SuperSport Schools Plus

Dis 18-elk in Rustenburg


FOTO: Anton de Villiers

Dit het ‘n naelbytstryd in die NWU Prestige-reeks afgegee tussen Hoërskool Rustenburg en ‘n begeesterde Hoërskool Wesvalia, met albei spanne wat 18 punte op die telbord gehad het toe die eindfluitjie in Rustenburg geblaas het.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools – Skakel na die wedstryde.

Daar was bitter min wat die twee spanne deur die loop van die wedstryd kon skei. Die enigste wesenlike verskil was Philip Janse van Rensburg, Wesvalia se binnesenter, se drie wat sy span teen rustyd met vyf punte laat voorloop het.

Wesvalia se kaptein, Hanré Venter, het oudergewoonte met sy voorbeeld gelei, en hy is goed deur die ramkatflank, Francois Dumond, ondersteun. Dit het meestal twee of meer verdedigers geneem om Dumond plat te trek, en sy aanvallende lopies het hom ook ‘n drie in die sak besorg.

Die Rusties se regtervleuel, Christiaan van der Berg, het sy span se rekening geopen met ‘n drie, na ‘n briljante lopie, en sy kollega op linkervleuel, Zulu Khumalo, het kort voor die einde die skare in vervoering gehad met ‘n drie van sy eie.

Die plaasvervanger-stut, Janco Pretorius, het ‘n barshou gespeel, ook ‘n drie gedruk en moes beslis die Rusties se breiers beïndruk het met sy kranige spel.

Hoërskool Lichtenburg het hul staal tentoongestel deur Hoërskool Pietersburg met ‘n telling van 28-11 te troef. Skrumskakel, Willem van Niekerk, was op sy stukke en het verseker dat die Liggies ‘n gesonde hoeveelheid balbesit oordeelkundig kon benut, wat ook gelei het tot ‘n drie deur heelagter, Luan Snyman. Van Niekerk was ook die eerste lid van sy span wat agter die besoekers se doellyn ‘n draai gaan maak het.

Hoërskool Marais Viljoen se kaptein en losskakel, Rekkie Gerber, was uitstekend in sy span se oorwinning van 33-21 oor Hoërskool Jeugland. Gerber is vroeg reeds in die seisoen een van groot aanspraakmakers op die Cravenweekspan se nr. 10-trui. Sy kalmte en visie het aan die span van Alberton hope tyd besorg om venynige aanvalle agterlangs te loots.

Slot, Rynier Welgemoed, was ‘n reus voorlangs, met sy fisiese teenwoordigheid wat Jeugland dikwels laat steier het.

‘n Tweekuns deur Potchefstroom Gimnasium se buitesenter, David Ndala, het grootliks daartoe bygedra dat sy span vir Hoërskool Die Anker ‘n derde nederlaag in ‘n ry kon toedien. Die telling, in ‘n uiters fisieke stryd, was 12-5 in die Potchefstromers se guns.

Hoërskool Hugenote was met vyf punte té sterk vir Hoërskool Klerksdorp in Springs. Ruan van Biljon, Hugenote se blits op buitsenter, het vroeg-vroeg die tuisspan se bedoelings duidelik gemaak toe hy ‘n ondernemende stukkie spel afgerond vir sy span se eerste drie.

Sam Schoeman, Hoërskool Montana se linkervleuel en puntemasjien, het twee drieë in sy span se sege van 35-15 teen Hoërskool Oosterlig aangeteken, terwyl Zulu Mona se puik driekuns die hoogteount was in Hoërskool Zwartkop se oorwinning van 32-23 oor Potchefstroom Volkskool. Mona se bydrae van 15 punte het ook aan hom die Speler van die Wedstryd-toekening besorg.

Puntemakers:

Hoërskool Rustenburg 18 (0) – Drieë: Christiaan van der Bergh, Janco Pretorius, Zulu Khumalo. Strafdoel: Jayden Meyer. Wesvalia 18 (5) – Drieë: Philip Janse van Rensburg, Francois Dumond. Doelskop: Eduard Meyer. Strafdoele: Meyer, Rickardt van Heerden.

Lichtenburg  28 (16) – Drieë: Willem van Niekerk, Regardt Jacobsz, Luan Snyman. Doelskoppe: Albert Joubert (2). Strafdoele: Joubert (3). Hoërskool Pietersburg 11 (6) – Drie: Dustin Terblanche. Strafdoele: Hanno van Zyl (2).

Marais Viljoen 33 – Drieë: Rynier Welgemoed, Bjorn Pieterse, Brandon Els, Rekkie Gerber, Dian Scheepers. Doelskoppe: Rekkie Gerber (4). Jeugland 21.

Potchefstroom Gimnasium 12 – Drieë: David Ndala (2). Doelskop: Jhanco de Beer. Die Anker 5 – Drie: Troy Joubert.

Hugenote (Springs) 24 – Drieë: Ruan van Biljon, Vian van Dyk, Tyron Hand, Luhan Pretorius. Doelskoppe: Corne Pretorius (2). Hoërskool Klerksdorp 19 – Drieë: Tiaan Koen, Diwan Labuschagne, Winton Abrahams. Doelskoppe: Deacon Loots (2).

Montana 35 – Drieë: Sam Schoeman (2), Reuben van Hammersveld, Dieter Scheepers, JF Venter. Doelskoppe Ruwald Goosen (2), Goosen (2). Oosterlig 10 – Drie: Dylon Jordaan. Doelskop: Tristan Else. Strafdoel: Jaydon Bouwer.

Zwartkop 32 – Drieë: Zulu Mona (3), Denilson Metcalfe, Luhardt Booyens. Doelskoppe: Luhardt Booyens (2). Strafdoel: Booyens. Potchefstroom Volkskool 23.

Ander spanne:

o. 16: Rustenburg 17, Wesvalia 17; Pietersburg 41, Lichtenburg 5; Marais Viljoen 17, Jeugland 15; Potchefstroom Gimnasium 6, Die Anker 3; Hugenote (Springs) 43, Hoërskool Klerksdorp 7; Montana 41, Oosterlig 13; Zwartkop 31, Volkskool Potchefstroom 13.

o. 15: Rustenburg 19, Wesvalia 0; Pietersburg 17, Lichtenburg 6; Marais Viljoen 24, Jeugland 14; Die Anker 51, Potchefstroom Gimnasium 7; Hoërskool Klerksdorp 24, Hugenote (Springs) 14; Montana 24, Oosterlig 5; Zwartkop 31, Potchefstroom Gimnasium 7.

o. 14: Rustenburg 19, Wesvalia 18; Pietersburg 14, Lichtenburg 3; Marais Viljoen 22, Jeugland 7; Potchefstroom Gimnasium 17, Die Anker 10; Hoërskool Klerksdorp 46, Hugenote (Springs) 5; Montana 44, Oosterlig 0; Zwartkop 43, Potchefstroom Gimnasium 13.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.