeke. Strafdoel: Gouws. Pumas 19 (5) – Drieë: Ruan Geinart, JP van Wyk, Bennedict Maseko. Doelskoppe: Stephan Slabbert (2). 

Westelike Provinsie 7 (0) – Drie: Bevan Trichardt. Doelskop: Joshua Visagie. Oostelike Provinsie 7 (7) – Drie: Abel Goeda. Doelskop: Goeda.

Valke XV 28 (8) – Drieë: Xolani Plaatjie, Shaun van Wyk, Matthews Malema, Tiaan Richards. Doelskop: Farai Moyo. Strafdoele: Moyo (2). Sharks 21 (7) – Drieë: Dylan Conradie, Kyle Janse van Vuuren, Splelele Chamane. Doelskoppe: Janse van Vuuren (2), Anele Banda.

Goue Leeus BO 34 (17) – Drieë: Shamiso Maseko (2), Dean Cloete, Thabo Radebe, Tristan Bester, Marcu Retief. Doelskoppe: Bester (2). Griffons 22 (10) – Drieë: Ruben Steenkamp (2), Baps Mongana, Abbey Seseane. Doelskop: Seseane. 

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.