Dis Dawid teen Goliat in die halfeindrondes van die Skild-afdeling
Die tyd het aangebreek vir die bestes om mekaar te pak in die uitspeelrondes van die SDC Noordvaal Cup Skild-afdeling.
Heidelberg Volkskool durf die rit Pretoria toe aan om swaarde met die gunstelinge tussen die twee, Oos-Moot te kruis. Oos-Moot beleef tot op hede ‘n droom seisoen en het nog net in ‘n naelbyt stryd teen Secunda in dié reeks vasgeval, waar hy die knie moes buig met ‘n telling van 41-44 op tuisbodem.
In die vroeëre kragmeting teen die Volkies kon Oos-Moot daarin slaag om met ‘n punt as oorwinnaars met ‘n telling van 33-32 uit die stryd te tree.
Die tuisspan was intussen die slagoffer van die beseringsduiwel en moes hy klaar kom sonder sekere sleutelspelers, waarvaan die spelskeper en agtsteman, Gert-Hendrik Grobler, waarskynlik die grootste terugslag is. Dit blyk egter of Grobler se afwesigheid ekstra wind in sy mede-gevaarmanne, Wade Williams en Ryan Scott, se seile blaas.
Die duo het uitstekende vertonings in Oos-Moot se laaste twee vertonings opgelewer en albei sal beoog om hul goeie spelpeil in Saterdag se halfeindstryd voort te sit.
Agterlangs sal die staatmaker, Charl van der Sluis (losskakel) saam met die gevaarman aan sy buitekant, Ruwan Allen (binnesenter) weer te siene wees. Allen se vermoë om swakpunte in enige verdedigingslinie uit te wys, sal die Volkie-verdedigers sonder twyfel op hulle hoede laat wees.
Aan die kant van Volkies het sy afrigter, Louwtjie Dalhouzie, nie minder as tien veranderinge gemaak aan die span wat verlede week teen Secunda vasgeval het. Die grootste daarvan is die posisionele skuif van Kayle Venter. Die gevaarlike Venter, skuif vanaf heelagter om sy posisie op buitesenter in te neem, wat die Volkies nog meer skietgoed in die middelveld sal gee.
Voorlangs skuif verlede week se slotpaar, Daniel Munro en Joshua Munro, onderskeidelik na oop- en toekant-flank om plek te maak vir Wilco Janse van Rensburg en Dyllan Stuart wat sal beoog om die fisieke stryd wat voorlangs wag, te oorheers. Die Munro-duo se skuif na die kant van die skrum beloof om vrugte af te werp, siende dat albei uitstekend is by die afbreekpunte.
Met Heidelberg wat die stryd betree as die buiteperd en Oos-Moot wat sy lippe aflek vir nog ‘n moontlike kans teen Secunda beloof hierdie stryd tussen Dawid en Goliat om ‘n volle 70-minute van klipharde rugby te wees.
Secunda sal hoop om een van die laaste hekkies wat tussen hom en die eindstreep staan te oorkom wanneer hy die buiteperd, Ligbron Akademie, Saterdag in Secunda pak.
Die onoorwonne span van Secunda is die gunstelinge om die beker huis toe te bring, maar gaan op sy hoede moet wees teen ‘n gevaarlike Ligbron-span. Die span van Ermelo het al vier sy laaste kragmetings gewen. Dit sluit ‘n intrukwekende oorwinning teen mede halfeind-finaliste Heidelberg Volkskool waar hy met ‘n telling van 31-17 geseëvier het.
Secunda verwelkom sy vurige haker, Henrico Fourie, en gevaarman in die 13-trui, Tyron Moolman, terug in die beginspan. Hulle sal hoop dat albei die spelpeil wat hul tot dusver getoon het kan voortsit om ‘n plek in die eindstryd te verseker.
Die besoekers het besluit om die vetroue in te span, wat hulle so ver kon bring, te behou en durf Secunda met ‘n onveranderde span aan.
Die Spanne:
Oos-Moot vs Heidelberg Volkskool in Pretoria om 12:45:
Oos-Moot: 15 Jeandré de Bruyn, 14 Ewald Wolmarans, 13 Stian Oosthuizen, 12 Ruwan Allen, 11 Tapiwa Rwafa, 10 Charl van der Sluis, 9 Jacques Benadé, 8 Gert-Hendrik Grobler, 7 Wade Williams, 6 Nathan Kleynhans, 5 Jaydon Botha, 4 Deon Badenhorst, 3 Christian Smith, 2 Ryan Scott, 1 Braam Bezuidenhout.
Heidelberg Volkskool: 15 Joshua Booysen, 14 Jeandré Kleinhans, 13 Kayle Venter, 12 Ruduwaan Rodgers, 11 Rhys Thompson, 10 Keane Duckitt, 9 AJ Engelbrecht, 8 Daniel Jordaan, 7 Joshua Munro, 6 Daniel Munro, 5 Dyllan Stuart, 4 Wilco Janse van Rensburg, 3 Handré Strydom, 2 Dian la Grange, 1 Botsi Motsepe.
Secunda vs Ligbron in Secunda om 11:00:
Secunda: 15 Tiaan Delarey, 14 Ryan Erasmus, 13 Tyron Moolman, 12 Tian Steyn, 11 Luan Lottering, 10 Jean du Toit, 9 Jarno Haaroff, 8 Mike Pretorius, 7 Hanré Hattingh, 6 Sibusiso Ngubane, 5 Armand Kwooitz, 4 Bakkies Bezuidenhout, 3 Tumelo Mtshali, 2 Henrico Fourie, 1 Jayden Schnuir.
Ligbron: 15 Khaya Mahlangu, 14 Landulwasi Nkosi, 13 Qgawe Lukhele, 12 Sithelo Zikhali, 11 Asanda Mabuza, 10 Anele Ngwenya, 9 Diean Swart, 8 Kyle Alves, 7 Vannie Fourie, 6 Ayanda Mkwebane, 5 Sinothele Madonsela, 4 Arno Koekemoer, 3 Mpho Ngwenya, 2 Henco du Bruyn, 1 Tiaan Venter.