SuperSport Schools Plus

Die Plaat haak vas op 24-24

By Franco Oberholzer , in Rugby | News , at 2024-08-25 Tags: , , , , , ,

FOTO: Verskaf deur HTS Middelburg se Facebook-blad.

Die groot skare in Vanderbijlpark kon nie vir ‘n aanskouliker eindstryd gevra het nie.

Herleef al die Noordvaal Plaat-aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com) 

Toe die eindfluitjie blaas was daar absoluut niks te kies tussen Hoërskool Transvalia en die Hoër Tegniese Skool Middelburg nie en het die finaal in die SDC Noordvaal Cup se Plaat-afdeling tussen die Ligbloues en Rooi Bulle uiteindelik met 24-24 gelykop geëindig, met die spanne wat die titel deel.

Dit was egter so hittete of die Rooi Bulle het met die kroon na Middelburg teruggekeer. Dit was slegs danksy Valia se woelwater-haker, Jayden McPearson, se drie ná die sirene en skerpskutter, Dylan Steinman, se akkurate korrelwerk pale toe dat sake in die 70ste minuut gelyk getrek is.

McPearson het nie slegs sy span van ‘n nederlaag gered nie, maar was regdeur die kragmeting uitstaande. Heelagter, Siya Khambule, en binnesenter, Brandon-Lee Smit, het ook spesiale vertonings gelewer in hul laaste uitstappie in die ligbloutrui.

Die Rooi Bulle het ‘n taamlike hupstoot gekry op die vooraand van die wedstryd met ster-senter, Johnny dos Santos, wat die groenlig ontvang het om vir ‘n laaste keer in die middeveld uit te draf. Dos Santos was oudergewoonte dodelik op die aanval en sy tweestryd met Smit sal nog lank om ‘n paar braaivleisvure bespreek word.

Die Middelburgers se heelagter, Jaque Stassen, het self ‘n goeie dag met die stewel beleef en drie strafdoele en ‘n doelskop deur die pale laat seil.

In die o.16-eindstryd het Hoërskool Zwartkop se Regan Blignaut vir die Kempies se harte gebreek. Blignaut het, met tyd verstreke, gedruk om sake gelyk te laat trek, voordat losskakel Tilon Baron met die doelskop geslaag het om aan die Zwarries ‘n oorwinning van 27-25 oor Hoërskool Kempton Park te besorg.

Dit het ‘n behoorlike wiplankstryd afgegee en ‘n uitstekende voorskou gebied vir wat nog moes kom. Die Kempies se losskakel, Ben Steyn, het die toutjies uitstekend getrek agterlangs en ook met twee doelskoppe en twee strafdoele geslaag.

Niemand het beter vertoon in die o.15-eindstryd as Hoërskool Middelburg se Kgontse Masilela nie. Masilela het vyf strafdoele deur die pale gejaag om ál 15 die Middies se punte aan te teken en dit was genoeg om vir Transvalia met 15-10 te troef en as kampioen gekroon te word.

Valia se jonges het nietemin daarin geslaag om Hoërskool Oos-Moot punteloos te hou in die tweede helfte en die o.14-finaal met 15-8 te wen. Vaskopstut, Wian Bezuidenhout, en agsteman, JP Pieterse, het elk ‘n belangrike drie gedruk, terwyl losskakel, Bokang Mabina met ‘n doelskop en strafdoel geslaag het om die titel buite die bereik van die Oosies te hou.

Die skool van Vanderbijlpark het die Plaat-reeks op ‘n hoë noot afgesluit deur koning te kraai in die o.14 A-, o.15 B-, o.16 B- derdespan-, tweedespan- en eerstespanliga. Daarmee het Valia ses van die nege titels in die reeks ingepalm en skuif dus volgende jaar op na die Beker-afdeling in die plek van Hoërskool Marais Viljoen, wat afskuif Plaat toe.

Puntemakers: 

Transvalia 24 (10) – Drieë: Jayden McPearson, Anro Nagel, Brandon-Lee Smit. Doelskoppe: Dylan Steinman (3). Strafdoel: Steinman. HTS Middelburg 24 (9) 0 – Drieë: Dirk du Plooy, Luan Graaf. Doelskop: Jaque Stasen. Strafdoele: Stassen (3). Skepdoel: Gerry Gendall.

Ander spanne: 

o.16

Zwartkop 27 (13) – Drieë: Christiaan de Vries, Mikka Allers, Regan Blignaut. Doelskoppe: Tilon Baron (3). Strafdoele: Baron (2). Hoërskool Kempton Park 25 (6) – Drieë: Luca du Plooy, Arno Hubsch, Ruan Opperman. Doelskoppe: Ben Steyn (2). Strafdoele: Steyn (2).

o.15

Hoërskool Middelburg 15 (6) – Strafdoele: Kgontse Masilela. Transvalia 10 (5) – Drieë: Matthew van Deventer, Waldo McLean.

o.14

Transvalia 15 (8) – Drieë: Wian Bezuidenhoud, JP Pieterse. Doelskop: Bokang Mabina. Strafdoel: Mabina. Oos-Moot 8 (8) – Drie: Willie van Niekerk. Strafdoel: Jordan Liebenberg.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.